Gevoellose swendelaars bedrieg eensame vroue wêreldwyd onder die dekmantel van liefde uit groot bedrae geld. En die sosiale media en internet maak dit alles so maklik
JACKIE PIENAAR-BRINK
Swendelaars bedrieg eensame vroue wêreldwyd onder die dekmantel van liefde uit groot bedrae geld. Hoewel daar ‘n magdom maniere is waarop hulle te werk kan gaan, stem baie dikwels in wese ooreen.
‘n Spesifieke vrou sal aanvanklik op die sosiale media of ‘n afspraak-webtuiste geteiken word.
Daarna sal die man wat sy bevriend (dit kan selfs verskillende mans wees wat hulle as een voordoen) die vrou se vertroue probeer wen deur (vals) inligting oor homself aan haar te verskaf. Dit sal opgevolg word deur ‘n versoek dat sy haar telefoonnommer en/of e-posadres verskaf.
Nadat die romanse begin blom het, sal die vrou ingelig word dat die een of ander pakkie met waardevolle besittings, dikwels juwele, aan haar gepos gaan word. Om haar gerus te stel, sal ‘n (vals) bestelnommer of geleibrief as sogenaamde bewys verskaf word.
Uiteindelik sal sy uit ‘n land soos Maleisië gekontak word omdat daar kamtig ‘n betaling uitstaande is voordat die pakkie finaal aan haar versend kan word. Het sy eers een keer betaal, sal dit deur verdere versoeke om geld opgevolg word.
Besoek www.reviewstalk.com/complaints-reviews/fast-track-courier-services-malaysia-l4081.html vir tipiese voorbeelde van briewe wat aan slagoffers gestuur word
‘n Nigeriër, Olayinka Ilumsa Sunmola (32), het in ‘n Amerikaanse hof beken dat hy die leier was van ‘n sindikaat wat honderde Amerikaanse vroue aanlyn uit geld bedrieg het. Die groep was vanuit Suid-Afrika bedrywig en het allerlei noodgevalle versin sodat geld aan hulle oorbetaal kon word. Sunmola is in 2014 in Londen, kort voordat hy ‘n vlug na Suid-Afrika sou haal, in hegtenis geneem.
Volgens Nigerië se aanlyn-nuusplatform Pulse.ng, word hy op 17 Junie vanjaar op agt aanklagte gevonnis en deur 127 jaar tronkstraf en ‘n stewige boete in die gesig gestaar. Hy het vals aanlynprofiele geskep deur die foto’s en name van werklike Amerikaanse mans op aanlynafspraak-webtuistes te gebruik. ‘n Gunsteling was om hom as ‘n voormalige of huidige Amerikaanse soldaat voor te doen.
Die Sunday Times het berig dat hy so suksesvol was dat hy drie eiendomme in Pretoria en een in Sandton, Johannesburg, kontant kon koop.