Tegnologie het ons lewe op soveel gebiede vergemaklik, maar het ook tot nuwe probleme in verhoudings gelei, soos aanlynontrouheid en kuberseksverslawings, skryf Ansja Ferreira
Ansja Ferreira
Jy kan nie wag om daai rekenaar in die aand aan te sit en met iemand te gesels nie. Jy voel ‘n bietjie skuldig oor jou vrou, maar ag, dis mos onskuldig. Dis net aanlyn, niks fisieks nie …
Volgens Yannick Chatelain, medeskrywer van In Bed with the Web: Internet and the New Adultery, is die internet vinnig besig om in die algemeenste vorm van ontrouheid te ontaard.
Volgens die Fortino-groep behels een derde van alle egskeidingslitigasie nou een maat se aanlynontrouheid en kom die waarheid daaroor dikwels uit.
Nelia* is ’n 32-jarige huisvrou en ma van twee kleuters.
“My lewe is soms maar eentonig en wanneer die kleintjies by die kleuterskool is, bring ek baie tyd voor my rekenaar deur. Eers het ek net Facebook, nuuswebwerwe en aanlynwinkels besoek en later geselskamers. Toe ek weer sien, was ek in volwasse geselskamers. Soos wat die tyd verloop het, het ek ’n spesiale verhouding met ’n man gevorm wat ek in een van hierdie geselskamers ontmoet het. Hy dring nou daarop aan om my te ontmoet en ek het slapelose nagte daaroor. Ek weet dinge het te ver gegaan en as my man hiervan uitvind, is ons huwelik verby.”
Joseph* is ‘n kuberseksverslaafde en het sy aanlynontrouheid verder geneem. Hy vertel hy kom uit ’n gesin waar middelafhanklikheid ’n rol gespeel het: “My ma was ’n alkoholis en is dood toe ek 19 is en my broer het op 16 aan dwelms verslaaf geraak. Ek het my hele lewe daarvan gedroom om van my huis en familie weg te kom en ’n beter lewe as hulle te hê. Toe ek uiteindelik ’n werk kry en my vrou op 23 ontmoet, was sy alles waaroor ek gedroom het: mooi, slim, vriendelik. Ek kon liefde gee en het gemaklik, veilig, sterk en trots op myself gevoel. Ons was ontsettend gelukkig. Ek was ambisieus, hardwerkend en het vir my vrou geleef. Vir vriende en kollegas was ons ’n voorbeeld van die perfekte paartjie.
“Hoewel ek die ambisieuse een was, was my vrou die een wat finansieel suksesvol geword het. Ek het nie dieselfde sukses behaal nie en mettertyd depressief daaroor geraak.
“Weens stresvolle omstandighede by my werk, het ek verder depressief geraak en dit het ons verhouding negatief begin raak. Ek was te skaam om dit met my vrou te bespreek. Ek het nie geweet hoe om my emosies te hanteer nie. Ek het na pornografie-webwerwe begin ontsnap. Dit het afstand tussen my en my vrou veroorsaak en ek het selfs voorgegee dat ek laat werk sodat ek op my werksrekenaar sekswebwerwe kon besoek. Allerlei pop-ups het my ook aan ander konsepte blootgestel en ek het gewalg met myself gevoel. Ek het selfs begin om seksueel oor my stiefdogter te fantaseer!
“Ek het later seksgeselskamers ontdek. Dit was opwindend om met ’n vrou te gesels wat geweet het waarna ek op soek is: no strings attached-seks. Dit het tot flirtasies met vroue in werksomgewings gelei, wat uiteindelik tot ’n seksuele verhouding met ’n getroude kliënt gelei het. Daar was tye wat ek myself gehaat het en ander kere wat ek net nie meer omgegee het nie.
“My vrou het van die verhouding en my verslawing uitgevind. Sy was verpletter. ’n Terapeut het ons aangeraai om nie vinnige besluite te neem nie. Ek het met my seksverslawing vir hulp aangeklop en sien al die afgelope vyf maande ’n terapeut.
“Ek het ’n onlangse terugslag gehad en my vrou vind dit ontsettend moeilik om die situasie te hanteer. Sy het haar vertroue in my verloor. Daar is woede, skuldgevoelens, skaamte en baie vrae wat in die lug hang. Ons argumente beïnvloed ons kinders negatief. Ek het ’n verkeerde keuse gemaak en ek kan nie die verlede verander nie. Maar ek wil ons toekoms verander. Om hulp te kry, was die eerste stap in die lang pad na herstel.”
Wat is dit nou eintlik?
Kuberseks is seksuele opwekking deur middel van rekenaartegnologie en om ’n aanlynverhouding aan te knoop waar seksuele boodskappe aan mekaar gestuur word.
Studies toon vroue loop selfs ’n groter risiko as mans waar dit by kuberseksverslawing kom. Omdat vroue eerder verhoudings nastreef, sal hulle eerder seksueel georiënteerde geselskamers besoek as die suiwer pornografiese webwerwe wat mans weer verkies.
Theo B Kriek is ’n seksverslawingsterapeut met kantore in Pretoria en Krugersdorp. Volgens Theo raak mense dikwels as gevolg van nuuskierigheid aan kuberseks verslaaf.
“Baie mense kyk na seksuele dinge op die internet wat voorheen net oor gepraat en nie gesien is nie. Kuberseks het die grootse profytmaker op die internet geword wat selfs die verkoop van rekenaars en sagteware verbygevat het,” sê hy.
“Die meeste pornografie word tussen 09:00 en 17:00 afgelaai en dit beteken kinders by die huis en volwassenes by die werk. Aan die positiewe kant kan mense nou inligting rondom seks en seksualiteit op die net bekom,” sê hy.
Die sielkundige dr Hermann Liebenberg sê kuberseksverslawing gaan ook oor beheer. “Dit geld veral vir mans wat van die een webwerf na die ander gaan en kan kies en keur. Dis niks anders as fantasie wat ’n visuele vorm aanneem en die realiteit van ’n sinvolle verhouding belemmer nie. Narsiste gebruik graag die kuberruim met hul gedokterde foto’s om hul behoefte aan selferkenning vanuit ’n magdom mense te ontlok.”
Theo verduidelik hoe kuberseksverslawing gebeur: “Elke keer wanneer iemand kuberseks beoefen, skei die brein endorfiene af, wat die persoon laat goed voel. Wanneer jy hierdie gevoel meng met die feit dat baie van die lyers alleen, geïsoleerd en afgesny voel en emosionele pyn ervaar, raak die gewoonte om te kyk ’n manier om die pyn te verlig.
“Die brein word later gekaap deur ’n onderbewustelike hunkering na kuberseks as gevolg van die beter-voel-effek. Dan bestee jy meer tyd aan kuberseks of jy kyk wetende wat die gevolge sal wees, of ten spyte daarvan dat jou werk of skoolwerk daaronder lei. Jy kan nie ophou nie en die uiteinde is radikaal, sê Theo.
“Dit wat die brein in die begin gestimuleer het, stimuleer later nie meer nie en soek die brein die hele tyd na nuwe of meer intense of gewelddadige of verbode artikels.
“Kuberseks gee baie keer ook daartoe aanleiding dat fantasieë in die regte lewe uitgeoefen word. Kuberseks vind onder meer plaas op pornografiese webwerwe, aanlyngeselskamers en webwerwe waar sekspartytjies geadverteer word.”
Theo verduidelik watter groot skade die kuberseksverslaafde aan hulself, hul verhoudings of huwelike kan doen: “Die kyker probeer dit meestal ’n geheim hou en wanneer so ’n persoon uitgevang word, kan die skade massief wees. Daar is gevoelens van geestelike leegheid en fisieke probleme kan ontwikkel soos slaaploosheid, moegheid, maagsere, hoë bloeddruk en gevoelens van selfdood en hopeloosheid. Die persoon kry dit nie reg om te stop nie, die gevoel dat teen waardes en oortuigings opgetree word, die groot las van skaamte en skuldgevoelens, gevoelens van depressie en sterk gevoelens van isolasie en alleenheid kom voor, sê Theo.
Dr Mary Anne Layden van die Universiteit van Pennsilvanië het bevind dat pornografieverslaafdes se seksuele prestasie beïnvloed kan word. Volgens haar neig hulle daartoe om probleme met premature ejakulasie en erektiele disfunksie te hê.
“Deur soveel tyd in onnatuurlike seksuele ervarings in die kuberruimte deur te bring, wil dit voorkom asof hulle dit moeilik vind om seks met ‘n werklike menslike wese te hê.”
Volgens dr Michael Adamse, medeskrywer van Affairs of the Net: The Cybershrinks’ Guide to Online Relationships, word sowat 70% van die aanlyntyd in geselskamers bestee of om e-posse te stuur en is die oorgrote meerderheid van hierdie interaksie romanties van aard.
Op die vraag of kuberseksverslawing behandel kan word, is die meeste kenners se antwoord ’n definitiewe “ja”.
Daar is verskeie maniere waarop mense gehelp kan word.
“Die eerste stap is om die probleem te erken. Hoewel huweliks-, professionele en maatskaplike gevolge kan volg, is die erkenning van die probleem noodsaaklik, ondanks die gevolge. Die vrees vir hierdie gevolge keer talle seksuele verslaafdes om hulp te soek. Baie vorms van hulp is beskikbaar om inligting, ondersteuning en bystand te bied aan seksueel verslaafdes wat beheer oor hul lewens wil verkry. Dit sluit in binne- en buitepasiëntbehandeling, professionele verenigings, selfhelpgroepe en ondersteuning. Behandelingsprogramme bied ook gesinsberadingsprogramme, ondersteuningsgroepe en opvoedkundige werkswinkels vir verslaafdes en hul gesinne. Anders as alkoholiste op die herstelpad wat vir die res van hul lewens nie weer mag alkohol gebruik nie, word seksueel verslaafdes na ’n gesonde sekslewe teruggelei.
*Skuilnaam
• Theo B Kriek: 076 165 1587