Sy tree nader, tel die boekie op. Kyk na die kitsch voorbladontwerp, die geykte titel. Vir die eerste keer besef sy: Ek lees te veel soetsappige gemors
Deur KOOS KOMBUIS
Stephanie maak haar boek toe. “Dit was nou die mooiste storie wat ek in ’n lang ruk gelees het,” sê sy vir haarself.Sy weet sy moet uit die warm bed opstaan om die agterdeur oop te sluit vir Zandile wat nou-nou gaan inkom om die brekfispap te maak en die diere te voer. Maar sy is vanoggend traag om met haar dagtake te begin.
Dit was nou die soveelste keer in ’n ry dat sy klokslag tussen vieruur en vyfuur die oggend wakker skrik. ’n Vreemde roetine het dit geword: Staan voor ligdag op, gaan maak ’n koppie tee, en klim weer in die bed met ’n storieboek. Vir die eerste keer vandat sy met Okkie getroud is en saam met hom drie kinders grootgemaak het, waarvan die laaste een pas uit die huis uit is, het sy weer die salige ontvlugting van stories ontdek. Sy lees amper nooit meer die nuus en sosiale-mediaboodskappe op haar selfoon nie. Is storieboeke haar manier om van die verskriklike werklikheid te ontvlug? Dis ’n vraag wat sy haarself al soveel male afgevra het.
Okkie se sterwe vier jaar gelede was die eerste ontnugtering. Die eerste keer dat sy besef het dat, al doen jy alles reg en maak jy so ’n goeie lewe as wat jy kan, dinge nie altyd met ’n gelukkige einde uitwerk nie. Stephanie knip die bedliggie af. Gooi die liefdesverhaal eenkant neer. Skakel die elektriese kombers af. Klim uit die bed. Steek haar voete in haar pantoffels wat op die matjie lê. Gryp haar kamerjas van die hangkasdeur af, waar dit altyd hang, en trek dit aan. Sy kyk vlugtig na haarself in die lang spieël. Op net duskant 50 lyk sy nie meer so goed soos wat sy behoort te lyk nie. Haar hare word grys, haar oë lyk hartseer en dood, en haar figuur, hoewel nie te vet nie, het nie meer die wulpse rondings wat dit gehad het toe sy jonk was nie.
Tot vier jaar gelede was sy van nature opgeruimd, positief en altyd besig, besig. Die lewe van ’n voltydse moeder en huisvrou was vir haar vervullend en sinvol. Nou het sy skielik oud geword. Ek is ’n tannie, dink sy geskok. ’n Amper bejaarde tannie … Dan stap sy deur die kombuis agterdeur toe. Tot haar verbasing is Zandile reeds doenig by die wasbak. Die berge skottelgoed wat oor die naweek opgehoop het, staan soos ’n stapel beskuldigings. Zandile het reeds begin warm water intap. “Môre, Zandile,” groet sy toonloos. “Môre, Mevrou.” Ná al die jare noem Zandile haar steeds “mevrou”. Sy kom elke weeksoggend in om ’n handjie by te sit met alles, vandat die kinders klein was tot nou toe. Sy is deel van die huis soos die meubels.
“Hoe het jy ingekom, Zandile?” Sonder om eers na haar te kyk – sy staan met haar rug na Stephanie, besig om die eerste skuimerige borde skoon te vryf – betig Zandile haar: “Mevrou het vergeet om die agterdeur te sluit. Dis gevaarlik! Enigiemand kon deur die nag ingekom het, Mevrou!” “Goeiste, Zandile!” Stephanie gryp vervaard na haar keel. Ná wat juis verlede maand met die Breytenbachs gebeur het – en hulle woon skaars ’n blok van hier af! Is daar nie meer iets soos ’n veilige woonbuurt nie? Stephanie stoot die gaasafskorting oop en stap by die agterdeur uit. Op die stoep is die honde en katte reeds besig om gulsig te eet aan die kos wat Zandile in hul bakkies op die klipvloer neergesit het. Die honde groet haar stertswaaiend, en die worshond blaf ’n keer en sirkel om haar voete voor hy na sy kosbak terugkeer.
“Alles lyk so normaal,” sê Stephanie saggies. Sy stap uit op die grasperk. Die winter is eintlik al verby, die dae gaan van nou af warmer begin word. Agter die heining sien sy haar buurvrou, Zandra, al besig om wasgoed op die draad te hang. Dit lyk of haar hare weer begin uitgroei het na die onlangse chemo-behandeling. Sy dra nie meer haar ewige wolmussie nie. Zandra lyk gesonder as wat sy in jare gelyk het. Dalk is daar tog hier en daar gelukkige eindes? Nie so ekstaties gelukkig soos in die storieboeke nie, maar tog gelukkig? Zandra wuif vir haar. “Die lente is nou regtig hier,” roep sy. “Dit gaan ’n mooi dag wees, en toe sit ek vroeg al ’n bondel wasgoed in sodat ek dit kan uithang!” Maandag. Wasdag. Soos in die outyd. Hoe kry Zandra dit reg om so opgeruimd te lyk? Haar lewe was die laaste ruk ook allesbehalwe ’n sprokie.
“Is daar iets verkeerd, Stephanie?” vra Zandra. Sy het klaar wasgoed opgehang en staan nou by die heining. Daar is simpatie in haar oë. “Jy het vanoggend nog nie ’n woord gesê nie.” “Ek het die hele naweek nooit skottelgoed gewas nie,” blaker Stephanie dit uit. “En toe het ek laasnag vergeet om die agterdeur te sluit. Ek wonder wat is fout met my.” Zandra lag hartlik. “Ons is maar almal soms vergeetagtig. En ons is almal ewe lui vir skottelgoed was. Jy is heeltemal normaal, Stephanie.” “Hoe gaan dit met die behandeling?” vra sy, want sy voel sy wil die aandag van haar eie situasie weglei. ’n Skaduwee skuif oor Zandra se gesig. “Ek het die chemoterapie gestaak,” sê sy. “Ek het aanvaar …” “Wát aanvaar?” Dit word koud in Stephanie se hart. “Dat my einde naby is. Onafwendbaar. Ek voel nou gesonder. Die behandeling het my ellendig laat voel en ellendig laat lyk.” Sy bly ’n oomblik stil en wys dan met haar hand na die agterste heining waar die eerste sonstrale die toppe van die bome verguld. “Ek vat elke dag soos dit kom. Ek gaan my lewe geniet vir so lank as wat dit moontlik is.”
Sy kyk af na haar voete. Wanneer sy weer opkyk, het haar oë vol trane geskiet. “Die kanker versprei, Stephanie. Vinniger as wat hulle verwag het.” “Ek is … ek is sprakeloos. Dit is verskriklik.” Daar is skielik ’n geblaf vanaf Stephanie se agterdeur, en dan hoor sy Zandile se stem wat roep: “Mevrou, hier’s iemand by die voordeur!” “Moenie weggaan nie, Zandra, ons moet praat,” sê sy haastig in ’n fluisterstem. Sy is te bewoë om hard te praat. “Ek is nou-nou terug.” Ek is in my kamerjas, dink Stephanie. Ek kan nie só die voordeur oopmaak nie! Wie kan dit wees, so vroeg in die oggend? Met ’n paar lang treë is sy by die agterdeur in, deur die kombuis, sitkamer en gang, tot by die voordeur, net betyds om te hoor hoe die klokkie weer lui. Zandile het gelukkig intussen die honde onder beheer gekry en terug agterplaas toe gevat. Stephanie tuur deur die loergaatjie. ’n Bedelaar. Daar is al meer van hulle deesdae.
Dan draai sy om, gryp ’n handvol muntstukke uit die glaspot op die ou buffettafel in die voorportaal, en maak die deur op ’n skrefie oop. “Mevrou, ek wil nie bedel nie …” “Natuurlik bedel jy. Hier is iets. Moet om hemelsnaam nie gaan drank koop nie. En moet ons nie weer so vroegoggend pla nie!” Uit die kombuis dryf die reuk van vars mieliepap. Zandile het klaar brekfis gemaak. Stephanie stap by die slaapkamerdeur verby. Haar bed is ook al opgemaak en die liefdesverhaal wat sy vanoggend klaar gelees het, lê op die bedtafeltjie. Sy tree nader, tel die boekie op. Kyk na die kitsch voorbladontwerp, die geykte titel. Vir die eerste keer besef sy: Ek lees te veel soetsappige gemors. Soveel ure elke oggend wat sy op vrugtelose verbeeldingsvlugte vermors. Wat van daardie taal wat sy wou aanleer toe sy jonk was? Frans? Xhosa? Sal dit nie lekker wees om Zandile eendag te verras en haar in háár taal te groet nie?
Sy onthou ’n ander boek wat sy eenmaal gelees het, in haar studentejare toe sy wysbegeerte as vak geneem het en gewoond was om boeke met diepgang te lees. Daarin het dié frase voorgekom: Gebroke werklikheid. Ons lewe in ’n gebroke werklikheid. Alles is stukkend. En dan onthou sy ook iets wat ’n digter eenmaal gesê het: Ek het meteens onthou dat ek gelukkig is. En ek ís gelukkig, dink Stephanie. Ek het nog my gesondheid. Ek hoef nie van deur tot deur te bedel nie. Ek het my katte, my honde, en my huis … en Zandile. Sy loop met ’n skielik ligter tred deur die kombuis, by die gaasdeur uit, terug op die grasperk. Zandra staan nog daar.
Noudat die sonlig op haar gesig val, sien sy vir die eerste keer dat haar velkleur nie reg lyk nie. “Zandra,” sê sy, “ons gaan Boland toe. Vir ’n week. Ek en jy. Ons gaan die lente vier. Ons gaan langs die see wyn drink en maak of ons vir ewig gaan leef. Ek moes jou genooi het voor jy siek geword het. Ons is al só lank vriende. Ek nooi jou nou.” ’n Helder glimlag breek oor Zandra se gesig. Vir ’n oomblik lyk sy weer jonk. Vir die eerste keer in jare voel Stephanie ook jonk. “Dis ’n deal!” sê haar buurvrou en lag opgewonde.