Gaan na die (skaal)dier en word wys
Deur JOHAN MYBURG
Kluisenaarkrappe is voortdurend aan die soek vir ander en soms beter blyplek. Omdat dié krappe nie doppe het wat verhard nie, skuil hulle in leë slakskulpe – waarvoor dié krappe se lyf aangepas is. Die lang buikgedeelte krul gemaklik in die spiraal van die skulp op.
Namate die krap groei, moet ’n groter blyplek gesoek word. Wyfies wat eiers lê, het des te meer ruimte nodig. Dit dan kortliks die biologiese kant van dié rubriek. Metafories gesien is dié krappe dalk nog interessanter. Die vryheid wat hulle het om telkens ’n nuwe woonplek aan te skaf, stel dié skaaldiere in staat om aan hul identiteit te torring. En boonop rakel hulle ook aspekte van emigrasie en vlugtelingstatus op. Alles kwessies wat in die hedendaagse visuele kunste belangrik én gesog is.
Met haar kunsprojek Why not Hand over a “Shelter” to Hermit Crabs? (2009) het die Japanse kunstenaar Aki Inomata die aandag van die wêreld én dié van ’n paar bevoorregte kluisenaarkrappe aangegryp. Sy ontwerp draagbare, deursigtige huurhuise, in verskillende groottes én boustyle, vir dié krappe. Die Japannese term vir die kluisenaarkrap is “yadokari”, die woord wat ook gebruik word vir iemand wat ’n huis huur. Dit is dié betekenisgelaagdheid wat Inomata geprikkel het. Sy het die natuurlike vorm van die skulpe wat dié krappe verkies, bestudeer en met soortgelyke ontwerpe vorendag gekom: gedruk met ’n 3D-drukker … en met argitektoniese strukture van oral in die wêreld as deel van die skulp. “Die skuilings wat ek gemaak het,” sê die 34-jarige Inomata, “verteenwoordig stede wêreldwyd.
LEES OOK: Kuns: Yves Klein
As ’n krap een skuiling vir ’n ander verruil, steek hy as ’t ware internasionale grense oor.” Die gedagte vir die projek het gekom terwyl Inomata, ’n kunstenaar wat in Tokio woon en werk en ook daar kuns studeer het, besig was om vir ’n uitstalling by die Franse ambassade in Japan in 2009 voor te berei. Die grond waarop die ambassadegebou staan, was tot in 2009 in Franse besit, totdat die Franse die grond aan Japan gegee het – vir 50 jaar – waarna dit weer Franse eiendom word. Dit was die veranderende aard van identiteit soos dit in bogenoemde gegewe gestalte kry, wat haar aan die gang gesit het en ’n middel vir kommentaar op eienaarskap, nasionaliteit en migrasie in ’n toenemend globaliserende wêreld geword het.
Van die skuilings wat sy maak, strek van weergawes van die wolkekrabbers van New York tot windmeulens van die Zaanse Schans in Nederland. Inomata het geen planne vir massaproduksie van dié krapskuilings nie. Sy het destyds ’n beperkte oplaag daarvan vertoon en in die Ai Kowada-galery in Tokio verkoop. In 2014 het Inomata ’n video-installasiewerk gemaak wat sy I Wear the Dog’s Hair, and the Dog Wears My Hair noem. Vir dié werk het sy vir haar ’n mantel van hondehaar gemaak en vir haar hond, Cielo, een van haar eie hare. Op dié manier sou sy en haar hond “jasse kon ruil” en kon sy die verhouding tussen mens en troeteldier in die kollig stel. Maar, belangriker vir Inomata, wil sy met dié werk die aandag op die mens se verknoeiing van die natuurlike ekologie vestig deur diere by sý behoeftes en willekeur te laat aanpas. “Die konsep agter my werk is om mense sover te kry om weer te besin en respek te kry vir die verskillende vorms wat lewe by verskillende lewende wesens aanneem,” sê sy.