In die 19de en 20ste eeu het afbeeldings van die geboorte van Christus eintlik net op Kerskaartjies tereg gekom
Deur JOHAN MYBURG
Een van die herkenbaarste taferele wat herhaaldelik in die kunsgeskiedenis voorkom – met ’n hoogtepunt in die Middeleeue en die Renaissance – is die geboorte van Christus, kompleet met krip en staldiere en engele. In dié rubriek neem ons ’n voëlvlug oor die geskiedenis van uitbeeldings van die geboorte van Christus. Benewens die feit dat die ontwikkeling van (skilder)kuns uit dié sowat 1 700 jaar afgelees kan word, kan ’n mens ook die teologie van die dag in die kunswerke terugvind.
Die vroegste voorbeeld is die sarkofaag van Marcus Claudianus van San Giacomo in Settimiana wat om en by 330 gemaak is. In dié vroeë reliëf is die Christuskind, toegedraai in doeke, met ’n os, ’n esel, twee herders en ’n boom rondom die lae krip uitgebeeld. Maria is afwesig, want haar sentrale plek in dié verhaal het eers in die vyfde eeu gewig gekry (en was daarna onlosmaaklik deel van die uitbeeldings van die geboorte). Teen die 15de eeu, nadat heelwat water in die teologiese see geloop het (uitsluitsel is onder meer gekry oor die twee nature van Christus en die Westerse en die Oosterse kerk het elkeen sy eie rigting ingeslaan), kom ’n mens in Gentile da Fabriano se voorstelling van die geboorte (1420–1422) Maria as die belangrikste figuur in die toneel teë: geïsoleer, verhewe en as ’t ware as voorbidder vir die kyker.
Die panoramiese blik wat Gentile bied, kom byna filmies voor. In sy Mistieke geboortetoneel (geskilder teen 1500) laat vaar Sandro Botticelli die reëls van perspektief en proporsie. Jesus, Maria en Josef is prominenter as die konings én die herders en ook groter as die stal waarin die kind neergelê is. Met dié Middeleeuse perspektief benadruk Botticelli die belang van die sentrale figure. Bokant die stal hang ’n koor van engele in die lug terwyl hemelwesens en mense op die voorgrond mekaar omhels – as aanduiding van God en sondaar wat versoen geraak het. Die inskripsie aan die bokant verwys na die onseker tye (kort voor die Reformasie) waarin Botticelli gelewe het.
LEES OOK: Kuns: Bernini se beeldhouwerk
Die geboortetoneel wat Tintoretto tussen 1578 en 1581 in Venesië geskilder het, verbeeld ’n vervalle stal met dakbalke, maar geen dak nie. Deur dié gat gloei die genade van God in die vorm van lig wat op die kind en ouers straal, en deur die vloerplanke ook na die mense (van sy welbehae) op die onderste vlak. Die herder wat sy brood met die ouerpaar deel, strook met die liefdadigheidswerk waarvoor die Scuola San Rocca in Venesië (vir wie die skildery gemaak is) bekend was. In die 19de en 20ste eeu het afbeeldings van die geboorte van Christus eintlik net op Kerskaartjies tereg gekom.
Behalwe vir die driedimensionele voorstelling wat die Amerikaanse beeldhouer Edward Kienholz in die 1960’s gemaak het. Dié tablo met sterk invloed van die Surrealisme is van hout, metaal, gegalvaniseerde plaat en gevonde voorwerpe – van speelgoed tot nerts – gemaak. Teen die tyd toe Kienholz sy uitbeelding van die geboortetoneel gemaak het, het geloof lank nie meer die plek ingeneem wat dit vroeër gehad het nie. Daarvoor het die filosofie van Friedrich Nietzsche onder meer gesorg. Dit is nou nie meer geloof of teologie wat die onderbou in dié kunswerk vorm nie, maar die kunstenaar se gevatte interpretasie van die gebeure. Nietemin is die basiese gegewe van die geboortetoneel deur die loop van die kunsgeskiedenis só sterk vasgelê dat ’n mens in Kienholz se voorstelling sonder enige probleme die kernbestanddele herken.