‘Wat vir my die meeste van mense uitstaan, is die manier waarop hulle van hul eie broosheid bewus is en dan nogtans sterk en onafhanklike wesens is’
Deur JOHAN MYBURG
Fragile, ’n uitstalling van Wolfgang Tillmans, die kunstenaar wat in 2000 die gesogte Britse Turnerprys gewen het, is tans in die Johannesburg Kunsmuseum (JAG) in Joubertpark te sien. Die Duitser Tillmans (49) was die eerste fotograaf wat dié prys verower het en die beoordelaars het sy werk toe uitgesonder vir die manier waarop hy met kontemporêre kultuur omgaan terwyl hy die grense tussen kuns en fotografie en tussen die genres van portretkuns, dokumentêre werk en stillewes bevraagteken.
Twee dekades later kan ’n mens sê dat Tillmans se bevraagtekening van grense intussen ’n vervaging van grense geword het. En daarvan is Fragile, ’n uitstalling wat ’n oorsig van sy werk en werkwyse bied, ’n goeie aanduiding. Die uitstalling sluit oorgroot foto’s, beeldhouagtige voorwerpe, videoprojeksies en musiek in, maar dit is ook die manier waarop hy sy werk aanbied – as “vol-kamer-installasies” – wat in dié reisende uitstalling te sien is. Voordat die uitstalling verlede maand in JAG geopen het, is Fragile in Kinshasa en Nairobi vertoon en van Johannesburg af reis die uitstalling verder.
“Wat vir my die meeste van mense uitstaan, is die manier waarop hulle van hul eie broosheid bewus is en dan nogtans sterk en onafhanklike wesens is,” sê Tillmans oor dié uitstalling. “Dit is dié kompleksiteit, die gelaagde aard en die teenstrydighede in ’n persoonlikheid wat ek wil oordra, in die manier waarop dit in die kleredrag, styl, houdings en die manier waarop mense lewe gestalte kry.” Op die oog af lyk Tillmans se werk na gewone, alledaagse foto’s, en daaroor het hy vroeër in sy loopbaan kritiek gekry. “Dit lyk soos die werk van ’n kommersiële kunstenaar wat ’n voet in die deur van die kunswêreld wil kry,” het kritici aangevoer.
LEES OOK: Kuns: Kehinde Wiley
Mettertyd het mense aanvaar dit is die manier waarop hy die aandag op die gewone vestig. Sy oogmerk was en is om dít weer te gee wat nog nie andersins weergegee is nie. “Die vraag bly,” het hy verlede jaar ten tyde van sy solo-uitstalling in die Tate Modern in Londen in ’n onderhoud gesê, “kan ek ’n foto hiervan maak? Kan ek iets nuuts maak? Soms slaag ek nie, maar ek deins nie terug vir mislukkings nie. Soms stal ek dit – die mislukkings – selfs uit.” Die aanvaarding van gebrekkigheid en broosheid is vir hom nie ’n teken van swakheid nie, maar juis van krag. Breekbaarheid is juis die impuls wat tot die ontwikkeling van nuwe prosesse lei, glo dié kunstenaar, wat bekend is vir sy puntenerigheid en aandag aan die kleinste besonderhede.
Tillmans se sterk politieke bewussyn word in sy aktivisme ten opsigte van sake soos homoseksualiteit, die Irak-oorlog, klimaatsverandering en meer onlangs Brexit weerspieël. Hoewel sy belangstelling in sake van die dag noodwendig tot sterk standpunte lei en hoewel die politieke en die persoonlike kwalik van mekaar te skei is, is hy met hart en siel daarop ingestel om kuns te maak, het hy by geleentheid gesê. Om musiek te maak, was vir Tillmans ook nog altyd deel van kuns maak. Hy het trouens met musiek geëksperimenteer voordat hy foto’s begin neem het. Sy eerste album, 2016/1986 EP, met opnames wat van 1986 dateer, het egter eers in 2016 die lig gesien. Sy jongste enkelspeler, Source, is nou in viniel onder sy eie etiket, Fragile, beskikbaar.