Die Raucous Caucus is vanjaar vir die eerste keer gehou
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
Gaste het onlangs ’n raar geleentheid gehad om meer van die samewerking tussen Gabriëlskloof Wyn en Olyflandgoed Landgoed, Crystallum, Thorne & Daughters en Momento Wyne onder die banier van Gabriëlskloof Collective te leer, by ’n geleentheid wat as Raucous Caucus bekend gestaan het. Die geleentheid is vanjaar vir die eerste maal gehou.
Die onderskeie wynmakers het gaste en wynliefhebbers in die landgoed se oulike kapelletjie ontmoet en die geleentheid gebied om idees uit te ruil, meer oor hul samewerking te wete te kom en agterna die wyne van die onderskeie wynmakers te proe. Die gesprek is deur David Cope gelei.
Die kapelletjie se vensters kyk uit oor grasgroen koringlande, met wuivende geel kanola, terwyl die landgoed se olyfboorde en wingerde die prentjie afrond.
Vier wynmakers gebruik die kelderfasiliteite by Gabriëlskloof, waar Peter-Allan Finlayson die keldermeester en Donovan Ackermann die wynmaker is. Die ander twee wynmakers, Marelise Niemann van Momento Wyne en John Seccombe van Thorne & Daughters, maak onder hul eie etikette wyn.
Donovan het aan gaste vertel dat die samewerkingsooreenkoms voordelig vir elkeen van die wynmakers is, want hulle leer almal van mekaar en het goeie klankborde van mense wat ook daagliks met die uitdagings van die wynbedryf worstel.
Hulle was dit eens dat Chenin blanc uitstekend vaar in die Botrivier-streek en dat dit belangrik is om vir wynliefhebbers te leer hoe verskillende grond op een plaas, verskillende wynstyle tot gevolg het. Gabriëlskloof se nuwe Landscape Series is juis ’n goeie voorbeeld hiervan.
LEES OOK: Wynmaker: Peter-Allan Finlayson
Peter-Allan het gesê hy is opgewonde oor die volgende dekade in die Suid-Afrikaanse wynbedryf, om te sien hoe style en kultivars gaan ontwikkel en streke dalk gaan wegdoen met tradisionele praktyke waar ’n verskeidenheid kultivars aangeplant is om ’n volledige wynportefeulje te bied.
Marelise het bygevoeg dat Botrivier in die afgelope dekade van 3 wynplase tot 15 lede van die Botrivier Wynvereniging gegroei het en dat die mense daar van saamstaan hou. “Ons baklei nie teen mekaar nie en dis die suksesresep van ons streek,” het sy vertel.
Sjef Frans Groenewald van Gabriëlskloof Restaurant, het oor middagete vir peuselhappies gesorg wat met die onderskeie wyne gepasmaat kon word.
Gaste kon benewens die wyne van Gabriëlskloof, Momento en Thorne & Daughters, ook Peter-Allan Finalyson se Crystallum-reeks proe en die tweede deel van Gabriëlskloof se Landscape Series – wat drie nuwe rooiwyne inlsuit wat die Overberg se diverse terroir vertoon.
Die Landscape Series, wat verlede jaar met twee witwyne geloods is, bestaan uit vyf wyne wat die klem plaas op Gabriëlskloof se natuurlike erfenis. Die etikette huldig die opregte verteenwoordiging van die elemente wat die wyne uniek maak en is deur die kunstenaar, Niël Jonker, wat bekend is vir sy landskap-panele wat in die ooptes geverf word. Die drie nuwe Gabriëlskloof Landscape Series rooies is Cabernet Franc 2015, Syrah on Sandstone 2015 en Syrah on Shale 2015.
“Gabriëlskloof is geseënd met ’n terroir-diversiteit wat komplekse karakters aan ons wyne verleen. In die twee Syrah’s in die Landscape Series, het ons trekke gevind wat dit die beste illustreer,” het Peter-Allan by die proetafel verduidelik. “Hulle verteenwoordig die twee hoof grondtipes op die eiendom; ons sandsteen wingerde produseer ’n elegante, geparfumeerde Syrah, terwyl die swaarder skaliegrond diep vrugkonsentrasie en diepte bied.”
Gabriëlskloof is in 2000 gestig en beslaan 160ha met 68ha onder wingerd. Die grootste meerderheid wingerde wat aangeplant is, is die rooi Bordeaux- en Rhône variëteite. ’n Beduidende gedeelte van die grond word ook vir olyfboorde gebruik. Die plaas geniet asemrowende uitsigte oor die Babylonstorenberge en omliggende koringlande. Die stylvolle besoekersentrum is ’n landmerk-bestemming wat wyn-, sjokolade- en olyfolie proeë aanbied en dis die tuiste van ’n aantreklike plaas-styl restaurant, waar langgeroosterde, gedeelde maaltye bedien word, met egte plattelandse passie en ’n ruim hand.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.