Met dié collage met verwysings na na-oorlogse populêre verbruikersartikels en Amerikaanse welvaart het Richard Hamilton standaardopvattings van kuns nogal op hul kop gedraai
Deur JOHAN MYBURG
Mens sou wou dink dat Pop Art sy ontstaan in die land van hamburgers en hot dogs, van Elvis Presley en Marilyn Monroe gehad het. Maar dit is nie so nie. Die nat klein eiland aan die Engelse Kanaal het die voorreg om die bakermat van dié kunsbeweging te wees. Dit was net ná die vernietiging van die Tweede Wêreldoorlog dat die Engelse argitek en kunskritikus Theo Crosby aan ’n uitstalling begin beplan het wat jare later steeds as ’n bepalende gebeurtenis in naoorlogse Britse kuns, maar ook kuns wêreldwyd, bekendstaan.
Die uitstalling met die titel This is Tomorrow, wat in 1956 geopen is, het die werk van argitekte, skilders, beeldhouers en ander kunstenaars byeengebring en elkeen kon aan sy of haar siening van kontemporêre kuns uiting gee. Die trefkrag van die uitstalling was juis dat dit samewerking tussen kunstenaars (wat vandag as collaborative action bekend staan) tot gevolg gehad het, en boonop ’n kunsomgewing in Londen se Whitechapelgalery tot stand gebring het – meer as net die kuns teen mure van vroeër. In soveel opsigte het dié uitstalling rimpels veroorsaak wat vandag nog voelbaar is.
Die sogenaamde Independent Group wat vir een van die 12 uitstallings verantwoordelik was, het uit ’n klomp kunstenaars bestaan wat daarna gestrewe het om in hul werk blyke van die opkomende massakultuur te gee. Een van die kunstenaars in dié groep was Richard Hamilton (1922–2011) wat ook die stukrag agter Pop-kuns was. Daar was soveel nuwe elemente wat hy in sy kuns wou inbring: flieks, die blêrkas (jukebox), strokiesprente en tydskrifte. Die kuns wat hy en sy tydgenote wou maak, moes “popular, transient, expendable, lowcost, mass-produced, young, witty, sexy, gimmicky, glamorous and big business” wees.
LEES OOK: Kuns: Yinka Shonibare
’n Beter beskrywing van Pop-kuns kan mens kwalik kry. Die kunswerk wat hy vir This is Tomorrow gemaak het, Just what is it that makes today’s homes so different, so appealing?, ’n collage wat ’n samestelling van voorbeelde uit die massakultuur is, staan as een van die vroegste manifestasies van dié nuwe kultuur bekend, met sy TV, stofsuiers en bandopnemers. Dié werk, met verwysings na na-oorlogse populêre verbruikersartikels en Amerikaanse welvaart, het standaardopvattings van kuns nogal op hul kop gedraai – juis deur Hamilton se gebruik van advertensiemateriaal (van huishoudelike toebehore tot geblikte ham) uit Amerikaanse tydskrifte.
Die aanslag is lig en ’n mens sien as ’t ware Hamilton se tong diep in sy kies. Die verobjektiveerde mans- en vrouefiguur kan in dié konteks reeds gelees word as aanduiding van die seksuele revolusie wat in die 1960’s sou volg. Persepsies van manlikheid word beklemtoon in die gespierde Adam terwyl die Eva haar man op die sofa inwag. Hamilton kon kwalik ’n juister voorstelling gee van die onmiddellike toekoms as met dié werk. En boonop vir ’n uitstalling met die titel This is Tomorrow.
Maar dié toekomsaanduiding het ook betrekking op die kunslandskap gehad. Lank voordat Amerikaanse Pop-kunstenaars soos Andy Warhol, Roy Lichtenstein, Tom Wesselmann en Claus Oldenburg op die voorgrond getree het, het Hamilton met dié werk as ’t ware ’n bloudruk van Popkuns gegee. So het die skildery teen die geel muur die bestanddele van ’n Lichtenstein, die oorgroot suigstokkie dié van Oldenburg, die naakte vrouefiguur dié van Wesselmann en die geblikte ham sou kon dui op Warhol se latere grafiese drukke van Campbell se blikkies sop.