Jaar ná jaar het haar pa se verjaardagnaweek meer van ’n marteling vir Tina geword. Want elke jaar het Alida haar bikini mooier volgemaak, meer tyd saam met die jong manne in die oord en minder tyd saam met haar vaal ouer suster deurgebring
Deur ZELDA BEZUIDENHOUT
Ek wens ek kan gaan slaap en eers weer Dinsdag wakker word. Tina Steyn tik dié bitter boodskappie op haar selfoon terwyl sy in die bloedige son vir haar ouers wag om hul draaie by ’n vulstasie langs die N3- snelweg te loop.
Komaan! Dit kan seker nie só erg wees nie? is haar vriendin Martie se blitsige teksantwoord. Martie sit waarskynlik in die salige gerief van haar lugversorgde woonkamer, dink Tina jaloers. Elke jaar sien Tina méér op teen hierdie langnaweek in Maart wanneer haar pa verjaar en die familie soos Israeliete teen hul eie Kanaän optrek – Mountain Streams vakansieoord in die Drakensberge. Vandat sy kan onthou, haak die Steyns vroegherfs vir ou Berta, hul stokou woonwa, vir drie dae se saamwees in die natuur. Toe sy ’n dogtertjie was, was dit ’n groot avontuur. Sy en haar kleinsus Alida kon nie wag om hul pa te help om die woonwa se tent op te slaan sodat hulle suiker vir die perde kon voer en die swemgat se water kon gaan toets nie. Daar was altyd hope maats en die dae was heeltemal te kort vir al die pret en kattekwaad op hul lysie. Wegkruipertjie, toktokkie, kaal swem op volmaanaande … drie kort dae was altyd te min.
Met die jare het dinge in die Steyn-huishouding egter verander. Op 14 het haar suster Alida sonder enige waarskuwing in ’n langbeenskoonheid met sexy kurwes en ’n bos goue hare ontluik. Tina was toe 15, ronder as ooit, met ’n dikglas-voorskrifbril in ’n ouderwetse raam wat eers aan haar ma behoort het. Sy sal nooit die eerste kampnaweek ná Alida se wonderbaarlike metamorfose vergeet nie. Die gesin se stasiewa het skaars op hul kampplek stilgehou met ou breëboud-Berta op sleep, of daar was drie opgeskote seuns wat haar pa wou help om die tent op te slaan. Al wat dit gekos het om die oorgretige mannetjies op te kommandeer, was vir Alida om lui-lui met daai onmoontlike lang bene uit die kar te klim en heupswaaiend in haar nuwe Edgars shorts die dagreis se leë koeldrankblikkies in die asdrom te gooi. Daarna was niks ooit weer dieselfde nie.
Jaar ná jaar het haar pa se verjaardagnaweek meer van ’n marteling vir Tina geword. Want elke jaar het Alida haar bikini mooier volgemaak, meer tyd saam met die jong manne in die oord en minder tyd saam met haar vaal ouer suster deurgebring. Tina self het natuurlik óók verander. In haar geval, het alles net dikker geword. Haar bril. Haar lyf. Selfs die boek wat sy vir leesstof ingepak het. Nou is die Steyn-susters onderskeidelik 29 en 30 jaar oud. Tina dra kontaklense en lees deesdae haar boeke op Kindle. Alida het haar eie perfekte gesinnetjie wat jaarliks die staanplek langs die tradisionele Steyn-staanplek huur. Tog voel Tina elke jaar hierdie tyd weer asof sy vet en 15 is.
As die ongetroude dogter haak Tina die afgelope paar jaar sommer vir ou Berta by haar ouers se huis, laai die ouer garde in haar eie motor en doen die bestuurwerk. Die pad berge toe is gevaarlik en haar pa se sig is nie meer wat dit was nie. Alida en haar gesinnetjie se spoggerige woonwa lyk soos iets uit Star Wars en pronk gewoonlik reeds in al sy opgeslaande glorie wanneer sy en haar ouers by Mountain Streams opdaag. Laas jaar het Alida reeds met ’n yskoue glas witwyn op haar kampstoel gesit toe die drie Steyns natgesweet en voos gery daar aankom. Haar twee kindertjies was aan ’t legkaarte bou by haar voete, pragtig skoon in hul duur klere. Hierdie terugflitse hou Tina besig terwyl sy probeer om nie van hitte-uitputting in die versengende son buite die vulstasie te vergaan nie.
“Appelkosies!” skree haar pa vrolik en waai ’n sakkie oranje lekkergoed triomfantelik in die lug wanneer hy by die vulstasie se winkel uitstap. Die Steyns het honderde klein gesinstradisies en outydse appelkooslekkers vir padkos is een daarvan. Toe Tina sien hoe kinderlik gelukkig haar pa oor die vooruitsig van ’n kampnaweek in sy geliefde berge is, voel sy skuldig oor haar negatiewe houding. Tina bêre haar selfoon en help haar ma om pakkies in die reeds oorvol motor te laai. Sy kan al die buitelyne van die Drakensberge sien en weet dat hulle binnekort by hul bestemming sal wees. Net 72 uur, dink sy. Dan is alles verby vir nog ’n jaar. Die 72 uur laat haar aan die fliek 127 Hours met James Franco dink: Die ware verhaal van ’n jong man wat alleen op ’n avontuur gaan en dan in ’n gevaarlike rotsskeur op ’n afgeleë plek vassit. Op die ou end moet hy sy eie arm met ’n knipmes amputeer om los te kom. Tina besef dat sy niks kan afsny om van hierdie drie dae te ontsnap nie, en gril ’n bietjie vir haar eie grusame gedagtes.
Wanneer die Steyns by Mountain Streams aankom, is Alida-hulle se ruimteskip reeds geparkeer, maar nog nie opgeslaan nie. Terwyl haar ouers vir ou Berta afhaak en staanmaak, stap Tina deur die oord om haar suster en haar gesin te soek. Sy kry vir Alida by die oord se klein supermark, met twee vuil, temerige kleuters wat aan haar bene hang. “Hou nou op kerm!” gil Alida vir Klein- Theuns en sit vieserig ’n paar pakkies tjips in haar mandjie. Sy is nog salig onbewus van Tina se teenwoordigheid aan die eindpunt van die kort gangetjie, en Tina maak van die geleentheid gebruik om haar kleinsus vir ’n paar oomblikke in te neem. Alida lyk moeg en vaal. Beduiweld. Haar jeans maak bokknieë en hang lusteloos om haar klein agterstewe. Hier tussen die oordwinkel se gemorskos en peperduur geriefsartikels, lyk sy eintlik soos enige ander oorwerkte huisvrou, dink Tina verbaas. “Hi, Lieds!” groet Tina vrolik en val Alida om die hals. Haar jonger suster se lyf voel broos en benerig in die omhelsing.
“Sussa!” sê Alida en gooi haar fyn arms om haar ouer suster. Wanneer Tina haar omhelsing verslap, hou Alida haar nog ’n rukkie styf vas. Dan eers laat los sy en staan terug. Tina kyk ’n bietjie verbaas na haar kleinsus. “Is jy oukei, Liedjies?” Hierdie vier woorde het ’n eienaardige uitwerking op Alida Steyn-Smit. Sy begin so hartverskeurend huil dat haar verslonste kindertjies begin saamhuil. Martie sal hierdie scene nooit glo nie, dink Tina terwyl sy in haar jeans se sakke vir snesies vroetel. Wanneer sy een kry, bied sy dit aan en Alida blaas haar neus met oorgawe in die pieperige flentertjie papier. ’n Vriendelike man wat besig was om braaispeserye te koop, staan nader en vra: “Kan ek help met iets?” “Kan jy wonderwerke verrig, Meneer?” vra Alida super-sarkasties met maskara wat interessante paadjies oor haar wange begin maak. “Kan jy die horlosie terugdraai na ’n jaar gelede, toe ek nog gelukkig was? Kán jy?” Die arme man staan net daar met ’n botteltjie Robertson’s Steak & Chopsspeserye in sy hand, te oorbluf om enigiets te sê. “Dankie, Meneer, ons sal regkom,” sê Tina verskonend. En dan, “Kom, Sussa, Pa-hulle wag.”
Sy sit haar arm om haar jonger suster. Met die ander arm maak sy vir Klein-Theuns en Bella bymekaar en lei die hele spul soos ’n herdershond uit die winkel. Daardie aand slaan hulle nie eens die ruimteskip op nie. Alida en haar kinders slaap almal knus in die ou sewentigswoonwa met sy aaklige avokadogroen kaste. Hulle braai wors, speel Monopoly en eet die hele naweek se voorraad kondensmelk net so uit die blikkies. Wanneer klein Bella vaak-vaak uit haar slaapsak vra: “Tandjies borsel, Mamma?” sê Alida “Ons kan môre weer tande borsel, Bokkie.” Diepnag, toe dit stil word in die woonwa en die volmaan hoog sit, kuier die twee Steyn-susters om die kampvuur. “Wat gaan aan, Lida?” vra Tina. “Theuns het my gelos,” sê Alida emosieloos, asof sy oor die weer praat. Tina kyk vir haar jonger suster in die dof-oranje lig van die kwynende kampvuur. Sy lyk so verwese en klein op die groot seilstoel. “En jy sê niks?” “Ek wou nie hê julle moet weet nie. Ek wou die naweek alleen met die kinders kom en net sê hy moes dringend oorsee gaan, maar ek is nie sterk genoeg om die front voor te hou nie. Ek weet nie wat het my besiel nie.” Met dié, sit Alida haar kop in haar hande en begin snik.
“Dis oukei om nie sterk genoeg te wees nie, Lieds. Nie een van ons is die hele tyd sterk nie. Ons is anyway lief vir jou. Al was jy vandag ’n bietjie scary.” Alida se snikke begin anders klink. Dan besef Tina dis nie meer snikke nie, maar giggels. “Ek wás scary in daai winkel, nè?” sê sy terwyl die lag in haar begin opborrel. “Die arme drommel wat jou wou help …” “Bwahahahaha!” lag Alida nou ’n bietjie histeries, met Tina wat haar geamuseerd aankyk. “You’ve come a long way, Baby,” sê Tina. “Vroeër jare het jy die manne na ons toe gelok. Nou skrik jy hulle af!” Die twee susters lag nou so hard dat iemand in ’n nabye tent hulle kwaai “Sjjjjtt!” Ná die stilte wat volg, bieg Tina: “Ek wou altyd soos jy wees. Jy het magiese magte oor die outjies gehad.” “En ek wou altyd soos jy wees, wat nie outjies nodig gehad het om iemand te wees nie,” sê Alida. “Jy het ook nie ’n outjie nodig om iemand te wees nie, Sus,” sê Tina sag. Vir ’n hele paar minute sit die twee susters tjoepstil onder die volmaan. Dan sê Alida: “Kom ons gaan swem kaal in die swemgat! Toe, ek dare jou!”