‘Suster,’ het hy wintertyd in die kantoor gesê, ‘op Oujaar is dit my en Helena se 69ste herdenking. Ek sal alles betaal, dan moet Suster help dat ons vir die oumense alhier ’n dans hou in die eetkamer. ’n Mieliemeelvloerdans. Met gemmerbier en melktert en skaapsosaties en roosterkoek en boeremusiek. Al sit die meeste net en luister’
Deur ANNELIE BOTES
“Dankie, Roelof, my brekfis was lekker. Ek sal nooit daaraan uitgeëet raak nie.”Hoe Helena al jare der jare elke oggend op roosterbrood met visvingers en kaassous gedy, wis hy nie. Sy sê dit traak haar min of daar visoë en visharsings bygemaal is, dit bly hemelkos. “Is reg, Blompie.” Hy dra die skinkbord kombuis toe. Vee die kameeldoringtafel op die sonstoep af. Jare die verskiet in by haar pa gekry as trougeskenk. Soos elke oggend ná ontbyt help hy haar met ’n vars doek. Stoot die rolstoel terug tot op die sonstoep, trek die briek op.
“Vandag 69 jaar gelede was dit ook Oujaar, Blompie. Die Oujaar van 1949. Toe sit jy met ’n kop vol krullers by tannie Dorie se haarsalon. En jou tulle-trourok hang gestoom …” “Maar toe het ek nie ’n doek gedra nie. En my maagvel was glad en styf.” Sy lag op na hom. Helena lag altyd, al het sy pyn. Die dag toe hy haar onder die treurwilg teen die gronddam se wal op haar pa se plaas gevra het om te trou, het sy gelag van vreugde, tot sy later begin huil het. Ook van vreugde. “Helena Blomerus, my lief blompie in die maanskyn, ek hét jou pa se konsente. As jy nie nóú antwoord nie, smyt ek jou in die dam.” Toe sê sy ja. Hy tel haar tinktinkielyf op en spring ieder geval in die bruin water. Tot sonsak het sy soos ’n apie op sy rug vasgeklou terwyl hy kruis en dwars deur die dam hondjieswem. Sy Helena. Sy Blompie. Op daardie dag by die dam kon hy homself nie inprent hoe sy op 90 sal lyk nie. Verplooi, vel en been, oë wat vliesbewolk geraak het. Oumensvlekke op haar lippe. Praat sleeptong ná ’n beroerte. Tog, skerp soos ’n nuwe naald. Maar sy bly sy Blompie.
As dit moontlik is, het hy haar nou liewer as toentertyd. “Doen jou sudoku, ek neem gou die pakke mieliemeel vir Suster by die kantoor. Vanaand gaan die skoene wit gedans word op die blokkiesvloer in die eetkamer. Dan wil ek Suster help om die gemmerbier deur ’n kaasdoek te gooi en die bottels in die yskas te kry. Ek is binne ’n uur terug.” Die pakke mieliemeel is swaar; dis asof sy arms langer rek. En hy moet kyk waar hy trap op die leiklippaadjie, want hy wil nie op 91 val en ’n heup breek nie. Wie sal dan na sy Blompie omsien? “Oom Roelof,” het Suster laas week weer getorring, “die tannie moet in die siekeboeg kom. Oom is 91, Oom kan haar nie alleen bad en droogmaak nie.” “Vergeet dit, Suster, ek is ’n sterk 91. Buitendien, ek sal nie dat vreemde hande aan haar vat nie. Hierdie hande,” en hy het sy palms opgehou, “sal haar enduit versorg. Die dag as ek nie meer daar is nie, kan julle haar siekeboeg toe oorskuif.”
Hy sou nie vir Suster sê nie, maar as Helena nie by magte was om met sy hulp sleepvoettreetjies van die rolstoel na die toilet, of die stortrand, of tot by haar brekfisstoel te gee nie, was die siekeboeg haar voorland. Daarom laat hy haar smiddag ná rustyd om die kameeldoringtafel skuifel voor hy haar op die stortbankie sitmaak. Om haar litte los te hou, want hy wil nie snags na haar leë enkelbed neffens hom kyk nie. “Kom, Blompie, ek sit my arm om jou lyf en hou jou vas. Amper soos dans …” Dan lag sy met hom. Al is die stappery pynlik. “Onthou jy hoe ons doeriejare getwist en gefoxtrot het? En gewals op Kom dans Klaradyn en die Kalfiewals?” “Ja, Blompie, onthou jy die Oujaarsaand toe ons in oom Niek se waenhuisskuur op die mieliemeelvloer gegly, en jou dansrok oor jou kop opgewaai het?” Dan lag hulle oor langpypbloomers en vasknipsykouse, en praat oor oujare se dinge wat nooit weer sal wees nie.
En hy dink in die stilligheid aan die Prediker wat praat van ’n tyd om gebore te word, en ’n tyd om te sterwe. Dan wip sy adamsappel as hy dink aan die dag waarop Helena se enkelbed leeg sal wees. En wat van haar sal word as syne eerste leeg is. “Van álles mis ek dans die meeste, Roelof. As ek nog net één keer kon dans soos toe ek 40 was …” “Suster,” het hy wintertyd in die kantoor gesê, “op Oujaar is dit my en Helena se 69ste herdenking. Ek sal alles betaal, dan moet Suster help dat ons vir die oumense alhier ’n dans hou in die eetkamer. ’n Mieliemeelvloerdans. Met gemmerbier en melktert en skaapsosaties en roosterkoek en boeremusiek. Al sit die meeste net en luister.” “Hoekom wag oom nie tot dit jul 70ste herdenking is nie?” “Sommer nie.” Sy moenie weet hy vrees die doodsengel se swart rok nie. “Ek is nóú lus daarvoor.” “Nou, dan maak ons so, oom Roelof.”
Sy rug pyn toe hulle die bottels gemmerbier in die yskas het. “Hoe laat steek julle die doringhoutvure vir die sosaties en roosterkoeke aan, Suster?” “Teen vyfuur, Oom. Het Oom iets van die winkel af nodig? Die kok ry elfuur.” “Haarsproei, asseblief. Firm hold. En Suster sal onthou die laaste dans word om tienuur gedans? En dan vat ons almal hande en sluit af met die sing van Sal ons ou vrinde ooit vergeet …” Van Helena se dikke bos hare wat in haar rugwaai swaai, is net yl grys strepies oor waardeur ’n mens die pienk van haar kopvel kan sien. ’n Jong verpleegster het hom jare gelede gewys hoe om dit met haarsproei en pofbewegings en ’n duntandkam dikker te laat lyk. Helena kyk so graag in die spieël en lag omdat hy dik hare kan uittoor. Toe hy binne sigafstand van hul huisie kom, waai Helena met haar krom vingers vir hom. Hy loop regopper en vinniger. Sy moenie agterkom hy is doodmoeg nie. “Blompie, ons gaan vandag vroeg sommer ’n tamatietoebroodjie eet en dan skuinslê. Want ek wil twee-uur begin om jou vir vanaand mooi te maak. Kompleet met jou tullebloes.” “Ek is lief vir jou, Roelof.” Haar rookvaal oë is nat. “Vir 69 jaar kon ek vreesloos in jou beskutting leef. Dankie, Roelof, dánkie …” Hy vee die trane op die halfmaansakkies onder haar oë met sy hempspant af. “Jý is die rede waarom ek elke dag opstaan, Blompie. Dalk maak ons dit nog saamsaam tot by 100 …”
Kwart oor tien is al die dansers en muurblomme weg en Suster gooi die tafels met kosnette toe. Hy sit sy kopflitsie op en mik by die eetkamerdeur uit met die rolstoel. “Kan ek Oom nie help tot by die huis nie? Oom moet gedaan wees.” “Dankie, Suster, maar ek het mos gesê ek is ’n sterk 91.” Al weet hy hy is dit nie. “Wragtig, oom Roelof, en ek sou my laaste pennie verwed dat Oom nie meer so rats kan foxtrot en jive en swing nie, en dit nogal met ’n rolstoel op ’n mieliemeelvloer. Ek was verstom oor hoe oom op die Andrews Sisters se Toolie Oolie Doolie polka.” “Ek wens jy kon Helena sien polka op haar dag.” Toe hy die rolstoel oor die voordeurdrumpel stoot, sien hy Helena slaap. Dit lyk of sy in haar slaap glimlag. Hy bondel die hekelkombersie langs haar kop in en los haar vir eers net so. Sit teewater op. As hy nie nóú ’n rukkie sit met soet tee nie, gaan hy van uitputting neersyg. Hy rus met sy tee in die lawende nagkoelte op die sonstoep. Kyk hoe die motte om die buitelig fladder. Hy wonder oor skoenlappers en motte. Sonvlinders. Nagvlinders. En hy herleef die minuut toe sy Blompie vanaand gevra het hy moet haar ophelp. En om haar lyf vashou, al is dit net vir vyf treetjies van ’n hip-hop.
Toe lag Helena. En hip-hop op haar manier in haar tullebloes, waarskynlik vir die laaste keer. Skoenlappers. Hulle. Wat wylings vlieg op Oujaarsnag. In sy kop draal die wysie van Sal ons ou vrinde ooit vergeet, en die Prediker wat praat van ’n tyd om van blydskap te dans. En ’n tyd om te treur. Helena word wakker toe hy haar op haar enkelbed neerlê en sy arms onder haar uittrek. “Ek kon nog een keer dans,” fluister sy, “want jy het my vasgehou.” Toe hy haar tullebloes uittrek en haar nagrok aantrek, raak sy weer aan die slaap. Hy skuif sy enkelbed teenaan hare en knip die lig af. Steek sy hand onder haar duvet in en vou sy oumensvingers om haar verwelkte bors met die lankgeworde tepel. Helder onthou hy die volmaan aan die begin van Januarie 1950, toe hulle op wittebrood was. Terwyl die slaap hom wegsleep, dink hy aan waaroor hulle môreoggend sal gesels terwyl sy haar visvingers en kaassous eet. Dalk sing hy vir haar Bing Crosby se I’d like to get you on a Slow Boat to China. Sodat sy kan lag op Nuwejaar.