Toe hulle by die sand kom, trek sy haar verskriklik hoë hoëhaksandale uit. Hy het nog nooit sulke mooi sandale gesien nie
Deur TIENIE HOLTZHAUSEN
Toe Pafi Modise wakker word, kyk hy dadelik na die almanak teen sy muur. Kersdag. Sy ma het hom gewaarsku dat daar nie presente gaan wees nie. Haar salaris is skaars genoeg vir brood op die tafel en vir die maand se taxigeld. En hy moet nog nuwe skoolklere kry. As ’n mens hoërskool toe gaan, moet jy darem ordentlik lyk.
Hy staar sy ma agterna deur die venster van hul vierkantige huisie toe sy donkeroggend pad toe stap om ’n taxi te kry na die supermark toe waar sy werk. Sy kry vandag dubbelbetaling en sy werk net tot middagete. Hy sug terwyl hy sy hemp aantrek. Kersdag of nie, sy eie werk wag.
By die parkeerplek langs die see maak hy sy kartonbord – Pafi’s Car Wash – met toutjies teen ’n houtpaal vas. Dis ’n nuwe bord en die letters is mooi dik en egalig. Hy haal sy kokipen uit sy sak en kleur die hoofletters nog ’n bietjie meer in.
Dis vinnig besig om hoogwater te word. Hy hou van hoogwater, dan kom die see tot baie naby die parkeerterrein en die KFC-eetplek langsaan se stoep. Dit lok meer mense.
Hy kyk na die eerste kar wat stilhou. Agge nee, dis silwerskoon. Selfs die bande blink pikswart in die oggendson. Hy verskuif die karlappe langs sy kartonbord en vee sy rooi emmer nog skoner. Toe gaan sit hy weer op die heining en wag vir nog karre.
Die wit BMW-4×4 wat net daarna stilhou, is lekker vuil, sien hy. Die voorvenster is dof en daar is modderspatsels agter die wiele.
LEES OOK: Kortverhaal: Grondboontjiebotter en stroop
Hy staan regop, vryf sy hande en glimlag breed vir die vrou wat agter die stuurwiel uitklim. Hy wys na sy kartonbord en sy emmer. Sy kyk na hom asof hy nie bestaan nie; so ’n middeldeur-kyk. Die witkopseuntjie saam met haar glimlag darem skamerig na sy kant toe, voor hy sy ma se hand vat en hulle wegstap. Toe hulle by die sand kom, trek sy haar verskriklik hoë hoëhaksandale uit. Hy het nog nooit sulke mooi sandale gesien nie. Die voorkante het kruis-endwars- bandjies met rooi en silwer steentjies wat ligspatsels weerkaats. Agter, in die middel van die hoë hakke, loop ook so ’n ry blink steentjies.
Pafi se maag grom toe die reuke van die KFC na sy kant toe waai. Hy gaan sit hangskouers langs sy karton en sy emmer. Ander vakansiedae het hy darem teen dié tyd al genoeg vir ’n hoenderboudjie met ’n broodrol daarby verdien.
Hy kyk na die BMW-vrou en haar seuntjie waar hulle langs die see stap. Sy haal haar slaprandhoed af en hou dit met dieselfde hand vas waarmee sy haar sandale vashou. Sy skud haar kop agtertoe en laat die wind deur haar hare waai. Die seuntjie pluk aan haar romp. Sy tel hom op en swaai hom hoog deur die lug. Al in die rondte. Toe sy hom neersit, val haar een sandaal uit haar hand en sy kom dit nie agter nie.
Hulle stap verder en verdwyn agter die rotse. Die see word vinnig hoër. Dit gaan daardie sandaal enige oomblik terug water toe insluk. Pafi hardloop oor die sand en red die sandaal net betyds. Hy kyk daarna. Dis splinternuut en onder die sool is ’n seshoekige teken wat sê “real leather”. En daar staan ook geskryf: Jimmy Choo.
Toe ’n ou oom sy leë KFC-boksie in die asblik gooi, kry hy ’n plan. Hy haal dit uit, skeur die deksel af en skryf aan die binnekant: For sale. Real leather Jimmy Choo sandal. R50. Met soveel geld sal hy vir hom ’n ordentlike brekfis kan koop. Hy gooi sand in sy rooi emmer se deksel en sit die sandaal in die middel daarvan. Toe sit hy dit op die paal voor die wit BMW. Met die prys duidelik uitgestal, sodat daai opstêrs vrou dit nie sal kan miskyk nie. Hy trek sy ken boontoe en voel tevrede.
Sy wou hom mos soos ’n stuk rubbish behandel. Nou sal hy haar wys. As sy haar sandaal wil terughê, kan sy dit by hom koop. Maar hy gaan dit nie vir haar aanbied nie. Nee, sy sal hom mooi daarvoor moet kom vra. En dalk gaan hy nog kibbel oor die prys ook; haar ’n bietjie laat sweet.
Hy loer vir die vrou en haar seuntjie toe hulle by die trappe opstap parkeerterrein toe. Sy gaan staan stil en kyk geskok na haar hande wat net een sandaal vashou. Toe draai sy in haar spore om en loop weer see toe; terug op die pad waarlangs hulle twee vroeër gestap het. Haar kop is heeltyd onderstebo en dis duidelik dat sy haar sandaal soek.
Die mense wat stilhou, lag almal vir hom as hulle die sandaal op die paal sien. Dit moet seker vir hulle snaaks wees dat ’n mens net een sandaal te koop aanbied, dink hy.
Tot sy verbasing trek die sandaal ook aandag na sy kartonbord toe. En al hoe meer mense vra hom om hul karre te was. Hy kry so baie werk dat hy nie tyd het om vir hom ’n stukkie hoender te gaan koop nie.
’n Uur later sien hy uit die hoek van sy oog dat die vrou met die seuntjie steeds langs die water na haar verlore sandaal loop en soek. Sy gewete pla hom. Maar dan besef hy dat as sy terugkom en die sandaal sien en dit by hom wil koop, sy karwasbord nie meer soveel aandag gaan trek nie. As hy die sandaal vir homself hou, kan hy dit vir die res van die vakansie gebruik om sy besigheid ’n hupstoot te gee. Maar wat as sy hom ’n goeie aanbod maak vir die sandaal? Hy maak sommetjies. Nee, hy gaan die sandaal hou. Dalk raak dit nog sy trade mark, wie weet. Dan kan hy vir hom ’n nuwe bord maak, die sandaal daaraan vasmaak en dit noem: Pafi’s Jimmy Choo Car Wash. Sal dit nou nie cool wees nie?
Hy kyk na die see se kant toe. Die seuntjie trek weer aan sy ma se romp en beduie na die stoep waar die mense sit en eet. Hy is seker net so honger soos ek, dink Pafi en was ywerig voort aan die swart Merc wat nie regtig vreeslik vuil is nie.
Een van sy klante stop hom ’n yslike appel in die hand toe sy hom klaar betaal het. Dankie tog, dit gaan help vir die hongerpyne. Hy kan nie nou ophou werk net om te gaan kos koop nie.
Toe dit stiller raak, besluit hy om te begin oppak en eerder die hoender waarna hy al so lank uitsien, te los. Die tou by die takeaway- venster is te lank en die pizzaplek om die hoek maak baie lekker pizzas. Dan kan hy die res van die Kersdag saam met sy ma kuier. Sy sal bly wees. En miskien bring sy iets soets van die werk af saam.
Pafi tel die geld wat hy vandag gemaak het. Meer as genoeg vir nuwe skoolskoene. Hy maak sy kartonplakkaat los, draai so veel as moontlik water uit sy karwaslappe en hang hulle aan ’n boomtak om winddroog te word. Net toe hy sy tekkies begin aantrek, sien hy die BMW-vrou aangestap kom parkeerplek toe. Sy hou haar sandaal in haar een hand vas en haar hoed in die ander hand. Hy gooi een van die lappe vinnig oor die sandaal op die houtpaal en hou hom kop onderstebo met sy tekkies se veters besig.
Toe sy naby haar BMW is, pla sy gewete hom weer en hy stap na haar toe met die sandaal. Sonder die stukkie karton met die prys daarop. Sy gee ’n vreugdesprong en jy sien net agtertande met goue stopsels soos wat sy oopmond en kop agteroor lag. Hy kan sy oë nie glo nie. Kan een ryk mens so bly wees net oor ’n sandaal?
Maar hy het ook nooit in sy wildste drome gedink enige mens kan so wreed wees nie. Want sy gee hom nie ’n enkele sent nie. Hy moes nooit die dekselse sandaal vir haar teruggegee het nie, praat hy met homself toe hy op die houtreling gaan sit en met sy ken in sy hande na die see staar. Sy lappe is naderhand droog, maar sy oë bly op die branders vasgenael.
Hy dagdroom nog so oor die dag se gebeure, toe hy ’n hand op sy skouer voel. “Geseënde Kersfees,” sê die vrou met die Jimmy Choo-sandale met ’n glimlag en hou ’n KFC-emmer vol hoenderstukke na hom toe uit. Hy rek sy oë en spring van die reling af. Sjoe, sy ma gaan bly wees! Toe maak die vrou haar beursie oop en stop twee R100-note in sy hand.
“Maar dis mos vrééslik baie geld …” begin hy en sy mond hang oop. “Nie as jy die verlore maat van jou paar Jimmy Choo-sandale opgespoor het nie,” sê sy en Pafi kan sien sy praat die waarheid.