Daar is liefde in die kuberruim. Hier’s raad vir aanlynafsprake. Een gelukkige paartjie vertel hul verhaal in ons 21 November-uitgawe.
Luisa van der Linde
’n Mens lees dikwels van aanlynliefdes wat vou en waar die sjarmante droomman eintlik ’n gladdebekskurk was, maar daar is gevalle waar die liefde wel blom.
Raad vir aanlynafsprake
• Wees versigtig vir aanlynafsprake as jy op die rebound is. As mense nog hartseer oor ‘n mislukte verhouding is, sal hulle baie maal soveel moontlik afsprake deurwerk om beter oor hulself te voel.
• Moenie begin uitgaan as jy nog baie seer oor ’n mislukte huwelik het en net ander mense as klankbord vir jou bakleiery met jou eks gebruik nie.
• Wanneer die regte persoon oor jou pad kom, moet jy die integriteit hê om dit vir al die ander mense met wie jy in daardie stadium gesels, te vertel.
• Maak seker jou aanlynvriende is wel geskei.
• Wees baie versigtig voor jy “ja” sê vir ’n vriendskap of ’n afspraak.
• Hou jou oë oop vir skelms wat geld vra en dan hoor jy nooit weer van hulle nie. Soms vra iemand net vir ’n buskaartjie en dan kry jy daardie persoon jammer …
• Wees eerlik en reguit as jy nie in iemand belangstel nie. Skryf net: “Jammer, ek dink nie ons profiele pas nie.”
• Daar gaan mense wees wat jou blok of ongeskikte aanmerkings maak – wees dikvellig en moet jou nie daaraan steur nie.
• Maak seker dat jou en die persoon met wie jy gesels se doel hoekom julle daar is dieselfde is. Dit help nie jy soek ’n langdurige, standvastige, romantiese verhouding en al wat hy soek is ’n penvriendin nie.
• Maak vir jouself duidelik wat jy uit die internetvriendskappe wil hê: “Is dit ’n tweede of derde kans op ware geluk? Is dit net mense wat jou ego streel? Is dit iemand om by af te pak oor jou huidige geliefde?
• Frieda sê: “Sit asseblief ’n mooi foto van jouself op. Bly getrou aan wie en wat jy is, want jy gaan die regte persoon ontmoet wat by jou pas.
• Onthou, jou geluk kan nie van ’n ander mens afhang nie. As jy op ’n webwerf gaan om iemand te kry wat jou gaan gelukkig maak, gaan dit nie werk nie. Jy moet jouself gelukkig maak voordat jy iemand anders gelukkig sal kan maak.