Gerhard Richter het nuwe lewe en nuwe seggingsmoontlikhede in die skilderkuns gewek
Deur JOHAN MYBURG
Toe Gerhard Richter se Abstrakte beeld in 2015 vir iets soos 30,4 miljoen pond op ’n veiling in Londen verkoop is, was dié skildery die kunswerk waarvoor die meeste nog op ’n veiling opgedok is. Bygesê, deur ’n kunstenaar wat nog in die lewe is.
Hoewel die skildery volledig abstrak is, soos die titel aandui, speel dié Duitse kunstenaar tussen abstraksie en realisme. In plaas daarvan om hom in een van die groot kunsbewegings van die 20ste eeu te wil plaas, vergestalt sy werk eerder ’n persoonlike verwerking van abstrakte ekspressionisme, popkuns, minimalisme en konseptuele kuns. Bowenal is dit die beeld, die gedaante, wat sy verbeelding deurentyd bly aangryp en derhalwe speel fotografie ’n belangrike rol in sy werk.
Hy maak ruim gebruik van foto’s in koerante en sy gesin se albums word ook dikwels ontgin. “Wat ek in elke skildery probeer doen, is … om die lewende en die werkbare byeen te bring, en daarmee saam die moeilikste en teenstrydigste elemente, met die grootste vorm van vryheid,” het hy by geleentheid oor sy werk opgemerk. Die 87-jarige Richter se bekendste werk gee juis uitdrukking hieraan: Ema (Naakfiguur op ’n trap) van 1966, ’n skildery wat in Keulen se Museum Ludwig hang. Dié portret wat al by geleentheid oppervlakkig “die Mona Lisa van Keulen” genoem is, het meer as 50 jaar nadat dit geskilder is, steeds ’n geheimsinnigheid wat ’n mens keer op keer aantrek.
LEES OOK:Kuns: Oceania
Soos Leonardo se portret van Lisa Gherardini in die Louvre word Richter se Ema ook agter dik veiligheidglas uitgestal – nadat ’n man in 1981 met ’n skerp voorwerp ’n sny van 20 cm in die doek aangebring het. Richter se skildery is op ’n foto van sy eerste vrou, Marianne (met die bynaam Ema), geskoei. Sy was in daardie stadium twee maande swanger en dié werk is een van sy intiemste skilderye. Sy is tegelyk naak én versluier deur Richter se tegniek: om met ’n droë kwas oor die pas geskilderde oppervlak te vee. Die effek is dié van ’n foto wat nie in fokus is nie, wat die gestalte van die vrou aan die een kant enigmaties maak en aan die ander kant onbereikbaar en onpeilbaar.
Met dié benadering het Richter in die 1960’s begin en fotorealistiese skilderye van swart-wit foto’s in skakerings van grys gemaak – waarna al as fotografiese impressionisme verwys is. Aan die een kant het dit “foto-kwaliteite”, maar aan die ander kant was die kunstenaar se skilderhand heel duidelik. Met dié doeke met hul swaar tekstuur het Richter abstraksie moeiteloos in sy figuratiewe werk ingebring, en ewe gemaklik tussen die twee bly beweeg. Op dié monochromatiese werk het sy geometriese “kleurkaarte” gevolg.
Mens kan kwalik na Richter se Ema kyk sonder om die verwysing na Marcel Duchamp se Naakfiguur wat by die trappe afkom van 1912 voor die geestesoog te sien. Teenoor Duchamp se masjienagtige figuur skilder Richter ’n sensuele, selfs klassieke, figuur. Richter is ’n kunstenaar wat in ’n tyd wat as die “dood van skilderkuns” gesien is (wie het nog realistiese portrette in die 1960’s geskilder!) nuwe lewe en nuwe seggingsmoontlikhede gewek het wat ’n magdom kunstenaars (ook eietydse Suid-Afrikaanse kunstenaars) op koers gesit het. As daar een ding is wat Richter vermag het, is dit om die krag van die figuratiewe skilderkuns te herbevestig.