Auguste Rodin het beeldhou die moderne era ingeneem en is een van die wêreld se invloedrykste kunstenaars
Deur JOHAN MYBURG
Die nalatenskap van die Franse beeldhouer Auguste Rodin is vanjaar wyd en syd gevier. Daar was die groot uitstalling van sy werk in Parys se Grand Palais, ‘n spesiale €2-munt met die gelaat van Rodin en Die denker is geslaan, en ‘n Rodin-posseël is in Frankryk bekendgestel.
Auguste Rodin, genoem die Michelangelo van Frankryk, is 100 jaar gelede op 17 November 1917 in die ouderdom van 77 jaar dood.
Dat die Franse Rodin so met trots onthou, is te verstane. Maar omdat Rodin die draaipunt was tussen die antieke en moderne beeldhoukuns, is dit ook gepas dat sy werk wêreldwyd in herinnering geroep word. En so kom aspekte van sy werk dan ook op ander plekke en nog tot volgende jaar in fokus.
In die VSA het die Cleveland-kunsmuseum in Ohio se uitstalling Rodin – 100 Years eers onlangs geopen. Die Pauly Friedman-galery van die Misericordia-universiteit in Dallas, Pennsilvanië, VSA, bied Rodin: Portraits of a Lifetime aan en die Metropolitan-kunsmuseum in New York bied Rodin at the Met aan.
Hoewel Rodin die VSA nooit besoek het nie, het hy sedert die begin van die 20ste eeu nog altyd ‘n spesiale plek in dié land ingeneem.
Die Metropolitan het byvoorbeeld sy eerste Rodin-galery in 1912 geopen en vir die Met se huldigingsuitstalling word sowat 60 beelde in brons, gips, marmer en terracotta vertoon.
Dit was tydens die Eerste Wêreldoorlog, toe die Cleveland-kunsmuseum se oorspronklike struktuur nog in aanbou was, dat ene Ralph King, een van die museum se trustees, begin onderhandel het om werk van Rodin aan te koop.
LEES OOK: Kuns: Robert Rauschenberg
In 1916 het King die eerste Rodin aangekoop: Die denker. Dié beeld staan sedert 1917 by die suidelike ingang na die museum. Rodin het ook ingestem om vir dié museum ‘n spesiale brons van Die eeu van brons te giet, die beeld wat in 1877 vir die eerste keer vertoon is en wat tot beskuldigings gelei het dat dit ‘n afgietsel van ‘n mens is – aantygings wat Rodin ontken het. Nietemin het hy die publisiteit tot sy voordeel gebruik: Van heinde en ver het mense gekom om dié beeld te beskou.
In ‘n tyd toe beeldhou die geïdealiseerde vorm nagestreef het, was dit die menslike lyf en vorm, realisties uitgebeeld, wat Rodin geïnteresseer het. Dit was die uitdrukking en egte emosie van die mense wat hy verbeeld het waaraan hy in sy bronsbeelde met ‘n ruwe tekstuur gestalte wou gee; tekstuur wat lig kan hou én weerkaats en op dié manier beweging bewerkstellig.
Dit is dié elemente van sy werk wat die grondslag van die uitstalling Rodin: Portraits of a Lifetime in die Pauly Friedman-galery van die Misericordia-universiteit in Dallas, Pennsilvanië vorm.
Die Chicago-universiteit in die VSA fokus in die uitstalling The Hysterical Material op die manier waarop emosie in die werk van Rodin verbeeld, oorgedra en ontlok word. Dit word gedoen deur Rodin se werk saam met dié van die Amerikaanse kunstenaar Bruce Nauman (1941) uit te stal.
Soos dit byvoorbeeld blyk uit Die eeu van brons is Rodin se werk in sy leeftyd geloof, maar eweneens gekritiseer. ‘n Honderd jaar later is almal dit eens dat Rodin beeldhou die moderne era ingeneem het en dat hy een van die wêreld se invloedrykste kunstenaars was en bly.
Te midde van al die vierings is die Rodin-museum in Parys nietemin die plek waar dié meester se werk heeljaar gesien kan word.
Besoek www.rodinmuseum.org vir meer besonderhede