’n Mens kan kwalik na ’n rolprent- of verhoogweergawe van Victor Hugo se Les Misérables kyk sonder om dié skildery van Delacroix voor jou geestesoog te sien
Deur JOHAN MYBURG
Die Louvre in Parys het ’n goeie somer agter die rug met die besigste tydelike uitstalling in die geskiedenis van dié kunsmuseum. Volgens die museum het meer as ’n halfmiljoen besoekers by die Louvre opgedaag om Delacroix, ’n omvangryke uitstalling van die werk van dié kunstenaar, wat as die voorloper van die Franse Romantiek beskou word, te sien.
Kort voordat die uitstalling op 23 Julie tot ’n einde gekom het, was die besoeksyfer soveel as 7 200 per dag. Dit was die eerste keer sedert die uitstalling in 1963 waarmee die 100ste jaar ná die dood van Eugène Delacroix (1798–1863) gevier is, dat die Louvre weer ’n omvangryke Delacroix-uitstalling aanbied. Die meeste van die skilderye in Delacroix kom uit die Louvre se permanente versameling. Onder die 180 skilderye wat die kurators Sébastien Allard en Côme Fabre byeengebring het, was die groot trekpleister Vryheid lei die volk, sy skildery van 1830 waarmee die Franse nasionale strewe van die Julie-revolusie van daardie jaar vergestalt word.
’n Mens kan kwalik na ’n rolprent- of verhoogweergawe van Victor Hugo se Les Misérables, geskryf in 1862, kyk sonder om dié skildery van Delacroix voor jou geestesoog te sien. Die vrou met die Franse driekleur omhoog, is die verpersoonliking van die godin van Vryheid – die ontblote borste verwys terug na die tyd van die Klassieke – wat haar volgelinge oor barrikades en verby die liggame van gevalle kamerade lei. Op die agtergrond, tussen die newels, is die geboue van Parys sigbaar. Rooi, wit en blou – die kleure van die vlag wat ná dié revolusie weer die amptelike Franse vlag geword het – word in die skildery herhaal, wat tot die gevoel van nasionalisme bydra.
LEES OOK: Kuns: Marina Ambramović
Terwyl Delacroix, wat nie aan die revolusie deelgeneem het nie, aan die skildery gewerk het, het hy in ’n brief aan sy broer geskryf: “Ek het aan ’n moderne onderwerp begin werk, ’n barrikade, en as ek geen oorwinnings vir die volk behaal het nie, sal ek ten minste daarvoor verf.” In dié skildery, soos in werk soos Die dood van Sardanapalus (1827), Tonele uit die massamoord van Chios (1834), en Vroue van Algiers in hul woonplek (1834), kom Delacroix se voorkeur vir emosie, die eksotiese en die sublieme na vore: ten opsigte van onderwerp, maar ook in sy verftegniek.
Hy maak van geil en energieke verfhale in helder kleur gebruik. In dié opsig onderskei hy hom van die koel en gekontroleerde benaderings van sy tydgenote. Volgens die kurators wou hulle met dié uitstalling wys dat daar meer aan Delacroix is as wat ’n mens vermoed. Dit is sy trefwydte wat hulle wou benadruk – van tamaai historiese onderwerpe tot Oosterse temas, en van skilderye van diere tot die intiemste stillewes met blomme.
Die uitstalling, met die uitsondering van die heel groot doeke – met ander woorde ook nie Vryheid lei die volk nie – is van 17 September tot 9 Januarie in New York se Metropolitankunsmuseum te sien. Dit sal die eerste groot oorsiguitstalling van die werk van Delacroix in die VSA wees. Heelwat meer besoekers sal vir Delacroix by die Met moet opdaag om by die kaartjieskantoor hond haaraf te maak. Die uitstalling Treasures of Tutankhamun, wat van Desember 1978 tot April 1979 in die Met te sien was, het 1,36 miljoen besoekers gelok.