‘Ek het karakters in daardie skildery ontdek wat ek voorheen nooit opgemerk het nie’
Deur JOHAN MYBURG
“Ek kan nie glo wat ek alles gesien het nie,” het ’n Nederlandse onderwyser onlangs gesê nadat hy ’n nag onder die wakende blik van Rembrandt se meesterstuk Die nagwag in die Rijksmuseum deurgebring het.
“Ek het karakters in daardie skildery ontdek wat ek voorheen nooit opgemerk het nie.” Stefan Kasper het dié geleentheid in Junie gekry as prys vir die tienmiljoenste besoeker aan die museum. Kasper kon sy bed vlak voor dié skildery in die Nagwagsaal opmaak, daarna lê en staar en toe in die geselskap van Frans Banning Cocq en Willem van Ruytenburch en ’n rits ander karakters in dié tafereel aan die slaap raak.
Dit was kaptein Banning Cocq en 17 lede van die Kloveniers, die burgerlike beskermingsmag, wat Rembrandt (1606–1669) om en by 1639 opdrag gegee het om ’n skildery van hulle te maak. In die 17de eeu was dié soort magte meer seremonieel as enigiets anders en het tot die trots van die Nederlandse republiek bygedra. Die gedagte was aanvanklik dat ses verskillende kunstenaars se panele neffens mekaar sou hang as ’n “ononderbroke fries” om die roem van die Kloveniers te verbeeld. Rembrandt het egter ’n eie koers met kleur en lig ingeslaan – wat dié skildery een van die grootste kunsskatte in die Westerse wêreld gemaak het. Die titel van die skildery het trouens verwys na dié kaptein en sy manne.
LEES OOK:Kuns: Kuns deur die eeue
Dit was eers jare later, toe die verfwerk heelwat donkerder geword het dat die titel “Nagwaak” ter sprake gekom het. Ná restourasiewerk aan die skildery in die 1940’s, toe die vernis wat verdonker het, verwyder is, was die skildery aansienlik ligter. Nietemin het die naam bly steek. Boonop was die skildery aanvanklik ook groter as die 363 cm x 437 cm wat dit tans is. Die tamaai skildery is 73 jaar ná voltooiing na die Amsterdamse stadsaal geneem waar dit voortaan sou hang. Toe die muur waar dit moes hang, nie groot genoeg blyk te wees nie, is daar besluit om die doek kleiner te maak om dit in te pas. ’n Gedeelte aan die bo- en linkerkant is afgesny. Wat in die slag gebly het, is die bopunt van die boog en balustrade, asook twee figure.
Dié inligting is te danke aan ’n klein kopie wat Gerrit Lundens indertyd van die skildery gemaak het. Wat dié skildery dalk so uitsonderlik maak, is die feit dat Rembrandt daarmee ’n nuwe rigting aan portretskilderye gegee het. Anders as die tradisionele portrette van rye mense, die een neffens die ander, weergegee met presies dieselfde noukeurigheid en gebaai in dieselfde lig, bewerkstellig Rembrandt soveel intrige deur met perspektief te speel en bowenal die spel tussen lig en donker (die sogenaamde chiaroscuro waarvoor hy so bekend was).
Kyk byvoorbeeld na die skaduwee wat Banning Cocq se hand op die wit klere van Van Ruytenburch gooi. Wat ook in dié toneel opval, wat oorheers word deur mans, is die vrou wat effe na agter in die prentjie kom. Haar rol word allerweë verstaan as dié van die emblematiese gelukbringer van dié groep Kloveniers. Kyk ’n mens mooi na haar uitrusting, blyk dit dat sy ’n wit hoender, vasgemaak aan haar gordel, dra – met die pote besonder prominent. Die hoenderpote (kloue) asook die pistool wat sy dra, genoem ’n klover, was simbole van dié Amsterdamse burgerlike mag. Wat leer ’n mens uit Kasper se ervaring? Hoe meer jy bereid is om te kyk, hoe meer sien jy.