Beskou jy Anton Karstel se verfwerk noukeurig, kry jy die gevoel dat die medium en die onderwerp in dialoog of selfs in iets van ’n toutrekkery betrokke is
Deur JOHAN MYBURG
Wat in Anton Karstel se onlangse middelloopbaanuitstalling in die Pretoria Kunsmuseum opgeval het, is dat hy ’n voortreflike skilder is, een wat binne Suid-Afrikaanse figuratiewe skilderkuns dié rigting verryk en verruim, en ’n kunstenaar wat die kyker lok om aan ’n gesprek binne die skildery deel te neem.
Die titel van die uitstalling was gewoon Anton Karstel 1995 – 2018. Op die oog af 23 jaar se werk as skilder. Maar dié 23 jaar sluit ook twee jaar in waartydens hy nie geskilder het nie. Nadat hy in 1995 sy meestersgraad in visuele kunste aan Tukkies verwerf het, het hy hom doelbewus op ander maniere van uitdrukking toegelê (soos installasiekuns), omdat hy die geldigheid van skilder as medium begin wantrou het. Om niksvermoedend verf op ’n gestrekte doek aan te bring, sonder om intens rekenskap te gee van die medium se omstrede geskiedenis, was vir hom buite die kwessie. Die selfbewuste perke wat teorie stel, leen hom kwalik tot goeie skilderwerk, gee hy toe.
“Dit is net dat ek persoonlik ongemaklik voel om op ’n onnosel manier die geskiedenis te herhaal. Die ambivalensie van ongemak met die manier waarop teorie die maak van kuns beheer en ’n skeptiese ingesteldheid jeens onskuldige, dom skilderwerk verduidelik deels die perke van my skilderwerk.” Bykans ’n kwarteeu later het hy nie meer onsekerheid oor die geldigheid van skilder nie, en geniet hy “die derderangse status wat skilder in die nuwe institusionele status quo” het. Wat hom (en die kyker) van skilder boei, is die “obsessiewe omgang met oppervlakke, veral vlakke wat met inhoud gelaai is”.
Die gelade inhoud sou kon verwys na kwessies wat byvoorbeeld in die geheue van die apartheidsera lê. In 2017 herbesoek hy in ’n skildery die St James-massamoord in Kenilworth in 1993, en die Kerkstraatbom in Pretoria in 1983. In 1995 skilder hy Die doodstoneel ’n paar minute later, ’n naskildering van die foto wat in dagblaaie verskyn het van drie AWB-lede wat op 11 Maart 1994 deur lede van die destydse Bophuthatswana-weermag doodgeskiet is. Dié materiaal in boeke, foto’s en rolprente uit sy ouerhuis word die vertrekpunt vir die agterdog waarmee hy die nasionalisme van die dag (en straks eietydse strewes daarna) bejeën.
En die skilderye van dié materiaal, gestroop van die konteks waarbinne dit aanvanklik bedoel is, dra hul eie geladenheid, soos die landmyne van destyds. Met bewondering vir die trefkrag wat iemand soos Goya, Manet, Sickert, Guston of Baselitz kon bewerkstellig, met slegs pigment op ’n oppervlak, trek die gravitas en gewig van olieverf Karstel aan – tot só ’n mate dat verf beeldhouagtig word. Beskou jy Karstel se verfwerk noukeurig, kry jy die gevoel dat die medium en die onderwerp in dialoog of selfs in iets van ’n toutrekkery betrokke is.
Dié dialoog gaan so ver terug as die verhouding tussen die fotomateriaal wat hy as vertrekpunt neem en die skildery. “Ek beweeg heen en weer tussen bron en doek. Dit is hierdie ritme wat moontlikhede vir teksture en beelde skep wat nie binne my beheer is nie. Ek wil hê die skildery moet onwillekeurig gebeur, amper per ongeluk.” Die onderwerpe wat Karstel in sy werk takel, is nie sonder meer “maklik” nie – dit gaan oor moord en doodslag, oor ideologiese vergrype en misleiding. Des te meer rede waarom hy dan so behendig met die verleidelikheid van verf op doek omgaan: Opdat die kyker dalk verlei kan word om ’n skildery te geniet wat in wese ontstellend is.