Die Venesiese Biënnale is al die Olimpiese Spele vir die kunste genoem
Deur JOHAN MYBURG
Elke tweede jaar sedert 1995 word die Venesiese Biënnale tydens die noordelike somer in dié Italiaanse waterstad aangebied. Dié biënnale kan gesien word as die bymekaarkomplek van die wêreld se toonaangewendste kontemporêre kunstenaars, kurators en kunsgeesdriftiges. Die Olimpiese Spele vir die kunste, is dit al genoem.
Vanjaar se biënnale loop in November ten einde. Veral om en by die opening in Mei is Venesië die ene doenigheid en is kunsskrywers en -kritici oorgehaal om kuns te bespreek, te beoordeel en te vergelyk. Een van die toonaangewende aanlynkunstydskrifte van ons tyd, Artsy, het die pawiljoene (die woord wat vir die nasionale tentoonstellings gebruik word) van vanjaar se deelnemende lande beoordeel en sy lys van 11 top-pawiljoene aangewys. Suid-Afrika se tentoonstelling met die werk van Candice Breitz en Mohau Modisakeng het die tiende plek behaal – voorwaar ’n pluimpie vir die Suid-Afrikaanse span met Lucy MacGarry en Musha Neluheni as kurators.
MacGarry was voorheen kurator van die Joburg Art Fair en Neluheni is waarnemende hoofkurator van die Johannesburg Kunsmuseum. Uit die 51 nasionale pawiljoene wat oor die Giardini en Arsenale versprei is, het Artsy die “hoogtepunte” gelys. Die Britse pawiljoen met die werk van Phyllida Barlow, aangebied onder die titel Folly en met Dephine Allier en Harriet Cooper as kurators, was volgens dié publikasie die hoogtepunt. Barlow se tamaai beeldhouwerke wat die besoekers verdwerg, ondersoek vol gens Artsy die netelige verhouding tussen die argitektoniese en die teatrale, tussen die werklike en die namaaksel. “Hoewel Barlow se beelde prettig kan wees, het dit ook die vermoë om skielik onheilspellend te word.”
LEES OOK: Cape Town Art Fair is Afrika se voorste vertoonkas vir kuns
Die Amerikaanse pawiljoen, met werk van Mark Bradford, aangebied as Tomorrow is another Day, het dié land se pawiljoen met sy kenmerkende Palladio-styl in ’n ruïne omskep. In dié konteks is na Bradford as die hedendaagse Jackson Pollock verwys – nie noodwendig omdat Bradford Pollock se “drup”-benadering eggo nie, maar juis omdat hy, soos Pollock, soveel van “aksie” maak; omdat hy soos Pollock sosiale praktyk deel van sy werkswyse maak deur onder andere met pleegkinders te werk. Die res van die lys sluit Korea, Frankryk, Italië, Oostenryk en Tunisië in. Switserland is in die 11de plek geplaas.
Oor Suid-Afrika se pawiljoen het Artsy na die twee afsonderlike werke van Breitz en Modisakeng verwys wat saam een van die kragtigste installasies is wat op gedwonge migrasie kommentaar lewer. Modisakeng se Passage (2017), ’n drie-kanaal-video-installasie, is as “’n hartroerende besinning oor verskuiwing, slawerny en geweld” beskryf. Die drie karakters wat elkeen in ’n roeibootjie lê, is besig om elkeen op sy manier kop bo water te hou namate die bootjie vol water word. Uiteindelik sink die bootjies en word as ’t ware doodskiste. Breitz se Love Story (2016) bevat dele uit rolprente met beeldmateriaal van Alec Baldwin en Julianne Moore wat elk die rol van drie verskillende vlugtelinge vertolk. In die vertrek langsaan word die oorspronklike klankbaan van die onderhoude met die vlugtelinge gespeel. “Breitz stel moeilike vrae oor empatie en die glanswêreld: Word ons meer geroer deur bekende, wit akteurs wat maak asof hulle vreemdelinge is as deur vreemdelinge wat alles in die stryd werp om te oorleef?” is die vraag wat Artsy aan die hand van dié werk stel.