In marmer verbeeld Bernini tegelyk tederheid en geweld, sensualiteit en brutaliteit
Deur JOHAN MYBURG
Eeue lank het die klassieke ideaal in beeldhouwerk geseëvier: Portrette moes so min as moontlik tekens van lewe toon. Dink maar aan beelde wat van só ’n mate van erns getuig dat die mense wat uitgebeeld word, bloedloos voorkom – met oë wat afwesig staar, met lippe wat saaklik sluit.
Dit was dié tradisie wat die Barok-beeldhouer Gianlorenzo Bernini (1598–1680) so heerlik omvergegooi het toe hy die een ná die ander beeld gemaak het wat lyf en lyflikheid en warmbloedigheid laat triomfeer. In sy hande het marmer bloedwarm gepols en as ’t ware sweet op marmerneuse en -voorkoppe laat uitslaan. Dink maar aan Bernini se uitbeelding van die mitologiese verhaal van Pluto wat Proserpina na die onderwêreld ontvoer.
Bernini was niks ouer as 23 toe hy Die ontvoering van Proserpina gemaak het nie. Benewens Bernini se omgang met marmer – asof dit vlees van vel en bloed is – verbind hy tegelyk tederheid en geweld, sensualiteit en brutaliteit. Soos in talle van sy beelde van mans en vroue is dit die wriemelende lywe (ook genoem figura serpentinata) wat ’n mens opval. Vanuit ’n enkele aanskouingspunt kan die kyker die hele tafereel lees: die sensualiteit én die brutaliteit. Dieselfde aanslag kry ’n mens in sy uitbeelding van Apollo en Daphne wat net ná die Die ontvoering gemaak is. God wat hy is, meen Apollo dat al wat leef en beef tot sy beskikking is. Daphne is egter nie so geneë om ten prooi van Apollo te val nie en trek met ’n kreet die aandag van die ander gode wat haar te hulp kom en haar in ’n lourierboom verander.
LEES OOK:Kuns: Johannes Vermeer se Meisie met die pêreloorbel
’n Kurwende Daphne wat Apollo probeer ontvlug se marmerledemate wat na vlees lyk, word inderdaad boom en bas met haar vingers wat reeds blare begin uitstoot. Op dié manier gee Bernini uiting aan die Barokmotief van metamorfose. Bernini was een van daardie mense wat al die geluk en voorspoed van die wêreld gesmaak het. Hy was aantreklik, sjarmant, uitermate begaafd en het ’n vriendekring gehad wat vir hom menige deur oopgemaak het – benewens etlike vername kerklikes soos pous Innocentius X. Hy was beeldhouer, maar ook skilder, argitek en dramaturg. Daarbenewens was hy ook as akteur bekend.
Maar Bernini het grootliks vir sy eie drama gesorg. Sy verhouding met Costanza, vrou van sy assistent, het in die 1630’s tot ’n marmerportret van haar aanleiding gegee. ’n Borsbeeld het kwalik voorheen soveel sensualiteit en emosie uitgestraal. Soveel dat Bernini met dié beeld die Europese tradisie van beeldhoukuns in ’n rigting gestuur het wat voorheen nie bestaan het nie. Dié Costanza-borsbeeld getuig van hartstog: van die blosende gelaat tot die mond oop in afwagting – asof liefdeswoorde enige oomblik oor haar lippe kan kom – tot die losgetorringde bloes wat oopval.
Toe Luigi, Bernini se jonger broer, ’n nag by Costanza deurbring, het Bernini eers Luigi met iets soos ’n koevoet bygekom (en hom kort duskant dood geslaan) en toe ’n bediende opdrag gegee om Costanza se mooi gesig herhaaldelik met ’n skeermeslem te keep. Sy vriendskap met die pous het daarvoor gesorg dat hy skotvry daarvan afgekom het. Luigi is verban en Costanza is weens owerspel in die gevangenis gegooi. Onder die talle beelde in Rome is dit Die ekstase van die heilige Teresa (van Avila) waarmee Bernini sy roem verewig het: ’n beeld waarin hy nie net pyn, hartstog en die heilige se eenheid met God kombineer nie, maar ook beeldhoukuns, drama en argitektuur.