‘Ek het die lewenslig in ’n verwoeste orde, tussen verwoeste mense, in ’n verwoeste gemeenskap aanskou’
Deur JOHAN MYBURG
Die Duitse kunstenaar Georg Baselitz was sewe jaar oud toe die Tweede Wêreldoorlog tot ’n einde gekom het, maar die effek van die oorlog het Baselitz (80) altyd bygebly. “Ek kon nooit van Duitsland wegkom nie,” het hy by geleentheid gesê, “… of daarvan om Duits te wees nie.” In ’n latere onderhoud het hy hierop uitgebrei: “Ek het die lewenslig in ’n verwoeste orde, tussen verwoeste mense, in ’n verwoeste gemeenskap aanskou. Ek wou nie orde herskep nie. Ek het genoeg van sogenaamde orde gesien. My plig was om alles te bevraagteken …” En dit het Hans-Georg Kern, gebore in Deutschbaselitz, wat ná die oorlog in Oos-Duitsland sou val, van jongs af en met mening gedoen.
Hy het sy van na Baselitz verander (wat hy sy “nom de guerre” genoem het) om sy ouers wat onderwysers was, te beskerm nadat hy as gevolg van “politieke onvolwassenheid” uit ’n Oos- Duitse kunsskool geskop is. Die sosialistiese realisme van Oos- Duitsland het hom nie aangestaan nie, maar net so min die abstraksie wat hy in Wes-Berlyn teëgekom het. Aweregs soos hy is, het Baselitz teruggekeer na die Ekspressionisme wat die Nazi’s so gehaat het (hulle het daarna as “ontaarde kuns” verwys en dit voor die voet afgekeur) en die fokus op die menslike figuur geplaas.
LEES OOK: Kuns: Sol LeWitt
Maar selfs vir die na-oorlogse Duitsland was Baselitz se eerste solo-uitstalling in Wes-Berlyn in 1963 nie minder van ’n dilemma nie. Twee van die werke is uit die galery verwyder omdat dit glo obseen was. Een daarvan, vry vertaal as “Die groot nag in die drein af”, is inderdaad veel skokkender as wat dit ooit immoreel kan wees. Dié skildery hang deesdae in die Museum Ludwig in Keulen. “Mooi” is Baselitz se figure gewis nie. Maar hoe kan ’n mens ná die afgryse van die oorlog dit enigsins regkry om menslikheid in die skilderkuns te vier? Sy skilderye van helde – dink maar aan Rebel (1965) in die Tate-versameling – lyk na lomp reuse in vodde geklee. Rebel is juis die teenhanger van die übermensch, daardie ideale Duitser waarmee Hitler ’n Derde Ryk wou vestig.
Baselitz se rebel is wankelmoedig, gewond en alleen in ’n ontredderde wêreld. Die een hand hou iets van ’n vaandel vas, het Baselitz oor dié skildery gesê, terwyl die ander hand in ’n verband is. Die enigste ander herkenbare struktuur teen die somber agtergrond is die brandende huis. Van die romantiese held het niks oorgebly nie. Asof hy onmenslikheid des te sterker wou beklemtoon, het hy later figure onderstebo geskilder – asof daar kwalik ’n verskil tussen mens en vleis aan slagtershake is.
Baselitz se kuns moet gelees word teen die agtergrond van sy nuk om te bevraagteken, soos hy self aangedui het. In 1980 het hy sy eerste beeldhouwerk, Model vir ’n beeldhouwerk, op die Venesiese Biënnale vertoon. Weer eens was daar omstredenheid. ’n Mens hoef nie ’n Nazi te wees om die “Sieg Heil”-saluut, eie aan die navolgers van Hitler, in die beeld te herken nie. Ook nie die gebruik van rooi en swart nie. Baselitz het aangevoer dit was nooit sy bedoeling nie. ’n Paar jaar gelede het hy dié nuk weer gestand gedoen toe hy in ’n onderhoud met The Guardian gesê het: “Vroue kan nie juis verf nie. Dit is ’n feit.” En weer was hy in die kern van ’n storm.