Die reeks naakstudies is in die laaste paar jaar van Modigliani se lewe gemaak toe hy aan tuberkulose gely het
Deur JOHAN MYBURG
Amedeo Modigliani se Naakfiguur op die linkersy, bekend as Nu couché (sur le côté gauche), 1917, het toe nié in Mei presteer soos wat Sotheby’s in New York gehoop het nie. Nogtans is dié skildery teen net minder as R2 miljard ($157,2 miljoen) in monetêre terme een van die wêreld se kosbaarste kunswerke.
Die verwagting was dat dié Modigliani ’n nuwe rekord kon behaal vir dié kunstenaar, maar die naakstudie (Nu couché) van 1917/8 wat in 2015 vir $170,4 miljoen aan die Chinese versamelaar Liu Yiqian verkoop is, span steeds die kroon. Afgesien van die feit dat Nu couché (sur le côté gauche) onlangs op Tate Modern se groot Modigliani-uitstalling die trekpleister was, was die feit dat die verwagte verkoopprys van dié skildery voor die veiling op $150 miljoen gestel is, deel van die opwinding. Hou in gedagte dat Leonardo da Vinci se Salvator Mundi wat einde verlede jaar vir sowat R6,4 miljard ($450 miljoen) verkoop is, ’n verwagte verkoopprys van $100 miljoen gehad het. Op papier is dit dalk ’n rede tot opwinding, maar kan ’n mens werklik die Leonardo met die Modigliani vergelyk?
Die Leonardo was die laaste skildery van dié kunstenaar in private besit – wat dit net soveel te meer ’n gesogte stuk maak. Vir ernstige beleggers is dié brokkie inligting van belang. Die einste Modigliani wat nou R2 miljard gehaal het, het die vorige eienaar, die Ier John Magnier, in 2003 $26,9 miljoen uit die sak gejaag. Kort voor die veiling op 14 Mei het Sotheby’s die skildery in Hongkong gaan vertoon. “Daar is uitsonderlike connoisseurs in China,” het die afslaer voor die veiling gesê en bygevoeg dat daar ook belangstelling in Europa en Rusland was. Die nuwe eienaar, ’n telefoonbieër, se naam is nie bekend nie.
LEES OOK: Kuns: Marina Ambramović
Die naam van Liu het wel voor die veiling opgeduik as ’n moontlike koper van dié skildery. Liu het ná sy vorige aankoop aan die New Yorker gesê hy is net so geïnteresseerd in Modigliani se skilderye as in die manier waarop hy gelewe en gesterwe het. “Dit is nie net sy kuns nie, maar sy lewe. Elke voorwerp [skildery] het sy eie storie.” Dié skildery kom uit ’n reeks van 22 naakstudies wat die Italiaanse skilder en beeldhouer Amedeo Clemente Modigliani (1884–1920) tussen 1916 en 1919 geskilder het, waarvan dié een die grootste is (89,5 cm x 146,4 cm). Die meeste van dié naakstudies is in besit van openbare museums. In sy kennelik moderne benadering tot die naakfiguur roep Nu couché (sur le côté gauche) meteen La grande odalisque op wat Jean Auguste Dominique Ingres (1780–1867) ’n honderd jaar tevore in 1814 geskilder het en wat in die Louvre hang.
Die Ingres het heelwat kritiek gekry (veral deur die kunsaktivistegroep The Guerrilla Girls wat wou weet: “Do women have to be naked to get into the Met Museum?”) Die Modigliani het vreemd genoeg nooit dié soort reaksie ontlok nie. Die reeks naakstudies is in die laaste paar jaar van Modigliani se lewe gemaak toe hy aan tuberkulose gely het en sy drank- en dwelmgebruik nie tot sy algemene welsyn bygedra het nie. Toe dié skilderye die eerste keer in Parys vertoon is, in die enigste solo-uitstalling wat Modigliani in sy lewe gehad het, het die ontstoke skare buite die galery so te kere gegaan dat die polisie die uitstalling ná twee dae gesluit het. Geen skilderye is verkoop nie.