Sy het die afgelope tyd agtergekom hy raak ernstiger oor haar, maar sy voel nie dieselfde nie. Sy weet sy behoort hul verhouding stop te sit voor hy te ernstig raak. Voor hy haar miskien vra om te trou
Deur THERESA VAN BAALEN
“Ek het ’n verrassing vir jou,” sê Werner. Hy klink effens uitasem, soos wanneer hy op sy senuwees is. “Ontmoet my oor ’n halfuur by die walvisstert- fontein.” Sandra sluit haar oë. Watse verrassing kan dit wees? Solank Werner haar net nie vra om te trou nie! Sy het die afgelope tyd agtergekom hy raak ernstiger oor haar, maar sy voel nie dieselfde nie. Sy weet sy behoort hul verhouding stop te sit voor hy te ernstig raak. Voor hy haar miskien vra om te trou. Want sy sal dit nie oor haar hart kan kry om nee te sê nie.
“San … is jy nog daar?” Sy druk die foon stywer teen haar oor. “Ek is nog hier,” sê sy. “Goed, ek sien jou oor ’n halfuur daar.” Dalk moet sy hul verhouding vandag nog beëindig, dink sy. Hoe gouer sy Werner laat gaan, hoe gouer kan hy met sy lewe aangaan. Hy is nie die man vir haar nie. Sy wens net sy het die moed gehad om dit al vir hom te sê toe hy haar die tweede keer uitgevra het.
“Sagmoedige San met jou marshmallow– hartjie,” het haar ma gereeld gespot. Want Sandra wou van kleins af altyd almal gelukkig maak. Sy het nie omgegee om self tweede te kom nie, net solank niemand anders nie sleg voel of seerkry nie. “Jy is laat,” sê Werner toe sy uitasem by die walvisstert-fontein opdaag. Hy leun vorentoe om haar te soen. Sy draai haar kop en sy lippe vang haar skrams teen die wang. “Jammer,” sê sy, “een van ons kliënte was moeilik, en ek kon Lidia nie alleen met haar los nie. Lidia is nog nuut, en daai vrou sou haar vir brekfis opgevreet het.” Werner glimlag en druk haar hand. “Dis hoekom ek so lief vir jou is. Jy gee altyd om.”
Sandra onderdruk ’n kreun. Sy het mooi uitgewerk wat sy vir hom wou sê. Sy sou hom nie ’n kans gee om te praat nie, en dadelik lostrek om die gewig van haar hart af te kry. Hulle is nie vir mekaar bedoel nie. Maar hoe kan sy hom nou afsê as hy so pas weer sy liefde aan haar verklaar het? Sy kry nie kans om verder te tob nie. “Kom saam,” sê hy en trek haar aan die hand. “Ek wil jou iets gaan wys.” Hulle stap op die promenade en Sandra verkyk haar opnuut aan die see. Dit maak nie saak hoe lank sy al hier woon of dat sy die see elke dag sien nie, sy raak nooit moeg vir die uitsig nie. Werner lei haar tot by Dolce Gelato, haar gunstelingroomyswinkel. Die naam klink so romanties, dink sy, maar sy weet in Afrikaans klink dit allesbehalwe so. Dolce gelato is bloot Italiaans vir “soet roomys”. Maar ten minste is dit nie misleidend nie. Die roomyse is beslis soet – absoluut dekadent.
Hulle gaan die winkel binne. Met ’n beweging van sy hand beduie Werner iets vir die vrou agter die toonbank. Die vrou glimlag en begin roomys op ’n horinkie skep. “Hier is ons,” sê Werner en glimlag. “Vandag is die eerste dag van die res van ons lewe …” Sandra se hart mis ’n slag. Wat probeer hy sê? “Jy kyk nou na die nuwe eienaar van Dolce Gelato,” kondig hy aan. Dit neem haar ’n sekonde om die nuus te prosesseer. “Bedoel jy … Het jy die winkel gekóóp?” roep sy oorstelp uit. En om te dink sy was bang hy vra die groot vraag. Werner knik en neem die roomys wat die vrou oor die toonbank aangee. Hy gee dit vir Sandra aan. “Om dit te vier, móét jy eenvoudig die nuwe piesangtoffiekaramelgeur probeer.”
Sandra laat haar nie twee keer nooi nie. Sy sal elke dag roomys eet as sy kan. Die eerste lek is heerlik, maar sy voel hoe haar neus met die ysige koue kontak maak. “Dankie,” giggel sy toe hy haar neus se punt met ’n papierservet afvee. Sy kan sowaar nie glo hy het Dolce Gelato gekoop nie. Hy praat al lank van so iets, dat hy ’n onderneming wil koop, maar dat hy nog na die regte een soek. Sy het altyd gedink dis maar net praatjies. “Gaan jy nie roomys eet nie?” vra sy verleë toe sy besef hy staar haar aan. Hy glimlag. “Dis lekker om te kyk hoe jy joune geniet.” Selfbewus neem sy ’n hap, in plaas daarvan om te lek. Maar die hap bring nie net die piesang-toffiekaramellekkerte nie. Daar is iets in die roomys wat nie daar hoort nie. Gedagtig aan Werner wat haar steeds intens dophou, is Sandra versigtig om nie te oorreageer nie. Haar tong verken die vreemde voorwerp, al gril sy effens. Dan besef sy presies wat in haar mond is. Sy moes dit sien kom het; eintlik hét sy dit sien kom, net nie só nie. ’n Ring! Haar brein verwissel ratte. Werner staar nie verniet na haar nie. Hy wag dat sy die ring kry sodat hy haar kan vra om te trou!
Vir ’n oomblik oorweeg sy dit om die ring in te sluk. As dit weg is, het hy mos geen rede om haar te vra nie. Maar sy besluit daarteen en lek weer aan die roomys, dié keer báie versigtig sodat die ring nie uit haar mond val of in haar keel afglip nie. Haar bolip raak effens besmeer, en sy glimlag liefies wanneer sy met die servet oor haar mond vee. Met haar tong druk sy die ring ongesiens in die servet uit, steek dit in haar sak en smul verder. Namate haar roomys kleiner word, verander die uitdrukking op Werner se gesig. Sy aanvaar dis omdat hy nie kan verstaan wat van die ring geword het nie.
Werner hou vir Sandra dop terwyl sy eet. Sy behoort nou enige oomblik op die ring af te kom. Hy het vir Jacky mooi verduidelik om dit bolangs, in die boonste skeppie, in te druk. Skielik wonder hy of dit so ’n goeie idee was. Wil hy regtig met haar trou? Hy dink hy wil, maar wíl hy? En wil hy haar régtig vandag vra? Hy hou asem op terwyl sy eet. Eers lek sy waarderend aan die roomys, dan hap sy ’n mondvol, en lek dan weer. Hy vee sweet van sy voorkop af. Hoekom het sy nog nie die ring gekry nie? Het sy dit ingesluk? Dalk is dit ’n bestiering; dalk is hy nie veronderstel om haar te vra om met hom te trou nie. Kan mens iets oorkom as jy ’n ring insluk? Hy sien hoe Sandra die horinkie met ’n laaste happie verorber. “Dankie,” sê sy en glimlag. “Dit was heerlik.” Dit lýk nie of sy iets gaan oorkom nie, probeer hy sy gewete sus. Dalk is dit beter dat sy nooit van die ring weet nie.
Sjoe, vandag het sy ’n noue ontkoming gehad, dink Sandra terwyl sy die ring bestudeer. Dis pragtig en getuig van goeie smaak, maar sy sal dit vir Werner móét teruggee en hom die waarheid vertel. Dis die minste wat sy aan hom verskuldig is. Gesteurd kyk sy op toe die deurklokkie lui. Wie is dit dié tyd van die aand? “Sandra,” sê Werner toe sy oopmaak, “kan ek inkom?” Haar hart klop in haar keel. Sy moet hom nóu sê dat sy nooit met hom sal kan trou nie … sy wou hom nooit seermaak nie, maar hy gaan seerder kry as sy verder uitstel, probeer sy haarself moed inpraat. Santjie met jou marshmallow-hartjie, sometimes you have to be cruel to be kind, onthou sy haar ma se stem. “Ek wil weet of jy oukei is,” sê Werner.
“Ek voel so sleg …” Hy kyk verleë af grond toe. “Jy weet dit dalk nie, maar jy het vandag ’n ring ingesluk toe jy die roomys geëet het. Ek wou jou gevra het om met my te trou, maar toe begin twyfel ek of dit die regte ding is om te doen. Toe die ring verdwyn, was dit ’n teken … Ek is jammer, Sandra, maar ek wíl nie met jou trou nie. Ek wil wel seker maak jy weet van die ring en dat dit nie iewers in jou derms gaan vassit en jou skade berokken nie …” Hy wil nie met haar trou nie! En hy sê háár af! Sy lag hardop. “En ek wil nie met jóú trou nie, Werner.” Terwyl sy die ring na hom uithou, sien sy die verligting op sy gesig. “Ek het dit nooit ingesluk nie, ek het net nie geweet hoe ek jou in die oë sou kon kyk en nee sê nie.”