Die Britse Turnerprys, een van die wêreld se gesogste pryse vir kontemporêre kuns wat jaarliks op die een of ander manier vir opspraak sorg, het einde verlede jaar nie teleurgestel nie
Deur JOHAN MYBURG
Die prys wat sedert 1991 vir kunstenaars jonger as 50 gereserveer was, is verlede jaar vir die eerste keer vir kunstenaars van alle ouderdomme oopgestel. Lubaina Himid is op 63 die oudste pryswenner nóg en boonop die eerste swart vrou wat as wenner aangewys is. Haar mededingers was Hurvin Anderson (52) wie se werk geïnspireer is deur die ervarings van sy Jamaikaans gebore ouers; Andrea Büttner (45), wie se werk godsdiens en plantkunde as onderwerp het; en Rosalind Nashashibi (43), wat benewens rolprentmaker ook skilder is.
Die naaswenners kry net meer as R90 000 elk en die wenner kry ’n raps meer as R450 000. Himid is in Zanzibar gebore, woon in Preston en is professor in kontemporêre kuns aan die universiteit van Sentraal-Lancashire. As kunstenaar is sy bekend vir haar skilderwerk, tekeninge, grafiese drukwerk en installasies wat op swart identiteit fokus en waarin verwysings na die slawebedryf en die Afrika-diaspora voorkom. Oor die aankondiging dat Himid dié gesogte prys verower het, het The Guardian opgemerk: “Sy is klaarblyklik ’n kunstenaar wat vir die grootste deel van haar loopbaan oorgesien en onderskat is.” In reaksie het Himid gesê sy meen nie sy is deur kurators of ander kunstenaars oor die hoof gesien nie, hoewel sy toegegee het sy het nooit koerante gehaal nie, miskien omdat haar werk “te verwikkeld is om oor te praat”. “Ek vermoed die sake waaraan ek in my werk aandag gee, is kompleks en gelaagd. En koerante wil goed publiseer wat kan verkoop,” het sy die tragedie van ons dag onder woorde gebring.
LEES OOK: Kuns: 2015 Turner-prys
In ’n werk soos A Fashionable Marriage, 1987, bevraagteken Himid die historiese plek van portretkuns deur na William Hogarth se The Countess’s Morning Levee uit sy Marriage a la Mode, 1743, te verwys. In dié installasiewerk met helderkleurige skilder- en tekenwerk asook collage- en uitsnywerk, kom haar satiriese ondertoon deur in die manier waarop sy Europese kunstenaars (soos Hogarth) teen die agtergrond van haar Afrika-erfenis inspan en lees. Die plek van visuele mag kom onder meer in haar werk ter sprake. Sy het die prys op grond van drie uitstallings van haar werk in Bristol, Oxford en Nottingham, gekry.
Die Turnerprys-uitstalling en -prysaand is verlede jaar in die Ferens-galery in Hull aangebied. Sedert 2011 word die prys al om die ander jaar buite Londen aangebied. Die prys wat in 1984 tot stand gekom het, word deur die Tate-galery geadministreer. In Maart verlede jaar het die Tate aangekondig dat die ouderdomsbeperking nie meer geld nie. Dié reël is in 1991 ingebring in ’n poging om te voorkom dat die prys iets soos ’n erkenning van ’n lewensbydrae word. “Die Turnerprys het nog altyd die werk van opkomende kunstenaars bevorder,” het Alex Farquharson, direkteur van Tate Britain en voorsitter van die beoordelaarspaneel, gesê. “Dit was nog nooit ’n prys vir lang diens nie, maar een vir ’n uitsonderlike uitstalling in die betrokke jaar. Met dié reputasie stewig gevestig, kan ons nou erkenning gee aan die feit dat kunstenaars op enige ouderdom ’n deurbraak in hul werk kan bereik.” Vorige wenners van die Turnerprys sluit Richard Deacon, Damien Hirst en Howard Hodgkin in.