Van afwagting is daar ’n dowwe pyn op die krop van Marlena se maag toe sy van die parkeerplek die kort entjie na die braairestaurant toe stap. By die deur huiwer sy. Loer dan tog in
Deur ELSA HAMERSMA
Dit is die derde keer in tien dae wat Marlena by Jeanne, die fisioterapeut, is.
“Genade, mevrou Du Plessis!” sê Jeanne verbaas. “Jou nek- en skouerspiere is steeds snaarstyf. Ná twee behandelings is dit gewoonlik baie beter.”
“Seer,” is al wat sy met haar gesig in die bed gedruk kan mompel.
“Dit help as ’n mens die oorsaak van die spanning aanspreek,” waag Jeanne ná ’n ruk versigtig.
“G’n oplossing nie,” brom sy.
Dis moeilik om ’n gesprek te voer met iemand wat jy nie in die oë kan kyk nie.
“Mevrou se man is verlede jaar net voor Kersfees oorlede, nè?” sê-vra Jeanne. “Jy onthou goed,” sug Marlena. “Normaalweg sou ek nie die tyd so spesifiek onthou het nie, maar my niggie is in dieselfde week dood. En meneer Du Plessis het mos gereeld vir fisio gekom.”
“Hy het.” Ou rugbybeserings het Phillip se lewe baie versuur.
“My niggie se man is verskriklik alleen,” sê Jeanne en begin met die hittebehandeling. “Ek ook,” moet Marlena erken.
Eers toe sy aangetrek is en haar handsak gevat het om te loop, sê Jeanne: “Mevrou is alleen en my oorlede niggie se man is alleen. Kan ek nie maar Mevrou se telefoonnommer vir hom gee nie? Dalk kan julle ’n bietjie saam kuier.”
Marlena het haar eers yskoud geskrik. Saam met ’n ander man kuier? Wat sal Phillip daarvan dink? Maar hy is dood, het sy in dieselfde oomblik onthou. Amper ’n jaar lank.
Dit was uiteindelik die gedagte aan ’n eensame Kersfees wat die deurslag gegee het. Haar kinders gaan sy nie sien nie. Al drie bly oorsee en moes duur vliegtuigkaartjies koop om Phillip se begrafnis by te woon.
Ses maande later het sý weer lank by hulle gaan kuier en sy is maar ’n paar weke weer tuis.
Al ander familie wat sy het, is haar broer wat naby Upington boer. Wat eenvoudig te ver is. Op vriende sou sy ook nie kon reken nie. Die twee stelle naaste vriende wat oorgebly het se planne is klaar gemaak om vakansie te gaan hou. Daarom gaan sy nou vir Dirk Lategan, die man wat ook eensaam is, vir middagete ontmoet.
LEES OOK: Kortverhaal: ’n Veilige herberg
Hy sal haar aan die rooi serpie wat sy om haar nek geknoop het, eien. En sy moet vir ’n man met ’n sakdoek in sy bosak soek.
So prosaïes, so stereotiep, dink sy, maar definitief beter as sy voorstel dat hulle albei ’n rooi roos op hul bors dra.
Van afwagting is daar ’n dowwe pyn op die krop van Marlena se maag toe sy van die parkeerplek die kort entjie na die braairestaurant toe stap. By die deur huiwer sy. Loer dan tog in.
Die afspraak was om buite te wag, maar dalk …
“Is jy Marlena?” Die fynerige manstem vang haar onverhoeds. Sy swaai om en sien eerste dat sy een oog water.
Dan, dat sy hare yl, maar netjies oor die blink dele gekam is. Maar dis sy slierterige baardjie, knit one slip one, waarop haar oë vashaak. Dit, en die gekreukelde sakdoek wat hy nou gebruik om sy oog mee af te vee.
Eers toe hulle oorkant mekaar by die tafel sit, sien sy dat sy hemp splinternuut lyk. Siestog, dink sy met ’n skeutjie simpatie. Seker gekoop om haar te beïndruk.
“Gaan ons darem ’n bietjie wyn drink?” vra hy voordat hy nog behoorlik sit. Vir koerasie, dink Marlena. “Dankie. Wit en droog, asseblief.”
Hy bestel ’n bottel wyn en kyk dan met groot konsentrasie na Marlena.
“Jy’s mooier as wat Jeanne gesê het.”
Is dit ’n kompliment en moet sy dankie sê? “En ek hou van jou naam.” As sy dit reg verstaan, het hy pas te kenne gegee dat hy haar goedkeur, dink sy.
“Ek’s baie alleen,” sê hy en sug swaar. “Was jy en jou vrou lank getroud?” vra Marlena simpatiek.
“Sewe jaar. Tweede vrou, jy weet. En sy was nogal baie jonger as ek. Daarom het ek nie verwag dat sy voor my die houtjas gaan aantrek nie,” sê hy met nog ’n uitgerekte sug.
’n Uur later weet Marlena alles van Dirk Lategan, maar veral waarvan hy nie hou nie.
Dis ’n lang lys: flou koffie, sterk tee, tuinwerk, raserige musiek, vroue met rooi naels, kosprogramme op TV, sepies. Veral weet sy hoeveel keer hy per minuut kan sug. Hy praat asof hy spesiaal sy batterye vir die afspraak gelaai het en terwyl sy luister, kan Marlena nie haar oë van die yl baardjie afhou nie.
Ten spyte van sy beste pogings om te keer, beland die baardjie van tyd tot tyd in die wynglas. Dit word moeilik om ’n glimlag te keer. Sy het al van ’n wyn vlieg gehoor, dink sy, maar ’n wynbaard?
Sy is diep dankbaar toe die ete verby is. “Moet jy nou al huis toe gaan?” vra hy met nog ’n swaar sug toe hulle opstaan. “Kan ons nie gaan fliek nie?”
“Jammer, ek het ’n afspraak by die tandarts.” Waar die leuen ontspring het, het sy geen idee nie.
“O. Nou wanneer sien ek jou weer?” Sy kyk af terwyl sy wonder hoe sy hom sonder om hom seer te maak, kan laat verstaan dat sy nie vir verdere afsprake te vinde is nie.
Toe sy opkyk, weet sy presies wat om te sê. “Ek’s jammer, Dirk. Dit gaan nie werk nie, want dis te gou ná my man se dood. Vandag het ek besef dat ek nog lank nie reg is om saam met ’n ander man te kuier nie.”
Sy steek haar hand uit en hy vat dit onwillig. “Dis jammer,” sê hy stil. Toe sy wegstap, voel sy sy oë op haar rug.
Sy hét simpatie met hom, dink sy, maar nie genoeg vir nog ’n afspraak nie.
Kersoggend staan sy vroeg op om na die vroeë diens toe te gaan. Sy sit terug in die kerkbank, maak haar oë toe en luister na die warm stem van die prediker.
Die jubelende klanke van die orrel en die bekende boodskap van verlossing lawe haar siel en bring kalmte en vreugde in haar gemoed.
Met die uitstap voel sy ’n sagte drukkie aan haar arm.
Sy kyk om en sien die vriendelike gesig van die predikantsvrou, Etresa.
“Ek dink al die hele week aan jou,” sê Etresa. “Dit moet vir jou baie swaar wees dié tyd van die jaar.” “Dit is,” erken Marlena. “Verlede jaar was die kinders almal Kersdag nog hier, want Phillip is toe pas dood en begrawe. Die verlies het nog nie geregistreer nie. Dié jaar is ek alleen.”
LEES OOK: Kortverhaal: Servaas se kersspel
“Kom eet by ons,” nooi die vrou opreg. “As ek besef het …” “Dankie, maar nee dankie,” val Marlena haar in die rede. “Dis lief van jou, maar ek het klaar ander planne.”
By die huis druk sy ’n kwartskaapboudjie met knoffel en roosmaryn in die oond, skil aartappels om te braai en sit pampoen op die stadige plaat. Die klein bakkie koekstruif het sy die vorige aand al aanmekaargeslaan en in die yskas gesit.
Toe gaan sit sy voor die rekenaar en kyk-praat met haar kinders op Skype. Met ’n bietjie verbeelding is hulle almal daar – in haar sitkamer.
Toe die geure van die kos die lug begin vul, speel sy haar en Phillip se mees geliefde musiek en skink vir haar ’n glasie sjerrie.
Sy sit terug en haar gedagtes neem vanself die loop. Hoe goed onthou sy nie die eerste keer toe sy Phillip ontmoet het nie.
Dit was in haar tweede jaar op universiteit. Sy was vaal en heeltemal te ernstig vir haar ouderdom – die produk van haar nougesette, streng ouerhuis.
Toe sy aan hom voorgestel word, het sy gesê haar naam is Maria Magdalena.
“Albei name?” het hy verbaas gevra. Sy het geknik. Dis hoe haar vrome ouers haar genoem het.
Ná hul tweede afspraak, het hy haar styf teen hom vasgedruk en innig gesoen.
“Jy’s nie ’n Maria Magdalena nie. Eerder ’n Marlena,” het hy gesê.
“Hoekom sê jy so?” wou sy verstom weet. “Ek voel dit aan. Ek dink jy’s ’n warmbloedige, vrolike en onkonvensionele vrou wat wag om uit te breek,” het hy geantwoord.
Hy was reg. Haar ware natuur is altyd streng onderdruk. Phillip het haar egter die ruimte gegee om haarself te wees. Deur die jare het hy haar nooit anders genoem nie en haar ontluiking liefdevol en geamuseerd gade geslaan.
“Jul ma was ’n toegeslaande koek toe ek haar ontmoet het,” het hy haar voor die kinders geterg, “maar nou’s sy koekstruif, ’n koek wat met kersies, neute, vla en ’n knertsie drank opgedollie is.”
Marlena lig die glasie sjerrie. “Op jou, my man,” sê sy sag.
Terwyl sy saam met die musiek neurie, verf sy haar bleek naels bloedrooi, soos Phillip daarvan gehou het.
Sy is gelukkig, peins sy, dat sy soveel vreugdevolle herinneringe het.
Maar verál is sy gelukkig dat sy nie Kersdag saam met sugtende, beswaarde Dirk Lategan hoef deur te bring nie.
Toe lag Marlena vrolik.