Gutenberg se drukpers, wat teen 1436 in werking gekom het, was destyds so revolusionêr soos Instagram en Twitter vandag
Deur JOHAN MYBURG
Bykans 500 jaar gelede, op 31 Oktober 1517, het die Duitse kerkhervormer Martin Luther sy 95 stellings teen die kerkdeur van Wittenberg vasgekap. Dié daad word allerweë as die begin van die Hervorming gereken. Dié gebeurtenis word vanjaar wêreldwyd op talle maniere feestelik gedenk. In die VSA het vier kunsmuseums, dié van New York, Atlanta, Minneapolis en Los Angeles, uitstallings aangebied wat lig op die Duitse kuns van die Renaissance en die Hervorming werp.
Die uitstallings het reeds in die VSA tot ’n einde gekom, en word gereed gekry vir die spesiale nasionale uitstallings wat vir later vanjaar in Duitsland beplan word. Die Los Angeles-kunsmuseum se uitstalling, Renaissance and Reformation: German Art in the Age of Dürer and Cranach, het gefokus op die veranderinge wat die (kuns)wêreld in die 15de en 16de eeu ondergaan het. Vir dié doel is ’n aantal Europese kunswerke wat verder as Christophorus Columbus se ontdekking van Amerika in 1492 terugdateer na Kalifornië geneem.
Die staatsmuseums in Berlyn, München en Dresden het tot hierdie uitstalling bygedra, wat veral lig gewerp het op die jare tussen 1460 en 1580, die era waartydens ingrypende veranderinge op die vlak van die filosofie, wetenskap en godsdiens plaasgevind het en tegelykertyd deur burgeroorloë en plae gekenmerk is. Meer as 100 werke – skilderye, tekeninge, beeldhouwerke sowel as enkele dekoratiewe artikels – van kunstenaars soos Albrecht Dürer, Lucas Cranach, Hans Holbein, Mathias Grünewald, Tilman Riemenschneider en Hans Brosamer – is ingesluit. In teenstelling met die kerk van die Middeleeue wat nog grootliks gebruik gemaak het van monnike wat manuskripte met die hand oorgeskryf het, het Luther van die jongste tegnologie van sy dag gebruik gemaak.
LEES OOK: Kuns: Francis Bacon
Gutenberg se drukpers, wat teen 1436 in werking gekom het, was destyds so revolusionêr soos Instagram en Twitter vandag. Luther het op die mag van die gedrukte woord en illustrasies gesteun om sy boodskap uit te dra. Dit was veral Brosamer wat groot, goedkoop plakkate met karikatuuragtige uitbeeldings gedruk het wat almal onmiddellik kon begryp as propaganda teen die Rooms-Katolieke Kerk. Met dié drukkuns het die moderne media-era in wese aangebreek. Gutenberg se drukkuns het wye verspreiding moontlik gemaak – onder meer van die Bybel wat voorheen net in Grieks en Latyn beskikbaar was.
Die eerste groot mediakunstenaar was Dürer, wat met sy vernuftige gravures en houtsneedrukwerk veel meer mense bereik het as wat ’n kunstenaar met skildery of tekeninge dit kon regkry. Waaraan hy uiting gegee het, was die strewes van die Renaissance-mens. Die Hervorming het die bestaande wêreldorde beduidend verander en so ook die verhouding tussen burger, staat en kerk en die algemene begrip van vryheid. Dit was per slot van rekening nie net die kerk wat deur Hervorming uitgedaag is nie, maar ook persoonlike vryheid en verantwoordelikheid.
Dié veranderinge het kunstenaars eweneens geregistreer. Namate die kerk sy houvas oor kunstenaars verloor het, het kunstenaars nuwe borge gaan soek. En in die proses het ’n nuwe blik op die godheid tot stand gekom. Nuwe maniere van uitdrukking is ondersoek, soos byvoorbeeld portretkuns, wat aan die kuns van die Renaissance en Hervorming ’n nuwe dimensie gegee het. In 1532 het Cranach die Ouere die befaamde portret van Luther geskilder. Cranach en sy seun Lukas het ’n florerende ateljee gehad en verskeie portrette van Luther en sy tydgenote gemaak en op dié manier ’n gesig aan die godsdiensrevolusie tussen die Middeleeue en die moderne era gegee.