Dis nou wel geen Betlehemster wat haar lei nie, maar dit is al opsie wat sy het
Deur Elize Parker
Alicia Louw sal enige taak of projek aanpak om Kersfees te vermy. Sy wens daar was ’n pil wat sy kon drink om haar Kersfeesblues weg te toor.
Sy is nie die sentimentele tipe nie. Hondjies en katjies irriteer haar, en rooi rose gee haar sinus.
Te veel emosie maak haar verbysterd en verward. En Kersfees bruis die wêreld met gevoelens, soos die vonkelwyn wat vloei.
Buitendien, verlede jaar het haar geliefde Riaan haar op Kersfees afgesê.
Kersfees alleen. Sy verkies dit so. Maar vanjaar is daar geen wegkomkans nie. Sy is skuins voor Kersfees deur haar huurmaatskappy tydelik uit haar woonstel gesit. Sy het gehoop hulle sal gerieflik vergeet dat die woonstel volgens kontrak vir die Kerstyd aan toeriste verhuur mag word. Dis een van daai dinge as jy in Kaapstad bly. Haar meubels word vir drie weke gestoor en dan kan sy weer intrek.
Voor sy haar kom kry, was sy op pad na Riebeek-Kasteel om by haar niggie, Stella, in haar gastehuis handjie by te sit vir die Kerstyd.
“Asseblief! Almal is hier! Hoe sal ek nou voel as ek weet jy sit Kerstyd op straat!”
Nou, skemertyd hier in die gastehuis se dakkamer, kyk sy uit na die manjifieke kerkgebou op die heuwel. Die aandgloed trek ’n sjaal oor die berge en iewers is ’n braaivleisvuur aangesteek.
In die sitkamer speel die Franse gas, André, Stille Nag op die klavier. Hulle twee het al saam wingerde verken, koffiewinkels uitprobeer en laataand geswem.
Met sy kort, donker hare en breë skouers is hy aantreklik verby op so ’n Mediterreense manier. Daarby is hy sjarmant en vermaaklik. Klaarblyklik hier om na die olywe en wyn se uitvoer ondersoek in te stel.
Die kerkklokke lui vir die Oukersaanddiens. Iewers skree kinders uitgelate, sekerlik oor die vooruitsig om later vanaand geskenke oop te maak. Of doen ’n mens dit nou weer die oggend? Kersfees was nooit juis ’n geleentheid in haar grootwordhuis nie.
Asof sy haar gedagtes lees, kom Stella die kamer binne met ’n hoed in haar hand. “Trek een,” sê sy en Alicia kyk na die papiertjies.
“Secret Santa,” sê Stella. “’n Anonieme geskenk-Kersspeletjie. Ons gee net so ná sonop op Kersdag die geskenke. Ek los vir jou die toedraaigoed op die kombuis se toonbank,” sê Stella en verdwyn so vinnig as wat sy gekom het. Alicia vou die papiertjie oop. André. Sommerso. Klink ’n bietjie gekook. Sy kén haar niggie.
Nou maar waar kry sy ’n geskenk vir die Fransman op ’n dorp wat reeds drie-uur toegemaak het?
Alicia se oë flits oor die dorp se daklyn en sien die vulstasie se helder advertensie teen die lug inklim. Dis nou wel geen Betlehemster wat haar lei nie, maar dit is al opsie wat sy het.
LEES OOK: Kortverhaal: Servaas se kersspel
Dis soos ’n teken. Dis seker al waar sy kan regkom. Waarmee nogal? Wel, miskien sjokolade? Hy snoep die hele tyd aan soetgoed.
Maar watter soort sal hy eet? En hoe sal sy weet wat is lekker? Sy het jare gelede haar mond aan soetigheid gesit. Sy is te veel van ’n gimfanatikus. Sy sal maar ’n klomp moet koop en dit toets, besluit sy en val in die pad.
Daar is iets daaraan om op ’n stil plattelandse dorp die skemer flonkerend te sien aankom. Die petroljoggies by die vulstasie is vrolik aan die sing. Kersliggies flits uit huise se vensters.
Iewers het Kersfees sy heiligheid vir haar verloor. Dalk het iemand dit gesteel.
Om te onthou, is nie altyd ’n seën nie.
Miskien bring ’n engel dit eendag terug.
Sy stap by die helderverligte vulstasiewinkel in. Haar oë flits oor die aanbod: toiletpapier, katkos en kartydskrifte. Gelukkig is die verskeidenheid sjokolade uitgebrei. Sy gryp sommer ’n dosyn.
Tannie Kleintjie, die eienaar se vrou, staan vanaand in as kassier. Sommerso in haar flip-flop-plakkies.
“Ag ek is so bly ek sien jou, hartjie. Dis seker vol by Stella? Maar sy het mos altyd plek vir nog een!” sê sy en wink iemand nader.
’n Kaalvoetman in ’n sakkerige denim en ’n hemp wat halfpad uithang en ’n bababottel nonchalant in sy agtersak, staan nader.
Hy skuif die babaseuntjie op sy heup effe op. Tussen sy donker wenkbroue is daar ’n diep frons.
“Die ou se 4×4 gee probleme. Hy sal nooit die Kaap haal nie. Oom Blackie het klaar gekyk. Hy sal hom nie nou kan help nie. Hy soek slaapplek. Wil jy hom nie saamvat na Stella toe nie? Ons kry nêrens slaapplek vir hom nie. ’n Veilige herberg, jy weet? Almal is vol. Dis net hy en die baba. No room at the inn, so te sê?”
Hy lig sy wenkbrou en steek sy hand uit. “Roelof Fourie, en dis Leon.”
Alicia lig ongemaklik haar blonde hare uit haar nek oor haar een skouer. Kan een mens jou so vinnig waarneem en opsom? Sy voel geweeg, maar weet nie wat hy bevind het nie.
“Wel dis vol, meestal familie …”
“Nie plek vir ’n muis op die dorp nie. Maar ons weet Stella sal ’n plan maak?” por tannie Kleintjie aan. Ewe toeristevriendelik en kleindorpgasvry.
“Kom ons gaan hoor?” sê sy vir die man.
Buite maak hy die deur van ’n modderbesmeerde viertrekvoertuig oop en gordel die seuntjie in. Sy klim solank in.
“Ek hoop nie jy gaan my ’n geseënde Kersfees toewens nie,” sê hy rofweg toe hy inklim. “Hoewel ek ná vandag met ’n Krismisengel kan doen …”
Uiteindelik, dink Alicia. Nog iemand met Krismisblues. En ’n engelwens.
“Leon se ma is laas Kersfees oorlede,” sê hy verduidelikend in ’n skor stem.
Te veel inligting, dink sy verward, haal ’n plak sjokolade uit en bied dit vir hom aan.
“Ek eet nie eintlik tjoklits nie. Jy, wel, dis duidelik jy is verslaaf … Waarnatoe nou?”
Gelukkig kan Stella ’n plan maak. Die ou stal is as ’n kamer vir platsakstudente ingerig. Roelof is tog te dankbaar, pak uit en gaan krap saam met Stella se man, Anton, onder die enjin se kap. Hy gee Leon vir Alicia aan, duidelik gewoond aan hulp met Leon. “Sal jy hom bad, asseblief?”
LEES OOK: Kortverhaal: ’n Kersfeessandaal
Sy staan verbaas met die warm seunslyfie teen haar kaal arms. Hy het duidelik geen vreemdelingvrees nie en speel dadelik met haar hare.
Sy voel hoe sy soos ’n blom in ’n papiergewig hang. Gevries in tyd. Kan niemand sien sy het nog nooit ’n baba gebad nie?
Stella druk twee handdoeke in haar arms en marsjeer haar badkamer toe. Dis toe makliker as wat sy dink en nogal prettig. Leon is tog te skattig.
Toe Alicia klaar is, help Stella haar om Leon met ’n bottel in die outydse bababedjie in die buitekamer tuis te maak. Hy het skaars gaan lê, toe is hy aan die slaap met ’n los onderlippie wat pruil en sagte handjies ontspanne in die lug en met nat krulletjies teen sy voorkoppie. Sy lang, donker wimpers soos sy pa s’n, lê vredig op sy rooi wangetjies.
Iets heiligs kruip terug in haar hart. Die wonder van ’n baba. Van lewe.
Roelof glip sy arm om haar skouer. Sy het hom nie eers hoor inkom nie. Die oomblik het ’n soort helderheid. Dalk ’n soort deurskynende herkenning? Jy wéét en hy wéét, maar wat julle weet, weet julle nie eintlik nie.
“Dankie,” sê hy vlugtig. Die kerkklokke begin beier. Dis middernag. “Geseënde Kersfees,” sê hy asof hy ’n verskoning gevind het om ’n soen op haar wang te los.
“Maar ek dog jy glo nie aan Kersfees nie …”
“Vanaand ná al hierdie hulp … vanaand glo ek weer aan Kersfees. Jy weet nie hoe bang ek eintlik vir hierdie eerste Kersfees sonder Lizette was nie.”
Hy wink dat hulle moet aanstap na waar Stella vonkelwyn op die stoep onder die helder sterre uitdeel. Hulle sal steeds ’n ogie oor Leon se kamer kan hou.
André stap nader en glip haar in ’n stewige omhelsing in. Dis ’n rukkie voordat sy haar losgewriemel kry en wegstap.
Roelof volg haar en gaan sit op die stoepmuurtjie. “Te raserig vir jou?” vra hy.
“Dalk te Kersfeserig,” sê sy. Sy kop lig vraend.
Skielik kry sy perspektief oor haar kinderagtige renons in ’n dag wat so spesiaal is. Daar is mense wat regtig ’n rede het om Kersfees hartseer te wees. ’n Weersin in Kersversierings en Kersliedjies in winkelsentrums klink so aangeplak. Planne om winkels te vermy en Kerspartytjies te boikot, skielik plein simpel.
“Dis net nie my soort dag nie,” sê sy.
“Dan hou jy ook seker nie van Valentynsdag nie?” vra hy.
Sy knik. “Ek ook nie! Te veel emosies!” sê hy.
Hulle begin gesels oor sy reis na Namibië en hy ryg stories oor Leon uit.
Veel later stap hy saam met haar terug na die huis toe.
“Dankie. Ek het bykans vergeet dis Oukersaand,” neem hy afskeid.
Die volgende oggend stap Roelof met Leon op sy heup die ontbytvertrek binne toe André sy geskenk oopmaak. Hy val haar om die hals.
“Sjokolade! Jy verstaan my so goed!” sê hy. Alicia glimlag ongemaklik.
Roelof maak Leon in die babastoeltjie tuis en kyk net skuinsweg op. Stella gee die pap so terloops vir Alicia aan om Leon te voer toe hy en Anton na die viertrek gaan kyk.
Roelof sluit later by haar aan toe sy ’n entjie met Leon wil gaan stap.
“Ons het die 4×4 reggekry. Ek dink ek sal voor ete in die pad val,” sê hy bruusk.
“En Stella se Kersete misloop?” Sy sien skielik nie kans vir die Kersmaal sonder hom en Leon nie. “Bly, asseblief?”
“Ek dog jy gee nie om oor die tierlantyntjies en fieterjasies van Kersfees nie?”
“Skielik gee ek weer om,” sê sy en kyk veelbetekend na hom, sy tel Leon uit en gee hom ’n drukkie.
“Maar die Fransman … Ek dog … Jy het dan vir hom so ’n spesiale geskenk gegee en als? You know me well … ” maak hy André na.
“Uit nood, ja! Dit was al opsie in die vulstasiewinkel.”
Roelof neem Leon by haar en sit hom terug. “Ek het nie ’n geskenk vir jou nie.” Hy kyk na die vulstasiewinkel wat skielik voor hulle opdoem. “Wel, ek kan seker altyd vir jou ’n tjoklit koop?” spot hy.
“Wat van ’n roomys?” lag Alicia. Hulle stap binne en glimlag vir tannie Kleintjie. Sy lyk in haar noppies vir iemand wat op Kersdag werk, dink Alicia.
Oom Blackie sluit by haar aan en glimlag vir Roelof. Hulle ruil Kerswense uit.
“Ek’s bly jy het gisteraand plek gekry, ou seun. Riebeek-Kasteel is Kerstyd nogals leeg. Almal see toe en net die dapperstes hier in die hitte. Ek het darem nie daaraan getwyfel dat jy plek sou kry nie. Dis dié dat ek voorgestel het jy bly oor.”
Hy kyk verontwaardig na die tante. “Nou vir wat slaan jy my so in die sy met die elmboog, Kleintjie Swart?” vra hy.
“Want jy praat te veel, Blackie Swart!” Tannie Kleintjie boender die oom uit sodat hy na ’n kliënt buite moet gaan omsien. Sy gaan help dadelik iemand by die koeldrankkas.
Roelof kyk betekenisvol na Alicia. “Toe was daar heeltyd room at other inns? Dink jy wat ek dink?” vra hy.
Sy knik glimlaggend. Daar was toe ’n Kersengel. ’n Heel onwaarskynlike engel in ’n garagewinkel. Met flip-flop-plakkies en ’n Valentynshart.