‘Dis nie nou die tyd om Israel te besoek nie,’ het haar ma geskok geprotesteer toe sy aankondig dat sy Paasfees in Jerusalem wil deurbring, en nogal alleen. ‘Bomme ontplof deesdae oral in Israel. Hamas stuur selfmoordbomaanvallers in’
Deur MALENE BREYTENBACH
Verwonderd kyk Mara na die toegemesselde goue poort in die grys reusemuur om die ou stad van Jerusalem. “Hulle sê as die Messias kom, sal dié poort oopgaan,” sê ’n diep manstem in Engels agter haar. Sy draai verskrik om. Hy het langerige donker hare, ’n baard en snor, onrusbarend baie soos die Christus in Mel Gibson se rolprent The Passion of the Christ. Behalwe dat hy ’n denim, ’n blou T-hemp, stapskoene en ’n rugsak dra. Swart oë kyk na haar. Hy is net ’n rugsakreisiger in sy dertigerjare. Tog is daar iets uitsonderliks omtrent hom …
Mara reageer nie. Dit noop die man om te vra: “Steur ek jou? Is jy op ’n pelgrimstog, so met Paasfees om die draai?” Haar stem kom terug. “Is dit ’n pelgrimstog as ek kyk hoe mense van oral in die wêreld al langs die stasies van die kruis langs loop?” “As jy net waarneem en nie deelneem nie, is dit ’n halwe pelgrimstog,” antwoord hy. “Ek gaan nou die ou stad verken,” sê sy. “Net agter hierdie muur is die Tempelberg en die klaagmuur waarheen alle pelgrims gaan.” “Ek wil by die Leeuehek ingaan wat deur die Ottomaanse sultan, Suleiman die Manjifieke, gebou is. Hy het herhaaldelik gedroom dat twee leeus hom sal verskeur as hy nie die stad behoorlik beskerm nie.
Nadat hy die Kruisvaarders verslaan het, het hy die muur om die ou stad gebou en die leeubeelde daar laat inmessel. Wel, die Jode het hulle leeus genoem, maar eintlik is hulle luiperds,” sê sy. “Die Leeuehek het ’n besonderse betekenis omdat die Israeliese valskermsoldate tydens die sesdaagse oorlog daar deurgebreek het om by die tempelberg te kom en dit te verower.” Hy is seker Joods, dink Mara. Die verowering van die heilige stad deur die Israeli’s en die vereniging van die Oos- en Wesbank is vir hom belangrik. “Vyf jaar gelede het ek en my oorlede man in ’n woonstelletjie op Mount Scopus gewoon. Hy was ’n besoekende professor aan die Hebreeuse universiteit.
Ek wil weer loop waar ons destyds geloop het.” “Mag Jerusalem, en alles wat vir jou heilig is, vir jou vertroosting bring.” “Dankie …” Sy wil nog praat, maar hy groet en loop. Sy kyk hom agterna. Met so ’n stem kon hy ’n prediker gewees het wat siele red. Terwyl sy na die Leeuehek loop, dink sy weer aan The Passion of the Christ. Die geseling van Jesus Christus, die verskriklike tog na Golgota, was te erg om te aanskou. Miskien moet sy die eeue-oue wreedhede weer deurleef om sodoende uit ’n ander se pyn verlossing vir haar eie te vind. Wat is haar rou teen eeue se lyding wat dié klippe al aanskou het? Mara gaan sit op ’n stel trappe en kyk na die vreemdelinge wat met plegtige uitdrukkings alles van die heilige stad indrink. Sy sien ook die plaaslike handelaars, toergidse wat groepe van die Bybelverhaal of die geskiedenis van Israel vertel, jong mense wat soos rugsakreisigers lyk.
Sy verbeel haar die atmosfeer is gelade met geestelike krag soos geen ander plek op aarde nie. Mense van ver kom dit soek, ongeag die name van hul gode of profete. Die krag van gesamentlike gebede maak die plek heilig. Ben het gesê dat meer bloed in Jerusalem se strate gevloei het as op enige ander plek. Hy was gelowig, terwyl sy van die geloof van haar kinderdae afvallig geword het. Kan sy iets van haar spiritualiteit herwin? “Dis nie nou die tyd om Israel te besoek nie,” het haar ma geskok geprotesteer toe sy aankondig dat sy Paasfees in Jerusalem wil deurbring, en nogal alleen.
“Bomme ontplof deesdae oral in Israel. Hamas stuur selfmoordbomaanvallers in.” By die klaagmuur kyk sy hoe die Joodse mans aanbid. Wie en waar is haar vreemdeling? Terug by die King David Hotel in David Ha-Melekh, oftewel Koning Dawidstraat, bestel sy ’n bier in die sitkamer en lees die brosjure wat sy by die ontvangs gekry het. Die Britse militêre opperbevel tydens die Britse mandaat oor Palestina was in dié historiese hotel gestasioneer. Die hotel is voor die Tweede Wêreldoorlog gebou en net ná die oorlog het Israeliese vryheidvegters ’n bom binne laat afgaan. Baie mense is dood. Drie jaar later het dit weer ’n hotel geword.
“Hallo,” hoor sy agter haar. Sy draai om en is verheug om haar vreemdeling met die mooi stem te sien. “Kom sit. Ons het onsself nog nie voorgestel nie. Ek is Mara Smuts.” “Ek is Dawid Botiz. Dit is goed om met jou kennis te maak.” “Drink ’n bier saam met my,” nooi sy vinnig. “Ek is alewig dors hier.” “Jy het fisieke en geestelike dors,” merk hy op. Merkwaardige waarneming, dink sy. Só waar. “Ek drink nie sterk drank nie,” sê hy, “maar ’n vrugtedrankie sal dalk lekker wees.” Mara het ’n afspraak met ’n ou vriendin uit Suid-Afrika wat hierheen geëmigreer het en sy moet ’n bus na Tel Aviv haal, maar as sy nou gaan, sien sy dié man dalk nooit weer nie. Haar vriendin sal verstaan as sy laat opdaag. Sy is juis die een wat haar altyd vertel dat sy nie vir ewig oor Ben kan rou nie. Daar is ook ander mense in die wêreld. Die vreemdeling drink sy lemoensap en sy teug aan ’n bier.
“Wat doen jy as jy nie reis nie?” vra hy. “Ek is ’n verpleegster. ’n Teatersuster eintlik, by ’n hospitaal in Suid-Afrika. En jy?” Hy kyk af na sy hande. “Ek is ’n dokter. My vrou is ’n jaar gelede oorlede. Sy was ’n gelowige Katoliek en wou graag Jerusalem sien, maar sy het nie. Nou is ek hier namens haar om heling vir die siel te soek.” Sy kyk hom verbaas aan. Sy het vermoed hy is nie sommer net nog ’n rugsakreisiger nie. Haar selfoon skril en sy kyk na die skerm. “Ag, verskoon my, kan ek net gou antwoord? Ek is veronderstel om by ’n vriendin te gaan kuier en dis sy wat nou bel.” “Hallo, Roni, ek sal ongelukkig laat wees … Wat? ’n Bom? Waar? By die Egged-busstasie? Nee, ek is veilig in die hotel, dankie. Hemel, Roni, gelukkig is ek vertraag, anders was ek ook daar.” “Dankie tog jy is veilig,” kom haar vriendin se stem. “Dalk moet jy liewer môre kom.” Sy kyk na die man wat haar fronsend sit en dophou.
“Jy het seker my lewe gered. Ek sou by die Egged-busstasie gewees het toe die bom ontplof.” Hy staan op. “Ons moet gaan help. Ons het albei ’n eed geneem om ons medemens te help.” Hulle haas hulle na buite. Hy ontbied ’n taxi. “Egged-busstasie. Maak gou, asseblief,” sê hy vir die drywer. Pandemonium heers by die busstasie. Ambulanse en weermagvoertuie oral. Soldate in uniform en siviele mense maal deurmekaar. Oral is beseerde mense wat bloei en verdwaas van pyn en skok rondstaan, sit of lê. ’n Soldaat keer hulle voor. “Julle moet asseblief gaan.” “Ons is ’n dokter en verpleegster en kom help,” sê Dawid. Die soldaat laat hulle deur. Hulle doen wat hulle kan. Nog nooit het Mara sulke grusame tonele aanskou nie. Sy bid een strook deur vir krag. Die terrein wat soos ’n slagveld is, word uiteindelik opgeruim. Hulle staan langs die ambulans waar die laaste slagoffer ingelaai word.
“Dankie,” sê ’n man met ’n bloedbevlekte wit jas. “Julle sal geseën word oor die werk wat julle vandag hier gedoen het.” Die noodvoertuie vertrek, die laaste mense verlaat die toneel van die slagting verslae. “Kom ons gaan terug hotel toe,” sê Dawid. By die hotel kyk mense geskok na hulle, na die bloed aan hul klere. Hotelpersoneel kom vra of hulle kan help. “Nee, ons makeer niks, ons het bomslagoffers verpleeg,” verduidelik Dawid. Dan druk hy Mara se hand. “Totsiens.” “Bly jy dan nie hier nie?” “Nee. Ek moet erken, ek het jou hierheen gevolg omdat ek weer met jou wou praat, maar ek woon elders.” “Ek wil môre die stasies van die kruis volg,” sê sy. “Wil jy nie saam met my kom nie?” Hy kyk lank na haar, asof hy probeer besluit wat om te doen.
Toe skud hy sy kop. “Nee dankie, maar ek hoop jy kan die seën van Paasfees herwin.” Hy draai om en loop uit. Sy wil hom terugroep. Agterna hardloop. Maar sy talm te lank. Toe sy uiteindelik uithardloop, is hy nêrens te sien nie. Sy gaan hom nooit weer sien nie en sy is spyt. Sy staan by die groep mense wat byeenkom om die stasies van die kruis te volg. ’n Warm hand sluit oor hare en sy kyk verskrik op na die bekende gesig met die donker oë. “Jy het tog gekom.” “Die pad is lank en emosioneel uitmergelend. Ek het gedink ek moet saam met jou loop.” Sy gesig breek op toe sy deur die skielike trane na hom kyk.