Canaletto se werk was nog altyd gesog en het gevolglik goeie pryse behaal
Deur JOHAN MYBURG
Canaletto and the Art of Venice is ‘n uitstalling wat nog tot 12 November in The Queen’s Gallery in Buckingham-paleis in Londen te sien is.
Dié versameling in besit van die Britse monargie, het tot stand gekom toe Joseph Smith, destydse Britse konsul in Venesië en Canaletto se belangrikste ondersteuner en handelaar, sy persoonlike versameling van Canaletto’s, asook ander 18de-eeuse skilderye en tekeninge van kunstenaars soos Francesco Zuccarelli, Rosalba Carriera, Pietro Longhi en Giovanni Battista Piazzetta, in 1762 aan George III verkoop het.
Deur middel van dié transaksie het die 24-jarige koning George verseker dat die Royal Collection een van die beste versamelings van 18de-eeuse Venesiese kuns ter wêreld bekom het – waaronder die grootste versameling van skilderye, tekeninge en etse deur Giovanni Antonio Canal, beter bekend as Canaletto (1697-1768).
In dié 200 werke van Canaletto word die wese en allure van Venesië vasgevang, veral in taferele van die Canal Grande en die St Markus-plein asook feeste in die stad soos byvoorbeeld die Sposalizio del mar, oftewel die Huwelik van die see. Met dié fees wat tydens Hemelvaart gevier is, het Venesië jaarliks sy heerskappy oor die see benadruk.
In dié skildery verbeeld Canaletto die goudversierde bucintoro voor die Doge-paleis, die vaartuig wat jaarliks op Hemelvaart gebruik is tydens dié fees en wat indertyd heelwat toeriste na die stad gelok het.
Hoewel verskillende blikke op Venesië in sy skilderye en etse gebruik is, het Canaletto eweso Londen in sy kuns verewig. Van 1746 tot 1756 het hy in Engeland gewoon en gewerk. Daar het hy etlike tonele van die nuwe Westminster-brug asook skilderye van weldoeners se kastele en huise geskilder.
Sy werk was nog altyd gesog en het gevolglik goeie pryse behaal. In 2005 het ‘n ander weergawe van die bucintoro op Hemelvaartdag ‘n rekordprys van £11 miljoen op ‘n veiling van Christie’s in Londen behaal. Die prys wat betaal is, was twee keer soveel as die verwagte maksimumprys.
Saam met kunstenaars soos Marco Ricci en Francesco Zuccarelli het Canaletto bygedra tot die ontwikkeling van capricci, tonele waarin werklike en verbeelde argitektuur verenig word, dikwels in ‘n versinde landskap met die oog daarop om iets van ‘n verlore glorietyd weer te gee.
Die werk van Rosalba Carriera word saam met dié van Canaletto vertoon. Carriera se pasteltekeninge van vier vroue as beliggaming van die vier seisoene, word vir die eerste keer saam vertoon.
Carriera (1673-1757) was ‘n Venesiese vroueskilder veral bekend vir haar miniature. Haar voorstelling van Winter uit die Vier seisoene was een van die werke in Smith se versameling wat die meeste bewonder is.
As jy nie die uitstalling te sien kan kry nie, is daar ‘n katalogus beskikbaar deur Lucy Whitaker en Rosie Razzall, met die titel Canaletto and the Art of Venice. Dié hardebandboek met 320 bladsye kos ‘n stewige sowat R750.
Besoek ook www.royalcollection.org.uk.
The Queen’s Gallery
Die gebou wat deesdae as The Queen’s Gallery dien, is deur John Nash ontwerp en is in 1831 voltooi. In 1843 het koningin Victoria dié ruimte as ‘n private kapel laat inrig, maar die gebou is in 1940 tydens die Tweede Wêreldoorlog in die lugaanvalle op Londen vernietig. Koningin Elisabeth het die gebou as galery vir die koninklike versameling laat ontwikkel.