In Rome het El Greco van suiwer realisme begin wegbreek en ’n hoë premie op vorm geplaas; veral lang, uitgerekte lywe, dikwels ter wille van die visuele impak vervorm
Deur JOHAN MYBURG
Teen die middel van die 16de eeu was die jong Doménikos Theotokópoulos op die eiland Kreta heel bekend as skilder van ikone en portrette binne die post-Bisantynse kunsbenadering. Op 26 het hy heelwat opdragte vir skilderye vir Ortodokse kerke voltooi gehad en wou sy vlerke sprei. Kreta, voorheen deel van die Bisantynse Ryk, was in dié tyd 300 jaar lank al ’n kolonie van die welvarende Venesiese Republiek en in Venesië wou hy sy kunstenaarsideale gaan navolg.
Venesië het sedert die 11de eeu kunstenaars uit die Griekssprekende wêreld gelok, spesifiek vir die godsdienstige mosaïekwerk in die kerk van San Marco. Toe Theotokópoulos in Venesië aankom, was Titiaan, in sy tagtigerjare, die stad se vernaamste skilder. Wanneer presies hy sy bynaam gekry het, is nie seker nie, maar as El Greco (1541–1614), het “die Griek” alles wat hy van Titiaan se werk te siene kon kry, bestudeer. Dit was die meester se illusie van lig en kleur wat hom betower het, saam met die beweging in die werk van Tintoretto. In 1570 is hy Rome toe, deels omdat hy in Venesië nie ’n beskermheer se aandag kon trek nie.
In Rome is dit kardinaal Farnese wat hom in die huishouding van die Farnese palazzo opneem en El Greco kry die geleentheid om opdragwerke te skilder en ook die werk van Michelangelo te bestudeer. Arrogante jong man wat hy was, het El Greco nie ’n wag voor sy mond gehad nie, en toe hy Michelangelo en Rafael begin kritiseer, is hy twee jaar ná sy intrek uit die Farnese palazzo gegooi. In die vier jaar wat hy in Rome aangebly het, het hy met die Maniërisme van die laat-Renaissance in aanraking gekom – ’n beweging wat van suiwer realisme weggebreek het en ’n hoë premie op vorm geplaas het; veral lang, uitgerekte lywe, dikwels ter wille van die visuele impak vervorm.
Ná nog vier jaar in Rome is hy Toledo toe, een van die grootste en rykste stede in Spanje, waar hy hom gevestig het en heelwat opdragwerke van verskeie kerke in die stad gekry het. ’n Skildery soos die Begrafnis van graaf Orgaz (1586–‘88) is dalk ’n goeie aanduiding van die manier waarop El Greco se ondervinding as skilder en die invloede waaraan hy blootgestel is, tot sy skilderkuns bygedra het. Don Gonzalo Ruíz was ’n welgestelde man wat heelwat geld vir die kerk van Santo Tomé in Toledo gegee het. Die legende is dat twee heiliges, Stéfanus (links) en Augustinus (regs), hom by sy begrafnis in die graf laat sak het. Agter die liggaam van die graaf is ’n ry portrette van inwoners van Toledo – van kerklikes tot ’n selfportret van El Greco (reg agter Stéfanus) en ’n portret van sy seun, Jorge, wat na die lyk van don Ruíz wys.
Die invloed van ikoonskildering is onteenseglik teenwoordig, ook in die tweedeling van die skildery, met ’n aardse en ’n hemelse sfeer (laasgenoemde losser geskilder met die figure van Maria, Johannes die Doper en Christus verleng om iets van die bowêreldse domein te vergestalt). Aan die linkerkant sien mens onder andere Dawid met sy harp en Petrus met die sleutels; aan die regterkant Felipe II en pous Sixtus V. Onder Maria se voete is ’n engel besig om, in die tradisie van ikoonskildering, die gees van die oorledene in die vorm van ’n baba in die rigting van Christus te stuur, wat moet oordeel.