‘Mans wat vroue nie hul plek gun nie is presies die rede waarom ons ’n Fearless Girl nodig het’
Deur JOHAN MYBURG
Een oggend, kort voor Kersfees in 1989, het New Yorkers ’n onverwagte Kersgeskenk gekry. Neffens die Kersboom van 18 m in die middel van Broad Street voor die New Yorkse aandelebeurs in Manhattan is ’n bronsbeeld van ’n bul, gereed om te storm, oornag opgerig.
Die oprigting van die beeld was vir die beeldhouer, die Italiaans gebore Arturo Di Modica, ’n daad van guerrilla-kuns – om oornag en sonder opdrag of toestemming ’n kunswerk in die openbaar op te rig (soos wat Banksy muurskilderye oornag op mure aanbring). Di Modica se oogmerk met dié beeld, wat die naam Charging Bull gekry het, was om optimisme en krag in ’n tyd van teenspoed te verbeeld – 1989 was die tyd toe die finansiële markte in duie gestort het. Hou ’n mens in gedagte dat die finansiële wêreld van markte in terme van “bulls” en “bears” praat, kry dié beeld ’n verdere betekenis.
Die beeld wat drie ton weeg en destyds 350 000 dollar gekos het om te maak en waarvoor Di Modica opgedok het, is oorspronklik aan die stad “geleen”, maar intussen het dié beeld deel van die Manhattan-omgewing geword. Toeriste poseer graag saam met, langs en veral onder die beeld vir foto’s. Daar was destyds ook kritiek vir dié beeld, veral vanuit ’n teenkapitalistiese perspektief. Maar die groot bohaai het vroeër vanjaar gekom toe Kristen Visbal, ’n Amerikaanse kunstenaar wat in Uruguay gebore is, op internasionale Vrouedag in Maart Fearless Girl, ’n bronsbeeld van 130 cm reg teenoor die stormende bul opgerig het – as ’t ware in die pad van die bul. Visbal het gesê haar beeld is ’n simbool van vrouekrag en moontlikheid.
LEES OOK: Kuns: Na die tweede Wêreldoorlog
Sy wou met haar beeld, soos Di Modico met syne, eweneens ’n boodskap die wêreld instuur: een van genderverskeidenheid ten opsigte van werksgeleenthede en om maatskappye aan te moedig om vroue as raadslede te verkies. Di Modica was briesend. “Sy is besig om my bul aan te val,” het hy gereageer en Fearless Girl as ’n belediging vir sy beeld beskryf. By monde van sy prokureurs het Di Modica geëis dat Visbal se beeld geskuif moet word op grond van die feit dat Fearless Girl sy Charging Bull se artistieke integriteit verdraai en “van ’n simbool van welvaart en krag ’n boef maak”. Di Modica se sterkste argument is dat sy kopiereg aangetas is in dié opsig dat die meisie se kordaat houding vlak voor die bul die betekenis van sy kunswerk verander. Hoewel daar aanduidings is dat Di Modica volgens Amerikaanse kopieregwetgewing dalk nie die reg aan sy kant het nie, bestaan die moontlikheid dat hy wel kan eis dat Visbal se beeld verwyder moet word, wat ’n hofsaak tot gevolg sal hê.
Visbal meen sy het net soveel reg as Di Modica om ’n beeld op te rig. Wat ’n mens in gedagte moet hou, is dat ’n kunswerk ’n lewe van sy eie aanneem sodra dit uit die kunstenaar se hande is. En dat die sogenaamde intrinsieke betekenis van ’n kunswerk besonder arbitrêr is. Die konteks waarbinne die kunswerk staan, bepaal grootliks die betekenis van die werk. As Di Modica se beeld byvoorbeeld in Pamplona in Spanje sou staan, sou dit ’n heel ander betekenis oproep. Intussen, terwyl regsgeleerdes hul argumente weeg, het Bill de Blasio, New York se burgemeester, onlangs met ’n twiet sý stuiwer in die armbeurs gegooi: “Mans wat vroue nie hul plek gun nie is presies die rede waarom ons ’n Fearless Girl nodig het.”