Is pasgebore babas se glimlaggies aan reflekse te wyte of wil hulle regtig glimlag?
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Wie se hart vermurwe nie as ‘n baba glimlag nie?
Baie mense glo egter dat pasgebore babas se glimlagte nie regte glimlagte is nie, maar eintlik net weens krampe is. Onwillekeurige bewegings dus.
Volgens ‘n artikel op www.theconversation.com toon navorsing die afgelope 50 jaar dat pasgebore babas meer as net refleksbewegings toon. Hulle kan byvoorbeeld slaap om stresvolle gebeure uit te sluit en huil as hulle stimulering of interaksie soek. Hulle kan selfs glimlagte naboots so vroeg as 36 uur ná hulle gebore is. Hulle sal selfs uit vorige ervarings leer! Soos wat op hul heel eerste dag op mMoeder Aarde gebeur het. Wonderlik, nè?
Baie handboeke sê babas se eerste sosiale glimlag vind eers op twee maande en ouer plaas.
Dr Emese Nagy, ‘n navorser verbonde aan die Universiteit van Dundee, wat self navorsing oor die kwessie doen, skryf dat studies al gevind het dat pasgebore babas glimlag as jy hul wang of magie vryf en glimlag as hulle iets lekkers ruik of proe.
Regte glimlagte (die sogenaamde Duchenne-glimlagte) behels dat die groot spiertjies werk wat die mond opwaarts trek, en ook dat die spiere om die oë beweeg. Daar is altyd gedink dat neonatale glimlagte slegs die mondgedeelte betrek, maar wetenskaplikes wat babas se gesigsuitdrukkings mikro-analiseer (raampie vir raampie), het wang- en oogbewegings by babas se glimlagte opgemerk.
Nog studies het getoon dat pasgebore babas meer glimlag as hulle wakker is as wat hulle slaap, wat ook toon dat sosiale faktore betrokke kan wees.
Babas begin ook eers hul wange en wenkbroue beweeg voor hulle glimlag wat daarop dui dat hulle op hul versorger se gesig fokus. Dr Emese sê dit is dus heeltemal moontlik dat pasgebore babas glimlag omdat hulle wil glimlag.
Klik hier om die volledige artikel op www.theconversation.com te lees