Die jongste toevoeging tot die juwele in die Orient-kroon is die Adriaan Boshoff-museum wat in Maart geopen is
Deur JOHAN MYBURG
In die Francolin-bewaringsreservaat in die Krokodilriviervallei, minder as ’n uur per motor van Johannesburg af en nóg nader aan Pretoria, is die vyfster- Orient- private hotel met die Mosaicrestaurant. Jare lank al is dié restaurant as een van die land se voorste eetplekke bekend, met Chantel Dartnall, wat in 2017 in Warschau, Pole, as die beste vrouesjef ter wêreld aangewys is, aan die stuur.
Maar dié hotelkompleks, wat argitektonies inspirasie in die Moorse wêreld met boë en binnehowe, met vywers en druppende water vind, is ook die setel van ’n uitgebreide kunsversameling – dié van Apbco-versekeringsmakelaars en die onderskrywerbestuurder Legacy. Die versameling wat in die 1970’s begin is, sluit werk van Gregoire Boonzaier, Alexander Rose-Innes, Gwelo Goodman, Hugo Naudé en die beeldhouer Tienie Pritchard in. Die jongste toevoeging tot die juwele in die Orient-kroon is die Adriaan Boshoffmuseum wat middel-Maart geopen is. Van Boshoff se vroegste werk tot die laaste skildery waarmee hy besig was, is in dié museum te sien.
Cobus du Plessis, mede-eienaar van die Orient en die man wat grootliks vir die aankoop van die kuns verantwoordelik is, sê Boshoff is vir hom die logiese voortsetting van wat mens Suid-Afrikaanse impressionisme sou kon noem. Adriaan Boshoff (1935–2007) is in Pretoria gebore en hoewel sy rusteloosheid meermale verhuisings tot gevolg gehad het, was die Hartbeespoort-omgewing die plek waarheen hy altyd teruggekeer het, en waar hy ook dood is. Dit was die Suid-Afrikaanse landskap wat hom deurgaans geboei het, tot dié mate dat die regering hom in 1969 opdrag gegee het om 12 groot skilderye (180 cm x 120 cm elk) met tipies Suid-Afrikaanse tonele vir ambassades reg oor die wêreld te maak.
In ’n skildery soos Olifantsrivier naby Middelburg, Mpumalanga, c. 1980, olie op doek (90 cm x 108 cm) is dit Boshoff se oog vir detail, sy sin vir dimensie en sy kleurgebruik wat ’n rustige pastorale landskap skep. Sonder enige kunsopleiding is dit sy romantiese ingesteldheid wat die deurslag in sy werk gee. Benewens landskappe was dit stillewes, veral blomstudies, en ook figuurstudies, dikwels met verwysing na sorgvrye kinderdae, wat Boshoff verbeeld het. Sonder sosiale kommentaar is dit niks meer nie as die oomblik wat hy in sy sondeurdrenkte, optimistiese doeke vasvang. “Boshoff verpak geluk in sy skilderye,” was die kunskenner Stephan Welz se mening ’n hele paar jaar gelede toe Boshoff se skilderye hoë pryse op veilings begin behaal het. “In ’n wêreld waar alles nie so voor die wind verloop nie, is Boshoff se skilderye pure ontsnapping.”
Antoinette Odendaal, kurator van die museum, het sowat 140 skilderye en enkele tekeninge van Boshoff uit die versameling vir die permanente uitstalling gekies. Haar oogmerk, sê sy, was om die besoeker ’n oorsig van die kunstenaar se werk te bied – van sy intiem guitige uitbeelding van mense en hul dinge tot groot blomstudies en landskappe. Afgesien van die ornate rame waarin die skilderye aangebied word (moontlik om meer gravitas aan die werk te verleen), is die aanbieding sober en onopgesmuk. So nederig en toeganklik as wat die kunstenaar was en sy kuns is, so pretensieloos dog keurig is die museum ingerig. Belangstellendes kan die museum op afspraak besoek. Maar die behaaglikste manier om die werk te sien, is om vir Sondagmiddagete in die Mosaic-restaurant te bespreek en ’n uur of wat vroeër op te daag om die museum te besoek. Besoek www.restaurantmosaic.com
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.