Twee maande nadat die slegte nuus ons getref het, sien hy ’n advertensie waarvoor hy aansoek wil doen. Die pos is egter in Johannesburg. Ek kyk na die berg en sug
Deur MERLE GRACE
Milla kom by die voordeur in en glimlag skeef, asof sy ’n geheim ronddra. Haar sakke is volgestop. En toe is sy weer weg. Ek hou haar deur die kombuisvenster dop, steeds verbaas dat sy so lank alleen kan speel. By die rotstuin pak sy haar skatte een vir een uit: ’n gebreekte skulp, krummels herfsblare, klippe. Sy plant ’n stok wat soos ’n winterboom lyk langs die karoorose, en toe begin sy rondhardloop. Sy soek blomme. Sy pluk malvas en die pers blommetjies van die aartappelplant. Hande vol. Sy strooi dit oor die klippe uit. ’n Vierjarige se seremonie vir haarself.
Ek staan soos ’n groeiende boom voor my jogaklas, maar binne my voel ek uitgedroog, soos Milla se boom in die rotstuin. Gestroop van wortels wat moet uitreik en vermeerder. My takke is tot teenaan die groeipunte gesnoei. Ek wil nie voor my kliënte huil nie. Ek gaan oor na die volgende posisie en hulle volg my soos lammers, die musiek ’n konstante hartklop in die studio. Ek was so seker dat ons dit dié keer sou regkry. Maar nee. Ek voel die ongemak in my brand, die wete dat Milla altyd ’n alleenkind sal wees. Ná die laaste jogaklas stap ek kombuis toe en skink vir my ’n glas rooiwyn. Iets wat ek hierdie maand vermy het. In hoop. Verdomp. Die hoop beskaam inderdaad nie. Ek drink die glas leeg en skink nog een.
Later die aand kry Thomas my voor die TV. Dierbare Thomas wat meer van ’n feminis as ek is. “Milla slaap.” Ek kyk na hom, en besef dat ek nie nou iets moet sê wat hom sal seermaak nie. “Alleen,” is al wat ek uitkry. Hy hou my teen hom vas en vryf met sy groot hande oor my hare. Sy hande ruik na grond. Vreemd, Thomas kan alles laat groei in die tuinsentrum wat hy bestuur. Niks vrek onder sy hande nie. En hier binne my kan niks groei nie. Maand-in en maand-uit, niks. Ek skink nog ’n glas en raak teen hom aan die slaap. Later die aand lei hy my na ons slaapkamer van dorheid.
Alles is reg vir Milla se sesde verjaardagpartytjie. Ek het pienk driehoeke uit lap gesny wat die kinders met die inkomslag om hul koppe gebind kry. Thomas deel oogklappe by die deur uit. Ek hardloop saam met die kinders deur die hindernisbaan wat ek opgestel het. My seerowersbroek wapper wanneer ek oor die balansbalk spring om vir hulle te wys hoe om oor te kom. Dan onderdeur twee stoele, op my hande en knieë, laggend asof alle begeerte na ’n tweede kind deur die son verskroei is. Die kinders spring jillend in die swembad. Al is dit Oktober, is die water nog koud, maar dit demp nie hul geesdrif nie. Hulle moet skatte uitduik, en ek sien hoe Milla se vingers onder die water om ’n rooi plastiekdolfyn vou, hoe haar voete skop, en hoe sy opkom vir asem, haar gesig trots. Terwyl ek na haar kyk, is dit asof iets binne my skuif. Dis oukei, dink ek. As sy vriende het, is alles in orde. Een van hulle kan soos ’n suster word. Ons hoef nie nog ’n kind te hê nie.
Soos die dae warmer word, loop my studio weer vol. Ek koop nuwe musiek. Een hele oggend stap ek deur Thomas se tuinsentrum, op soek na die perfekte potplante vir die studio. Ek verwyder van my skilderye uit die motorhuis, en oortuig myself dat my werk goed genoeg is om teen die studio se mure te hang. My kliënte neem saam met my die kobraposisie in. Suurstof stroom my longe in. Ek voel hoe die strespunte op my rug ontknoop. Maar snags in Thomas se arms kan ek nie help om te wonder nie, al het ek myself belowe dis nou alles verby. Maar sê nou net …
Dit is Milla se tweede jaar in die laerskool. Sy lees vlot en haar oë blink elke keer as sy ’n nuwe leesboek kry. Sy sit lank voor ons visdam en kyk hoe die paddavissies swem. Soms neem sy ’n sketsboek en teken die lelies, die blomme, die stertlose paddavissies en die son in die lug. Ander kere sit sy met haar leesboek en haar poppe, haar karretjies, klippe en Lego-huisies en lees met ’n dramatiese stem aan hulle voor. Haar lewe is met verwondering gevul. Die kas in haar kamer is vol spoke. Goed wat sy lankal nie meer gebruik nie, maar wat ek nie wil weggooi nie.
Houtblokke, tie-die-babaklere, ’n stoeltjie wat iemand uit Amerika gebring het, ’n babagim wat Ouma ten duurste aangekoop het. Daar is ook klere, skoentjies, handgemaakte speelgoed en ’n klein eetstelletjie met die motief van ’n varkie op. ’n Vriendin wat pottebakkerswerk doen, het dit spesiaal vir haar gemaak. “Ontspan net; moenie daaraan dink nie,” het die vriendin destyds herhaaldelik gesê. Hoe sal sý weet? Ek besluit om al my klasse vir die oggend te kanselleer. Ek klim met ’n trapleer op en haal al die bokse uit Milla se kas. Sonder seremonie laai ek alles in die motor. Toe die kattebak vol is, begin ek bokse op die agterste sitplekke pak. Ek ry na ’n kleuterskool wat ek weet van die goed sal kan gebruik en help hulle om dit uit te laai. Almal is dankbaar. Ek kyk nie eens wat ek neersit nie. Toe die kar leeg is, voel ek lig soos ’n veer. Asof ek kan vlieg. Ek draai die musiek kliphard en ry terug huis toe. Wanneer ek Milla se kamer binnegaan, sien ek dat die boonste kasdeure nog oophang. Ek klim op die leertjie en maak die leë kaste toe, soos ’n boek.
Thomas is bleek toe hy by die huis kom. Ek kry wyn uit die kas, sonder om te vra. Milla speel by die buurvrou se kinders en sop prut op die stoof. Hy kry nie ’n woord uit nie. Ek druk ’n glas wyn in sy hand en beduie met my eie dat hy moet sluk. Sy stem breek en dit lyk vir ’n oomblik asof hy van die rusbank gaan val toe hy sê: “Die tuinsentrum moet toemaak.” “Wat bedoel jy?” Ek neem ’n té groot sluk, maar verstik gelukkig nie. “Die finansies is ’n bôggerop.” “Maar ek dog dit gaan so goed?” “Lyk my nie so nie. Die ouditeur was vandag daar.” Hy sluk sy wyn af en hou die glas uit vir nog. Hy het niks verder om te sê nie. Ek laat die nuus insink. Die volgende oggend is sy oë dik gehuil. Ek hou hom vas.
Thomas gaan nog werk toe, maar sy hart is nie meer daarin nie. Hy kom vroeër as gewoonlik tuis in die aande, en sy hande ruik na papier. Hy speel met Milla, bou legkaarte saam met haar, speel huis-huis, en hulle spring selfs saam op die trampolien. As sy in die bed is, soek hy desperaat werk. Twee maande nadat die slegte nuus ons getref het, sien hy ’n advertensie waarvoor hy aansoek wil doen. Die pos is egter in Johannesburg. Ek kyk na die berg en sug.
Ek huil toe ek van my kliënte afskeid neem. Ook toe ek die skilderye van die studio se mure afhaal. Ek huil terwyl ek die huis oppak. Dit is asof niks sin maak nie. Milla hardloop tussen die bokse rond, niks kan haar van stryk bring nie. Eers speel sy wegkruipertjie met haarself, en later toets sy die verskillende bokse uit as tromme. Boem-Boem, boem-boem-boem, hou sy ritme met haar byna agtjarige hande.
Dit reën toe ons ná twee dae se ry deur die Karoo in Johannesburg aankom. Die stad is groen en ruik na grond. Terwyl ek uitpak, wonder ek wat fout is met my. Ek voel nie heeltemal myself nie. Milla val by haar nuwe skool in – half skrikkerig, maar ook nuuskierig. Sy het ’n “helper” wat haar vir ’n maand lank moet touwys maak. Haar naam is Skye en dit lyk of sy en Milla oor die weg gaan kom. My vel voel heeltyd klam. Ek trek my klere uit, draai die stortkrane wawyd oop. Die warm water laat my beter voel, maar net voor elfuur besluit ek om na die naaste dokter te ry. Die dokter hou ’n stokkie na my uit. Ek bars uit van die lag, maar hy vang nie my humor nie. “Gaan badkamer toe. Jy weet wat om te doen.” Ek loop stadig na die badkamer. Ek weet nie wat om te dink nie. Terwyl ek teen die badkamermuur leun, wag ek vir die resultaat. Die dokter kan nog ’n rukkie wag. En reg voor my oë word een streep twee.