‘Die eindproduk moet mooi wees, anders is iets nie reg nie’
Deur JOHAN MYBURG
Terwyl sy in haar ateljee met haar beeldhouwerk besig is, dink sy nie aan skoonheid nie. Dan werk sy, sê Beth Diane Armstrong oor haar skeppingsproses. “Maar die eindproduk moet mooi wees, anders is iets nie reg nie,” sê sy.
Armstrong is Standard Bank se Jong Kunstenaar vir visuele kunste vir 2017 en as deel van dié erkenning en hupstoot in haar loopbaan moet sy ‘n uitstalling aanbied wat met die Nasionale Kunstefees in Grahamstad van 29 Junie tot 9 Julie saamval.
Dié uitstalling sal ná die Grahamstad-fees en tot volgende jaar regdeur die land in galerye vertoon word, onder meer die Standard Bank-galery in Johannesburg.
Staal en aluminium is die mediums waarmee Armstrong as beeldhouer tot dusver aandag getrek het. Dié medium se kenmerk om te glim, om koud en sekuur en sterk te wees, benut sy ten beste, maar daarmee saam smee en weef sy staal asof dit iets organies is. Asof daar tussen staal en ‘n magdom (en ragfyn) wortels van plante nouliks ‘n verskil is.
Soos in Surface Weight, waar die bokant van die werk gelyk en blinkgepoets afgewerk is. Aan die onderkant, asof ondergronds, gedy ‘n welige groei wat die spanning tussen staal en plantmateriaal, tussen verwerkte erts en aardse plant, benadruk. Dit is waarskynlik hierdie spanning wat Armstrong se werk so aantreklik maak.
Surface Weight in sagte en vlekvrye staal (4,6 m x 2,5 m x 1,5 m) is die werk wat in die versameling Suid-Afrikaanse beeldhouwerke ingesluit is wat kurator Annelies Brans-Van der Straeten byeengebring het vir die uitstalling The Rainbow Nation wat in 2012 in en om Den Haag in Nederland aangebied is.
Die volgende jaar het Mary Jane Darroll ’n seleksie gemaak uit dié versameling en dit met enkele werke aangevul vir die uitstalling After the Rainbow, wat op die 2013 Winter-beeldhouskou op die Nirox-landgoed in die Wieg van die Mensdom vertoon is. Standard Bank het Armstrong se Surface Weight op dié uitstalling vir sy nuwe gebou in Rosebank aangekoop.
Armstrong het haar meestersgraad in visuele kunste aan die Rhodes-universiteit in Grahamstad behaal. In 2007 het Rhodes ‘n werk wat sy met die oog op die verwerwing van haar voorgraadse kunskwalifikasies gemaak het vir sy permanente versameling aangekoop.
Sy het aan Design Miami in Florida, VSA, en Design Basel in Switserland deelgeneem. In 2014 het sy werk gemaak wat deel van ‘n permanente openbare versameling in Oostvoorne in Nederland vorm. Dié werk is in opdrag van die Westvoorne-stigting gemaak.
Armstrong wil nie veel verklap oor haar werk vir Grahamstad nie. Nietemin kan ‘n mens benewens monumentale beelde ook kleiner beelde en makette verwag en bes moontlik ‘n spel in skaal. Die voorreg om werk vir ‘n uitstalling soos dié te maak, sluit juis die moontlikheid in om te kan eksperimenteer en met nuwe seggingsmoontlikhede vorendag te kom.
Benewens die beeldhouwerke het Armstrong die afgelope paar jaar haar repertorium verruim om grafiese drukwerk, videowerk, fotografie en tekeninge in te sluit.
Standard Bank vereer sedert 1984 kunstenaars wat jonger as 35 is jaarliks met die Jong Kunstenaar-toekennings. Dié toekennings word in verskillende kategorieë gedoen – gewoonlik visuele kunste, kontemporêre dans, drama, jazz en musiek. Vanjaar is ‘n wenner vir performance-kuns ook aangewys. Van tyd tot tyd word ‘n wenner in rolprentkuns ook aangewys.
Besoek www.artsmedia.standardbank.com.
<caption>
0616 vk1 armstrong
Beth Diane Armstrong
0616 vk2 armstrong
Beth Diane Armstrong se Surface Weight.