‘Die jare sestig was die tyd toe ek ’n jong kind was en die teenwoordigheid en impak van mag, veral patriargale mag, die meeste aan die bas gevoel het’
Deur JOHAN MYBURG
Dit is “die toestand van die mens”, waarna in Engels as the human condition verwys word, waaraan Cobus van Bosch gestalte gee in sy skilderye – eietydse manifestasies van dié toestand, maar deurgaans in die verlede gegrond. In sy verkenning van geskiedenis soos dié van die Anglo-Boereoorlog het Cobus van Bosch in die uitstallings Geheue (2015) en Vergete verledes (2013) kykers gepor om buite die gebaande weë, buite die geykte begrip van wat geskiedenis konstitueer, te dink.
Dit was aweregse vrae, sommige daarvan netelig, wat hy in sy skilderye aan die orde gekry het: Was die dapper penkoppe nie maar net uitgebuite kindersoldate nie? Het die bittereinders tot die ellende bygedra deur so lank met ’n verlore saak vol te hou? Hoeveel Engelse soldate moes teen hul gewete huise afbrand en vee uitwis? Kan jy verarmde swart mense van die Transvaal en Vrystaat verkwalik dat hulle in die Engelse ’n beter bondgenoot gesien het as in die Boere wat hulle so oorheers het? Soos in die uitstallings Forgotten Freedom Fighters (2011) en Bastard (2010) – met onder meer portrette van Griekwa-, Nama- en sogenaamde Baster-kapteins – het hy vergete geskiedenisse gaan opdiep, vergete as die teenpool van die gesanksioneerde geskiedenis.
“Een van die redes waarom ek die verlede skilder,” sê hy, “is omdat soveel ongelooflike verhale daarin opgesluit lê. Ek glo jy is ryker as jy meer weet van die verlede, al leer jy maar net dat alles dieselfde bly. Mense baklei vandag oor dieselfde goed as 200 jaar gelede, droom dieselfde drome en is bang vir dieselfde dinge. Dis egter die inkleding van hierdie basiese scenario wat so boei.” Van Bosch se inkleding kom in die gedaante van skilderye in olieverf met ’n narratiewe inslag. In Knater Noster, sy jongste uitstalling in Johannesburg in Junie, kom ’n mens figure uit die verlede teë waarin patriargale mag as ’t ware ingelyf geraak het – in die lywe van mans as magshebbers, maar ook in dié van vroue en kinders; trouens, enigeen wat binne dié konteks as ’n mindere gesien sou kon word.
LEES OOK: Kuns: MJ Lourens
Met die woordspel op “Pater noster” bewerk Van Bosch die gedagte dat “mag in die hande van mans histories as ’n bykans godgegewe deel van hul identiteit gesien word, terwyl dit bes moontlik eerder bloot toe te skryf is aan ’n testosteroongedrewe strewe om ’n vorm van alfa-wese (dalk god self) te wees. “Ek wil nie namens vroue praat nie (vroue en mag is ’n eie verhaal), maar mans met mag (selfs beperkte mag) glo gewoonlik hulle verdien hul posisie – konings het voorgehou dis deur God aan hulle gegee, bendeleiers en ryk sakemense glo hulle is tot grootsheid bestem, en selfs die gewone gesinsman glo meermale gesaghebbendheid kom hom as “hoof van die huis” toe.
“Deur die eeue is manwees dus tot ’n groot mate aan ’n vorm van magsbesit gelykgestel – ’n man sonder mag is nie werd om een genoem te word nie. Kort op die hakke daarvan kom viriliteit en die gereedskap wat daarvoor nodig is.” Heelwat van Van Bosch se skilderye bied ’n blik op mense, plekke en situasies van ’n paar dekades gelede, veral die jare sestig. “Dit was die tyd toe ek ’n jong kind was en die teenwoordigheid en impak van mag, veral patriargale mag, die meeste aan die bas gevoel het.” Besoek ook www.cobusvanbosch. com