Die versoek dat diere benodig word, het soos ’n veldbrand versprei en agter op elke bakkie is ’n skaap of ’n bok
Deur AMOS VAN DER MERWE
Dis alles ouderling Servaas se skuld: Hy’t begin met die idee van ’n Kersspel.
Ons ken hom ook te goed om in ’n stryery met hom betrokke te raak. Hy sal sweerlik ’n vers uit die Bybel gaan haal – en as jy weer sien, sit die hele kerkraad vir hul skoenpunte en kyk terwyl hulle hoop dat hy uiteindelik genoeg stoom sal afblaas dat die vergadering kan aangaan. Dominee het sommer net “ja” gesê met die gelatenheid van ’n ongelowige in ’n leeukuil.
Servaas stel voor dat die koor ’n paar Kersliedere sing terwyl Maria en Josef moeg-moeg in die stal neersyg. Die herders sal dan uit die konsistorie nader staan en die wyse manne kan van die kerk se voordeur af inkom. Ons knik almal instemmend (Christene stry mos nie met mekaar nie – veral nie in die konsistorie nie. ’n Mens bêre dit vir later, as Dominee nie naby is nie), maar weet sommer die rolverdeling gaan interessant wees.
Baba Jesus is maklik omdat die Bybel nie noem dat Hy so vroeg in sy lewe iets gesê het nie, dus sal ’n pop goed werk. Soos in die meeste van ons klein gemeenskappie se huishoudings, was Maria se man ’n doener en nie ’n prater nie: Daar is baie stil Josefs in die distrik. Maria self is moeiliker. Die enigste jong meisie op die dorp is die kelnerin by die Wimpy by die motorhawe buite die dorp – en sy’s nie in ons kerk nie. Skaapwagters het ons ’n oorvloed van, maar almal weet hier’s g’n wyse manne nie. Ook nie engele nie.
Ten spyte van alles, stig ons die Rolbos Toneelgeselskap met een enkele doel voor oë: die Kersspel.
Heeltemal tevrede dat alles op koers is, het Servaas hom onttrek om te gaan peins oor die volgende ding waarmee hy die kerkraad kan teister.
Uiteindelik besluit ons dat dit beter sal wees as niemand ’n pratende rol het nie: met die koor op die agtergrond kan die akteurs hul nuutgevonde talente uitleef deur mimiek en gesigsuitdrukkings (verbasing vir die herbergier, pyn vir Maria tydens die pop se produksie en blydskap as Josef die Kindjie vashou). Dit kan immers nie so moeilik wees nie.
En dit is nie. Die oefening verloop gladweg. Die groep het saans in die kroeg gesit en gesigte trek totdat die ander drinkers hulle verseker dat hulle eintlik in Hollywood hoort.
Die kleedrepetisie word die dag voor Kersfees gehou. Die koor het weggetrek, die paartjie het moeg neergesyg (dis nou voor die kansel) en die herbergier het verontwaardig na die diakensbank se kant toe beduie. Daarna is die pop agter die genoemde bank gebore en Josef het vrolik rondgehuppel, terwyl die koor hulself na die hoogtepunt toe opgewerk het.
Hulle is besig met … in die ho-o-ogste he-e-emele … toe Servaas die vrug van sy briljante idee kom beloer. Almal weet hy kom fout soek en dat hy nie sal ophou voor hy sy digte wenkbroue laat saamsmelt, sy diep frons nog dieper trek en met die diepste verontwaardiging sy misnoeë uitspreek nie.
“Waar’s die diere?” Hy bodder nie om te groet nie (soos gewoonlik). “Hoe gaan die gemeente weet dis ’n stal as daar nie ’n koei is nie? En waar’s die skape? Die herders kan tog nie niks oppas nie?”
Ja, stem almal vinnig saam (hoe anders?), ons sal die woord versprei dat ons dierevrywilligers benodig vir die wêreldpremière van die Rolbos Toneelgeselskap se weergawe van die Kersverhaal. Servaas is verbasend vroeg daar weg, tot groot verligting van die akteurs. Soos ware akteurs doen, het hulle die oefening in die kroeg afgesluit.
Dis waar dinge verder begin skeef loop. Josef (wewenaar Bennie Visagie, boer) het lankal sy oog op juffrou Hoogenboezem (oujongnooi, poskantoor), wat Maria se rol vertolk. Dié rol is aan haar toegeken omdat sy – soos dit in die konsistorie gestel is – die enigste vrou in die dorp is wat nog as “suiwer” beskou kan word. Die arme Wimpy-meisie se sedes het veel te wense oorgelaat …
Nou, in die warm atmosfeer van die kroeg – ná die derde drankie – het Josef uiteindelik genoeg moed bymekaargedrink om met Maria te praat; eers oor die weer, en toe oor hoe mooi sy gelyk het daar agter die diakensbank. Juffrou Hoogenboezem (juffrou Rottenmeier se ewebeeld) is eers geskok, toe verbaas en uiteindelik gevly. Kort voor sluitingstyd gesels sy oor die eensaamheid wat soms soos ’n swart wolk oor haar gemoed trek, veral met Kersfees, soos nou.
En as meneer Visagie nie omgee nie, kan hy maar vir haar Hendrika noem. Of selfs Hennie. Dis nie té voorbarig van haar om dit te sê nie, is dit?
Die distrik trek in hul massas op om die Rolbos Toneelgeselskap se vertoning te sien. Die versoek dat diere benodig word, het soos ’n veldbrand versprei en agter op elke bakkie is ’n skaap of ’n bok. Rykbertus Botha het selfs sy Jerseykoei gebring. Dié troppie vee is mooi bymekaargehou deur die skaapwagters, en nadat Dominee die Kerstoneel aangekondig het, word die diere op die mees ordelike manier die kerk ingebring. Die bedoeling is dat hulle stil-stil rondom die diakensbank sal staan en herkou, nes daardie aand in die stal in Bethlehem.
’n Mens kan ook seker nie wonderwerke verwag nie: die arme diere was nooit deel van die repetisies nie en het daarom nie die vaagste benul van wat hulle nou eintlik te doen staan nie. Die bokke ontwikkel onmiddellik ’n fynproewerswaardering vir die kanselkleed, terwyl die skape hul intelligensie (of gebrek daaraan) vertoon deur onseker rondom ouderling Servaas by die ouderlingsbank saam te drom. Die arme koei het koers gekry voordeur toe tydens die eerste lied deur die koor (Herders op die o-o-ope velde …). Hoe moes sy weet die drie wyse manne moet ook hierdie roete gebruik, maar in die teenoorgestelde rigting? En hoe moes die Wyse Manne raai dat die orrel se klanke (vir die koei, altans) alte veel klink soos die romantiese bulk-toenadering van daardie lastige jong bul op die plaas?
Die koei het dit tot by die deur gemaak, maar die drie wyse manne het nooit hul bestemming bereik nie. Dokter Welman het tot ná middagete nog steke ingesit nadat die wyses deur die twee groot vensters in die ingangsportaal gevlug het om voor die aanstormende koei weg te kom.
LEES OOK: Kersmites
Die koor het manmoedig die program probeer voltooi, maar moes ook bes gee toe ’n bok met besondere musiekwaardering sy voorkeur vir bladmusiek vertoon.
Servaas het sy bes probeer om “sy produksie” (dis hoe hy die Kersspel vir Karel Knipperjies, die haarkapper, beskryf het) te red. Met sy digte wenkbroue styf teen mekaar, het hy die skape beveel om dadelik op hul aangewese plek te versamel – by die diakensbank, sodat die gemeente kan weet dis ’n stal. Hy was miskien die enigste gemeentelid wat in daardie stadium nog nie gedink het die hele kerk lyk soos ’n stal nie: die bokke op hul agterpote by die kansel, die musiekwaarderende bok by die orrel en die galoppende koei het sekerlik meer indruk gemaak as die versameling skapies by ou Servaas.
Selfs skape se geduld kan opraak. Eeneen het hulle in die konsistorie gaan skuiling soek, waar die herders vir die teken gewag het dat hulle moet verskyn.
Teen hierdie tyd het Dominee met al die waardigheid wat hy kon bymekaarskraap, die veiligheid van die kansel verlaat, terwyl die los glasstukke in die voorportaal die giggelende gemeente na die sydeure laat vlug het.
Ag, ons almal ken plaasdiere. Hul gawe is nie om vrede vir al die nasies te versprei nie – hulle is baie beter met ’n totaal ander vorm van verspreiding; veral as hulle so lusern gevreet het agter op die bakkies. Mense is dus so gly-gly na buite en ouma Fourie moes geduldig wag dat die wyses verbind word voor haar arm gegips kon word.
Dit was amper die einde van die Rolbos Toneelgeselskap. Ouderling Servaas is wel vir minstens drie maande besonder stil tydens kerkraadsvergaderings, wat aan almal bewys dat die wonder van Kersfees nog lank nie verby is nie. Dominee het in sy nuutgevonde vryheid ’n basaar gereël om geld vir nuwe matte in te samel (niemand kon die oues ná die Kersspel skoon kry nie).
Dis juis tydens hierdie basaar dat die toneelgeselskap uiteindelik hul eerste vertoning gee: ’n kort weergawe van die wonderwerk in Kana, toe water in wyn verander is. Hierdie stuk is verbasend gewild, veral toe gemeentelede genooi word om van die wyn in die vat te proe – teen ’n prys. Die opbrengs van hierdie vertoning is sommer ook genoeg vir die nuwe ruite in die voorportaal.
Ons soek nou ’n nuwe Josef en Maria. Dominee het toegestem dat daar weer ’n Kersspel mag wees, maar hierdie keer sonder diere. En Josef en Maria mag nie getroud wees nie. Dis onbybels, sê hy. Bennie en Hennie kla nie. Hulle reken Maria het swaar genoeg gekry; hulle wil liewers gaste in die herberg wees: nes met hul wittebrood in die gastehuis op Calvinia. Dis immers (volgens hulle) baie prettiger.
Servaas praat nie oor die Kersspel nie. Hy sê ’n Christen moet nederig wees, al het hy eiehandig gesorg vir nuwe matte in die kerk. Dit was sy oorspronklike bedoeling, sê hy: sy Kersgeskenk aan die gemeente.
En Kerspresente moet mos ’n verrassing te wees, sê hy, nes Jesus was …