Ek het nog nooit vir Delia gelieg nie. Kinders weet instinktief baie meer as wat ’n mens dink
Deur AMOS VAN DER MERWE
“Hoe gaan ’n mens hemel toe?” Die twee kinderoë kyk moeg na my. Delia is maar agt, maar haar oë is dié van ’n ou mens; die verhaal van haar lang stryd tussen hoop en twyfel lê diep in haar blik geëts. ’n Bleek handjie wriemel onder die wit laken uit om myne te soek.
“O, ek weet nie. Was nog nie daar nie.” Ek probeer glimlag, maar ek kan sien dis nie wat sy wil hoor nie. “Ek dink Jesus kom jou met ’n koets of so haal. Nes Vader Krismis met sy slee en sy takbokke. Die een laai presente af, die ander laai siele op, sien? Almal weet tog hulle werk saam.”
Haar mondhoeke krul effens boontoe.
“Regtig?”
Ek het nog nooit vir Delia gelieg nie. Kinders weet instinktief baie meer as wat ’n mens dink. Ek het lankal besef dat eerlikheid die enigste manier is om met my pediatriese pasiënte om te gaan. Sedert die eerste dag van haar chemoterapie het sy seker honderde vrae gevra – moeilike vrae wat haar ouers probeer omseil het, maar ek telkens moes beantwoord. Wat is leukemie? Kan ek gesond word? Hoekom werk die medisyne nie? En … gaan ek doodgaan?
“Regtig.” My eerste leuen. Miskien weet sy dit, maar wat maak dit tog saak? Sy weet die tyd is naby.
Die klank van die Heilsleer se blaasorkes op die grasperk buite die saal laat haar na die venster draai. “Hulle is weer hier.”
“Nes verlede jaar. Hulle kom elke jaar met Kersfees speel.” Laas jaar was daar nog hoop. Ek onthou hoe sy na die venster gehardloop en in verwondering opmerkings gemaak het oor hul uniforms. Nie hierdie jaar nie – haar beentjies is te swak.
LEES OOK: Kortverhaal: Kate se skoendose
“Kersfees.” Sy fluister die woord stadig, asof sy die gedagte wil laat talm. Dan, skielik rek haar oë. “Vader Kersfees kan nie hierdie jaar kom nie. Hy’t sneeu nodig. Vir die slee en so.” Sy’s vir ’n oomblik stil voor sy teleurgesteld byvoeg: “Jesus sal dan ook nie kan kom nie.”
Is dit haar manier om Kersfees te probeer keer? Het my lighartige opmerking oor Jesus en Vader Kersfees iets in haar wakker gemaak …’n vrees? As die slee nie kan land nie, kan die koets ook nie kom nie. Ek sluk swaar.
“Môre is die 25ste,” die oortuiging in my stem is maar vlak, “wie weet? Miskien sneeu dit vannag?”
“Mamma en Pappa kom môre,” Haar gesiggie verhelder as sy doelbewus die onderwerp verander. “As Vader Kersfees nie kom nie, sal hulle presente bring.” Ek vryf die haarlose koppie, glimlag en sê ek moet my ander pasiënte gaan sien. Die bleek handjie fladder op die laken as sy probeer wuif.
Ek weet sy sien uit na haar ouers se besoek. Haar pa is ’n wetenskaplike by Sutherland se radioteleskoop en haar ma sorg vir die ander drie kinders – naweke en vakansiedae is al wat hulle vir die besoek aan Kaapstad kan afknyp. So swaar soos dit mag wees, moet hul lewens ook aangaan. Ná hierdie jaar ken ek hulle amper beter as my eie familie; ons het diep spore in mekaar se lewens getrap. Die res van die saalrondte is maklik.
Die meeste kinders is ontslaan met net twee amper-gesonde gevalle met brandwonde en die dogtertjie met kroep wat nog in die saal lê. As ek die verpleegster groet, vra ek dat sy tyd saam met Delia moet deurbring. “Praat met haar, seblief? Sommer oor enigiets. Ek dink sy’s bang vir die dood.”
My leuen ry saam na my woonstelletjie toe. Dit was simpel om die vergelyking tussen Jesus en Vader Kersfees te maak. Dit was nou wel op die ingewing van die oomblik, maar in haar kinderbrein het die gedagte nou posgevat: as Vader Kersfees nie kan kom nie, kan Jesus ook nie. En sonder Jesus se koets kan sy nie hemel toe gaan nie …
Ek het my al verwonder oor Delia se aanvaarding van lewe en dood. Ten spyte van haar jeugdige ouderdom, vertoon sy ’n verstommende vermoë om haar siekte te verwerk, en ons twee het al diepgaande gesprekke oor die hiernamaals gehad. Ons het gesels oor die paradys, oor Jesus wat vra dat die kindertjies na Hom toe moet kom en oor hoe die hemel lyk. Sommer kom en oor hoe die hemel lyk. Sommer lekker gesprekke waarin ek haar verbeelding geprikkel het om te visualiseer hoe sy die hemel sien en wat sy daar verwag. Roomyskarretjies, sonskyn, piekniekplekke, swaaie en maatjies – baie maatjies. Ek weet sy is nie bang om hemel toe te gaan nie – dis die dood wat haar afskrik. Dis ’n onderwerp wat sy eers gister geopper het en my laat besef het: Sy wéét haar tyd is naby.
Voel ’n mens alleen as jy doodgaan? Is dit seer? Hoe lank bly dit donker?
O, ek het probeer om te antwoord, maar hoe verduidelik jy iets wat jy nog nooit ervaar het nie? Ek het vertel van my ervaring met ander kinders en dat my indruk een van vrede en rustigheid is.
“Jy maak jou ogies toe, en die volgende oomblik is Jesus daar om jou op te tel. Dis wat ek dink.”
Dít was ten minste eerlik en ek kon sien dit stel haar gerus. Tot op daardie punt was daar nie vrees in haar oë nie. Maar nou, met my opmerking oor Kersfees en Jesus, het ek haar laat twyfel. Hoe maak ’n mens só iets reg? Die minste wat ek kan doen, is om haar ouers te bel en te verduidelik.
Ek staan vroeg op en luister na Stille Nag op RSG. Die dag strek leeg voor my uit; ’n saalrondte en dan miskien strand toe – dit lyk asof dit ’n heerlike sonskyndag gaan wees. Geen wolke … en natuurlik geen sneeu. Ek stort, skeer en trek traag aan. Ek sal by die 7-Eleven moet stop om proviand te koop.
My tydsberekening is goed. As ek met die pakkies by die grasperk kom, sien ek Delia se ouers deur die venster. Hulle het seker vroeg deurgery. Haar pa kyk op, sien my en frons vraend. My vinger voor my lippe vra sy samewerking en ek sug tevrede toe ek sien hy begryp. As dokter het ek gedoen wat ek kon, as mens is my werk nog nie klaar nie. Delia se kamer is ’n warboel van presente en geskenkpapier. Haar ouers groet vriendelik.
Delia se glimlaggie is spontaan, maar die ogies soek myne. Ek weet wat sy dink …
“Kyk al haar presente! Delia is mal oor die inkleurboek en Pappa het ’n nuwe sterreboek gebring.” Delia se ma het hartseer oë; sy weet die boek gaan nooit gelees word nie. “Ons is so dankbaar ons kan nog hierdie Kersfees saam wees,” voeg sy saggies by.
Ons gesels oor Sutherland en die ander kinders. Oor die weer. Oor lekker Kersvakansies in die verlede. Oor alles en nog wat – net nie oor die een ding wat so aan Delia knaag nie. Haar pa breek die ys.
“Delia sê jy’t vertel dat Jesus en Vader Kersfees so lekker saamwerk.” Sy oë rus op my. “Dis nogal nuus vir my. Veral die probleem met sneeu, jy weet? Somer in die Kaap is nie regtig sneeutyd nie. Vader Kersfees sal dit maar moeilik vind om met sy slee te land, nie waar nie?”
LEES OOK: Kortverhaal: Blou kersfees
“My jinne!” Haar ma staan by die venster.
“Wonderwerke gebeur regtig. Kyk! Die grasperk is wit van die sneeu!” Haar hand vlieg na haar mond toe sy omdraai. “Delia! Jy sal dit nie glo nie!”
Ek sal nooit haar gesiggie vergeet toe haar pa die tenger lyfie in sy sterk arms optel en na die venster dra nie. Haar oë rek van verbasing en die glimlag is opgewonde. Die een maer armpie klem losweg om haar pa se nek terwyl die ander een na die wit grasperk beduie.
“Vader Kersfees,” fluister sy.
Delia het nog ’n halfuur getalm en toe haar oë toegemaak. Iets in my het geweet dis die laaste keer.
Later, toe dit alles verby is, groet ek haar ouers op die wit grasperk. Ons is al drie nie in staat om baie te sê nie, maar haar pa se hartlike handdruk spreek boekdele.
“Dankie, Dokter. Dit was so ’n mooi gebaar. Miskien moet julle dit net so los. Ek’t gehoor hulle verwag reën vannag.”
“Of die wind sal dit wegneem.” Haar ma se stem is sag. “Soos vir Delia.”
Ek glimlag wrang toe hul motor vertrek. Dan stap ek terug na die saal om by die ander pasiëntjies ’n draai te maak.
“Dokter!” Suster Myburgh se streng stemtoon laat my in my spore vassteek.
“As jy dink jy gaan my saal se vloere vol wit voetspore trap, kan jy weer dink. Wie dink jy moet dit skoonmaak? A nee a!” Sy’s reg natuurlik. Meel op haar vloer? Dit sal nie deug nie. Haar houding versag ietwat as sy byvoeg, “Ek het die meelsakkies klaar weggegooi.”
Vir die eerste keer in my lewe doen ek saalrondte in my sokkies. Dis ’n klein prys om te betaal vir Vader Kersfees se landingstrook.
En vir Jesus se koets, natuurlik.