Dié skildery van David Hockney word as een van die moderne kuns se groot meesterstukke gereken
Deur JOHAN MYBURG
David Hockney was einde verlede jaar in die nuus toe ’n skildery van dié Britse kunstenaar vir net minder as R1,2 miljard ($90 miljoen) verkoop is – die hoogste veilingprys nóg vir ’n werk deur ’n kunstenaar wat nog lewe.
Jeff Koons se Balloon Dog (Orange) wat in 2013 op ’n veiling van Christie’s vir $58,4 miljoen verkoop is, was tot en met dié Hockney-transaksie die wêreld se duurste kunswerk (van ’n kunstenaar wat nog lewe wat op ’n veiling verkoop is). Die 81-jarige Hockney se skildery van 1971, Portrait of an Artist (Pool with Two Figures), is volgens berigte in November, ook op ’n Christie’s-veiling vir dié rekordbedrag aan ’n Londense sakeman verkoop. Kan ’n kunswerk ooit R1,2 miljard werd wees? sal baie mense vra. Duidelik is dit moontlik.
In ’n kunsmark wat immer op die uitkyk vir trofees is, vir daardie enkele kunswerk wat in ’n groter versameling sal uitstaan as nóg ’n juweel in ’n skitterende kroon, is dié skildery waarskynlik dié Hockney van alle Hockneys. Die omvangryke Hockney-oorsiguitstalling wat Tate Britain verlede jaar byeengebring het, het gewis ook tot die skilder se statuur en belang in die kunswêreld bygedra. Daarby het die afslaer moeite gedoen om die mark aan te wakker deur dié spesifieke skildery voor die veiling in New York ook in Hongkong, Londen en Los Angeles te vertoon. Al dié omstandighede het ’n rol gespeel om vraag en aanbod te stimuleer. Bowendien is dié betrokke skildery lank voor dié veiling en die rekordbedrag, as een van moderne kuns se groot meesterstukke beskou.
LEES OOK: Kuns: Francis Bacon
Daar is verskeie elemente wat dié skildery uit Hockney se jare in Kalifornië so ’n belangrike werk maak. Die omgewing van Los Angeles waar hy hom in 1964 as 27-jarige gaan vestig het, het ’n groter vryheid gebring ná Yorkshire waar hy grootgeword het. Die sonnige omgewing met sy volop swembaddens figureer in heelwat skilderye uit dié jare as ’n simbool van (seksuele) vryheid. Hy het in akriel begin werk, wat ’n ander benadering tot sy skilderkuns teweeg gebring het; hy het met fotografie begin eksperimenteer en teen die 1970’s ook dubbelportrette begin skilder.
Portrait of an Artist (Pool with Two Figures) is as ’t ware die kulminasie van al dié elemente, tesame met verwysings na die werk van die 15de-eeuse Italiaanse skilder Piero della Francesca (1415–1492), veral sy Geseling van Christus, ten opsigte van die plasing van die figuur binne die struktuur (die swembad en die plaveisel) en die inrigting van die ruimte. Die skildery is saamgestel uit twee onverwante foto’s wat Hockney geneem het: een van ’n swemmende figuur, wat in 1966 in Hollywood geneem is, en die ander ’n saamgestelde foto van Peter Schlesinger (die staande figuur) wat in 1972 in Kensington Gardens geneem is.
’n Mens kan kwalik die biografiese besonderhede in Hockney se werk ignoreer, juis omdat hy self soveel gewag daarvan maak. Die skildery is ’n jaar ná die beëindiging van sy verhouding met Schlesinger geskilder. Wat onmiddellik uitstaan, is die spanning tussen die twee figure in twee wêrelde – die een staande, die ander onder water; die een ten volle geklee, die ander in ’n swembroekie; die een herkenbaar, die ander ’n volslae misterie. Dit is onder meer dié spanning wat tot die emosionele trefkrag van die skildery bydra.