‘Ek is footloose and fancy free,’ verseker hy my toe ek hom vra. Hopelik het hy nie ongetroud gebly omdat hy al die jare sy siek ma opgepas het nie. Want dan raak hy te goed om waar te wees …
Olivia het ’n liefdeslewe wat vir niks skrik nie. Ons gewone vroue met mans wat snork en ander vreemde geluide in die bed maak, kan nie saampraat nie. Niemand fluister soet woordjies in ons ore nie en daar word nie bosse blomme by ons voordeure afgelewer nie.
Nie dat haar liefdes lank hou nie, maar die een is skaars weg, dan daag die volgende een op. Die een nes die ander. “Dis wonderlik,” verseker sy my. “Wanneer hy na my toe kom, is dit met vrede en liefde in sy hart. Al sy befoeterdheid los hy by die huis. Dis sy vrou wat daarmee opgeskeep sit.” “Maar wat kry jý daaruit?”
“Bewondering. Vertroeteling. Aandag. Net genoeg om nie te veel te wees nie. Voordat ons met mekaar verveeld kan raak, lui sy selfoon en moet hy huis toe jaag met ’n sakkie aartappels of uie onder die arm sodat sy vrou kan begin kos kook. As ons saam is, eet ons iewers in ’n donker hoekie in ’n vyfsterhotel of ’n restaurant waar alles vir jou op ’n silwer skinkbord aangedra word.”
“Maar dis ’n fantasie!” protesteer ek. “Natuurlik is dit! Dis wonderlik. Ek weet dis tydelik en my hart breek nie wanneer hulle weer die pad vat nie. Wat elke keer gebeur. Ná ’n ruk raak hulle aan my gewoond en raak ek al hoe meer soos die vrou by die huis. Dan los hulle my en gaan terug huis toe omdat dit minder moeite is.” Maar ek is ’n ware vriendin, ek is nie tevrede nie. Olivia kan nie gelukkig wees nie. Sy moet ’n man van haar eie hê en die spul getroude kansvatters na hul vroue toe terugstuur.
Toe kom Rudolf by ons werk. “Ek is footloose and fancy free,” verseker hy my toe ek hom vra. Hopelik het hy nie ongetroud gebly omdat hy al die jare sy siek ma opgepas het nie. Want dan raak hy te goed om waar te wees, dink ek toe ek sy goeie maniere sien.
Ek verduidelik vir hom van Olivia en waarom ek hulle aan mekaar wil voorstel. “Jy sal moet voorgee om getroud te wees. Net totdat sy op jou verlief is, want anders gaan jy nie ’n voet in die deur kry nie.” Hy speel die rol perfek. Het selfs vir hom ’n ring gaan koop om aan sy vinger te steek.
“By ’n pandjieswinkel,” verduidelik hy, “sodat dit nie ’n blinknuwe ring sal wees nie.” Ordentlik én slim! besef ek. Die ring pas asof dit vir hom gemaak is.
Toe Olivia vir Rudolf leer ken, is dit die gewone storie. Sy vra uit en hy vertel van ’n vrou wat hom nie verstaan nie en van kinders wat hom mal maak. Alles net mooi soos ek hom afgerig het. Ek weet mos watter stories Olivia se hart raak sodat sy luister asof dit die eerste keer is dat sy soortgelyke klaagliedere hoor. Só vang Rudolf haar in sy web, want later gesels hulle nie meer oor sy denkbeeldige huwelik nie, maar oor die weer en die politiek en vir die eerste keer sien ek trane in Olivia se oë.
“Ag, hemel tog,” huil sy op my skouer, “nóú het ek ’n probleem, nou het ek gaan staan en lief raak vir die mansmens en nou gaan my hart breek om hom te laat gaan.” “Dit sal nie vir jou nodig wees om Rudolf te laat gaan nie,” stel ek haar laggend gerus. “Want hy het net voorgegee om getroud te wees.”
En voor my oë begin Olivia blom – vir die eerste keer in haar lewe. “Jy kan jou fake trouring nou maar bêre,” sê sy toe Rudolf die volgende dag kom kuier. “Ek weet nou alles.” Dit gee ’n vreeslike gesukkel af om die ring van sy vinger af te kry en Olivia moet later seep aan die ding smeer. Dis toe Rudolf ’n sakdoek uithaal om die seep van die ring en van sy vinger af te vee dat die foto uit sy binnesak val. “Van ’n flippen vet vrou en vyf flippen kinders,” vertel Olivia later, vreeslik vies vir my. “En agter op staan geskryf: Aan my liefste man. Om solank die verlange te stil totdat ons by jou aansluit.”