Sy weergawe van dié Assiriese bul het Michael Rakowitz gemaak ‘om by die mensdom te kom spook’
Deur JOHAN MYBURG
In April 2015 het Isis-ekstremiste ’n video die wêreld ingestuur van die vernietiging van beelde in die antieke Assiriese stad Ninevé, suid van Mosul in die hedendaagse Irak. In een van die gevalle is ’n gevlerkte bul (bekend as ’n lamassu) by die ingang na die historiese stad met ’n lugdrukboor vernietig. Weerskante van die Nergal-poort het dié beelde, 2 700 jaar gelede gekap uit ’n enkele stuk kalksteen, waggehou.
Natuurlik was dié beelde van sowat 4,5 m hoog met tamaai vlerke intimiderend. Die besoeker aan die stad moes immers onder die indruk van die grootsheid van die stad en sy heerser kom. Maar tegelyk was dié gevlerkte bulle ook vriendelik – met iets van ’n glimlag op die mensgesig. Van voor af lyk dit of die bul staan terwyl dit van die kant gesien – dikwels voorgestel met vyf bene – lyk of dit loop. Volgens Isis was dié beelde Assiriese afgodsbeelde wat eens in die plek van Allah aanbid is, en daarom moes dit vernietig word. Die oogmerk is dalk nie anders nie as die “beeldenstorm”, soos die grootskaalse vernietiging van beelde in plekke van aanbidding in Nederland en ander lande in Wes-Europa kort ná die Reformasie bekendgestaan het.
Tragies soos wat enige vernietiging van argeologiese en estetiese voorwerpe ook al is, het die geskende lamassu van Ninevé tot ’n nuwe kunswerk deur die Iraks- Amerikaanse kunstenaar Michael Rakowitz aanleiding gegee. Sy weergawe van dié Assiriese bul, wat deel is van ’n reeks wat hy The Invisible Enemy Should Not Exist noem, het Rakowitz gemaak “om by die mensdom te kom spook”. Dié “spook” van papiermaché en gips en bedek met die metaal van 10 500 helderkleurige blikkies dadelstroop, is in Maart in Londen onthul waar dit tot volgende jaar op Trafalgar-plein se Fourth Plinth te sien is. Die noukeurigheid waarmee Rakowitz die blik getimmer en gevorm het om die reliëf van die beeld te vorm, soos in die baard en hooftooisel, is merkwaardig. En in sy gebruik van die dadelolie-blikkies lewer hy ook kommentaar op Irak se dadelbedryf, die grootste naas ru-olie, wat tot stilstand gekom het toe miljoene dadelpalms in die Irak-oorlog in die slag gebly het.
LEES OOK: Kuns: Marina Ambramović
Hoewel Rakowitz se lamassu so groot as die oorspronklike beeld is, probeer hy nie ’n plaasvervanger daarstel nie. Wat hy doen, is om met dié spookbeeld verlies en afwesigheid te beklemtoon. In dié opsig word die beeld as een van die suksesvolste projekte vir Trafalgar se vierde voetstuk gereken. Met sy rug na die National Gallery kyk dié spookbeeld van die lamassu suidoos, in die rigting van sy geestelike tuiste in die Midde-Ooste. Toe die Trafalgar-plein teen die middel van die 19de eeu volgens John Nash se planne voltooi is, was daar nie geld oor om die beoogde bronsbeeld van Willem IV op sy perd op die granietvoetstuk in die noordwestelike hoek van die plein aan te bring nie.
Dié voetstuk, bekend as The Fourth Plinth was deur die jare onbenut totdat daar sedert 1999 begin is om kontemporêre beeldhouwerke daarop uit te stal. Sedert 2003 wys ’n keurkomitee, wat deur die burgemeester van Londen aangestel word, elke derde jaar ’n beeldhouer aan om werk vir dié voetstuk te maak. Rakowitz se voorgangers wat beelde vir dié voetstuk gemaak het, sluit in Marc Quinn, Antony Gormley, Yinka Shonibare en David Shrigley.