’n Labrador het hom in graad een gejaag en onderstebo gespring. Toegegee, die hond wou net hallo sê, maar dit het ’n onuitwisbare indruk op die jong Dawid se gemoed gemaak. Kleinerige honde kan nog gaan, maar hy het ’n heilige vrees vir enige hond hoër as sy kuite
Deur THERESA VAN BAALEN
Dawid proe skaars aan sy bier. Dit gaan ’n láng aand wees. Vir wat het hy hom laat ompraat om saam te braai? Jenny is baie gaaf en hulle werk lekker saam, maar hy het haar mos vanoggend gelukgewens én vir haar ’n geskenk gegee, so hoekom het hy nie net nee gesê toe sy hom nooi nie? Hy is allermins in die bui om die helfte van haar familie en al haar vriende beter te leer ken. As hy nou by die huis was, kon hy saam met Cleo in die bed geklim het, hy met sy boek en Cleo wat daarvan hou om op sy bors te lê en spin.
Katte is beter metgeselle as mense. Hulle jok nie, hulle oordeel nie, en hulle stel jou nie gedurig voor keuses nie. Hy hou nie van keuses nie, veral nie waar die antwoord ja of nee is nie. Sy ma spot altyd dat hy ’n rubberarm het. Hy sukkel om nee te sê, gewoonlik tot sy spyt. “Haai Dawid, hier is jy! Ek wil jou aan my suster voorstel,” praat Jenny skielik agter hom. Hy onderdruk ’n sug. Is dit te vroeg om hom te verskoon? Die vure is nog nie naastenby uitgebrand nie en die vleis gaan seker eers teen middernag gaar wees. Dawid veins ’n glimlag en draai om. Jenny se suster is nogal mooi, dink hy toe hulle oogkontak maak. Hy raak bewus van sy handpalms wat begin sweet, sy mond wat skielik droër as die Sahara is, sy kop wat duisel. Hy het op skool laas so gevoel, kort voor die meisie wat vir dié simptome verantwoordelik was, gesê het sy wil nie saam met hom matriekafskeid toe gaan nie.
Van daai dag af is hy versigtig vir vroue, en moontlik is dit ook waar hy begin sukkel het om nee te sê, omdat hy nie ander wou teleurstel soos hy teleurgestel is nie. “Dis Nita,” stel Jenny haar suster voor. Hy sluk verbouereerd en skud Nita se hand. Sy tong haak vas toe hy probeer praat. “Hallo, ek is …” “… Dawid,” maak Nita sy sin klaar. Hulle staar vir ’n oomblik na mekaar. “Dawid is ’n diereliefhebber,” sê Jenny. “Hy kan nie uitgepraat raak oor sy kat nie.” Nita straal soos ’n kat wat room gekry het. “Nita bestuur die diereskuiling in Toktokkiestraat,” borduur Jenny voort. Dawid is nog besig om dié stukkie inligting te verteer toe Nita vra: “Hou jy darem van honde ook?” “Ja …?” antwoord hy, maar eintlik skree dit deur sy binneste: “Nee! Ek verkies katte, want honde maak my bang.” ’n Labrador het hom in graad een gejaag en onderstebo gespring. Toegegee, die hond wou net hallo sê, maar dit het ’n onuitwisbare indruk op die jong Dawid se gemoed gemaak. Kleinerige honde kan nog gaan, maar hy het ’n heilige vrees vir enige hond hoër as sy kuite. “Mooi! Ek los julle om te gesels,” sê Jenny en maak haar uit die voete.
Nita kyk haar suster ingedagte agterna en draai dan na Dawid. “Hoe sal jy daaroor voel om by die skuiling uit te help? Net ’n uur of twee oor naweke. Ons is altyd op soek na vrywilligers om met die honde te gaan stap. Veral die ou grotes het ’n ferm hand en ’n sterk arm nodig om hulle te beheer. Ek kan nie juis van ’n tingerige, bejaarde tannie of ’n tienerdogter verwag om met ’n boerboel of ’n Great Dane te gaan stap nie, kan ek?” Dawid antwoord nie. Dis asof sy ore vol watte geprop is en hy Nita se stem daardeur hoor. Sy praat van honde, gróót honde, en ook van tingerige tannies, maar hy registreer nie behoorlik nie. Hy is tevrede om maar net na die klank van haar stem te luister en haar lippe dop te hou terwyl sy praat. “So, wat sê jy? Sien jy kans?” Hy grinnik skaapagtig. Saam met haar sien hy kans vir enigiets, solank hy haar net weer kan sien. “Ja,” antwoord hy. Later was hy nie seker presies waarvoor hy ja gesê het nie. By die skuiling moet daar darem seker katte ook wees waarmee hy kan help? “Kom Saterdag halfnege. Ons stap graag vroeg met die honde, voor dit te warm word.”
Saterdagoggend loop Dawid deur die voorste hekkie van die diereskuiling. ’n Kakofonie van geluide begroet hom. Hy is teleurgesteld toe ’n vreemde gesig hom verwelkom. “Hallo, ek is Rhonda. Waarmee kan ons help?” “Dis Dawid,” hoor hy dan Nita se stem. Hy swaai om en kyk in haar vas. Sy is mooier as wat hy onthou. “Dawid gaan ons bietjie uithelp met die ou grotes. Dis nie elke dag dat ons groot, sterk vrywilligers kry wat Brutus en Zeus sal kan hanteer nie.” Hy sluk aan ’n knop in sy keel. Brutus en Zeus klink regtig gróót. Die gedagte aan groot honde maak hom naar. Hy beter nou dadelik nee sê, want dit help nie hy hou Nita in die duister nie. Sy gaan buitendien binnekort die waarheid uitvind. Maar sy tong bly stom. “Kom,” sê Nita, “die groot honde is diékant toe.” Nee! protesteer dit binne hom. Tog stap hy gedweë agter haar aan. Hulle kom by ’n hek wat die deel waar die groot honde aangehou word, van die res van die terrein skei. Nita sukkel met die hek se skuiwer. Dawid kan die honde van hier af sien, elkeen in sy eie afskorting toegemaak. Party blaf opgewonde, ander sit of lê doelloos rond. Die een is groter as die ander. Dit moet erg wees om ’n skuilinghond te wees, dink hy. Niemand wil jou hê nie, en jou lewe bestaan net uit eet, slaap en wag vir vrywilligers wat bereid is om met jou te gaan stap.
Hy wens skielik hy het genoeg van honde gehou om een huis toe te vat. Maar sy versugting is van korte duur. Die oomblik toe Nita die hek oopkry, trek sy keel toe. Hy snak hard en hoorbaar. Sy kyk verbaas na hom. Hy móét haar sê, dink hy benoud. “Ek kan nie!” kry hy dit uit. Nita frons. “Ek is jammer ek het jou mislei, maar ek kán nie met die groot honde gaan stap nie. Groot honde maak my bang. Totaal angsbevange. Ek het ’n slegte ondervinding gehad toe ek klein was,” stamel hy verskonend. “Hoekom het jy niks gesê nie?” vra sy sag. “Ek … ek wou graag … jy …” Hy voel hoe sy gesig warm word. “Ek sukkel partykeer om nee te sê.” Sy hoef nie te weet dat hy haar weer wou sien nie. Sy gaan hom buitendien nie nou meer ’n kans gee nie. Hy kan aanvoel hoe belangrik die diere vir haar is, en hy twyfel of sy twee keer gaan kyk na ’n man wat vir groot honde bang is. Sy maak die hek weer toe en draai na hom. “Is jy bang vir klein hondjies ook?” “Nee …?” “Hier is meer as 40 honde wat elke dag oefening moet kry. Elke vrywilliger wat selfs net met één hond gaan stap, maak ons voltydse werkers se taak soveel makliker. As jy kans sien om met ’n kleiner hond te stap, het ek net die regte een vir jou om mee te begin.” Die son trek rooi en goue strepies in Nita se bruin hare. Dawid se hart vermurwe.
“Ek sien kans vir ’n klein hondjie.” Hy bedoel elke woord. “Kom.” Hy volg haar tot by ’n groot blou deur. Die geblaf, toe hulle die skuur binnegaan, is oorverdowend. Hier is ook afskortings, nes by die groot honde, maar die honde in hierdie afdeling is merkbaar kleiner. Nita haal ’n leiband van ’n haak af. Dawid stap agter haar aan tot by ’n afskorting in die hoek. Hy sien eers nie die hond wat hier bly nie. Sy maak die hek oop. “Kom, Gina,” paai sy. ’n Piepklein chihuahua kom nadergedraf. Sy haak die leiband oor die hondjie se kop. “Gina is my gunsteling. Sy is al langer as ’n jaar hier by ons.” Gina is kleiner as Cleo, flits dit deur Dawid se gedagtes toe hy afbuk om haar koppie te streel. Sy hoort nie hier nie. Die hond kyk met groot oë na hom. Daar is soveel vertroue in haar blik, soveel hoop toe sy haar stert swaai. Hy kan eenvoudig nie vir haar nee sê nie. “Dink jy sy sal met ’n kat oor die weg kom?” wil hy weet. Nita kyk verras na hom. “Oorweeg jy dit om haar aan te neem?” “Miskien.” “Jy besef natuurlik ek sal huisbesoek moet doen, dalk selfs meer as een keer, om seker te maak jou plek is geskik vir ’n hond?” Dawid glimlag. Hy het gehoop sy sal so iets sê.