Ek het geen hoogdrawende idees omtrent die kuns nie. Die vloek van wat vaagweg “moderne kuns” genoem word, is sy gebrek aan lirisme’
Deur JOHAN MYBURG
In ’n opstel wat in 1972 in ’n dagblad verskyn het en in 1979 in die bundel Oor skilders en skrywers opgeneem is, maak J Du P Scholtz dié opmerking in ’n voetnoot: “Die skrywe van ’n behoorlik gefundeerde studie oor die lewe en werk van Enslin du Plessis is een van die dringendste noodsake in ons nog grotendeels braakliggende Suid-Afrikaanse kunsgeskiedenis.”
Iets wat sedertdien nie gebeur het nie. Hoewel skilderye van Du Plessis van tyd tot tyd in Suid-Afrika op die sekondêre mark verkoop word, is hy hier te lande grootliks vergete. Hy het so lank in Engeland gewoon dat hy hier minder bekend is en in die buiteland ook nie as Suid-Afrikaner bekend is nie. Enslin du Plessis is in 1894 op Standerton gebore en was as kind “intellektueel ongewoon nuuskierig”. Dit is die gewaarwording van DC Boonzaier, beroemde spotprenttekenaar wat Du Plessis as 17-jarige in Kaapstad ontmoet het. Boonzaier merk op dat Du Plessis goed ingelig was oor die letterkunde en die kunste.
Op 17 het hy Bernard Shaw reeds “verslind”. Du Plessis het voor die Eerste Wêreldoorlog ’n bietjie geskilder, maar het ná die oorlog as joernalis vir The Star in Johannesburg begin werk. In 1922 is hy Londen toe, waar hy vir die Argus-groep van Suid-Afrikaanse dagblaaie gaan werk het. Teen 1928 het hy in alle erns begin skilder en die volgende jaar is hy tot lid van die toonaangewende London Group verkies. In haar Art & Artists of South Africa verwys Esmé Berman na verskeie kunstenaars wat in die buiteland gaan woon het en só lank daar vertoef het dat hulle elders nie meer as Suid-Afrikaners bekendgestaan het nie. Hoewel Du Plessis kontak met sy vaderland behou het en dikwels hier uitgestal het, is heelwat van sy werk in Britse private versamelings opgeneem.
LEES OOK: Kuns: Johan van Heerden
In 1935 het hy aan die Wêreldtentoonstelling in Brussel in die afdeling vir Britse kuns deelgeneem. Hy het gunstige kommentaar van kritici soos Clive Bell in The New Statesman and Nation gekry. Bell se voorliefde vir die Post-Impressioniste het waarskynlik die deurslag gegee in sy taksering van Du Plessis se skilderye waarin die lig en liriese invloed van Édouard Vuillard en Pierre Bonnard deurgeslaan het. Toe die kunshistorikus Herbert Read in 1951 sy Contemporary British Art uitgegee het, het hy ’n skildery van Du Plessis ingesluit.
“Menslik” is die woord wat Berman gebruik om Du Plessis as kunstenaar mee te beskryf. Min geraak deur kunsteorie, het hy vir meer as 50 jaar sy skilderbenadering kwalik aangepas. In ’n briefwisseling met Harold Jeppe (weergegee in Ons kuns II) het Du Plessis homself só uitgelaat: “Ek het geen hoogdrawende idees omtrent die kuns nie. Die vloek van wat vaagweg ‘moderne kuns’ genoem word, is sy gebrek aan lirisme. Dit besit weinig liefde.
Dit is te teoreties, daar is te veel kunstenaars vandag wat, in hul naarstige speurtog na nuwe uitingsvorms, kontak met die gewone lewe verloor en van die mensdom afgesny is.” Du Plessis se skilderye is meestal voorstellings van ’n huislike omgewing met persoonlike voorwerpe, soms ’n blik op die buitewêreld deur ’n ruit. Dit is veral sy oog vir patrone en vorm – soos dit onder meer in meubels en tekstiele gestalte kry – wat opval. Sy kwaswerk is rats en kalligrafies, soos Berman daarna verwys. Van Enslin du Plessis se mooiste olieverfskilderye en akwarelle is egter volgens Scholtz in private versamelings in Engeland. Hy is in 1978 dood.