‘Wat kan ons vir jou doen, meisiekind?’ Die oom kom nader. Hy het ’n wit broek en ’n wit hemp aan. Met wit sandale. Een van sy groottone is in ’n verband toegedraai. Toe hy glimlag, sien sy ’n stukkie goud in ’n voortand
Deur BELINDA NEL
Sy het amper slae gekry oor haar rok. “Hoekom jy moerbeie gaan pluk het met jou beste kerkrok aan sal net die wind weet, Jessica. Hoe dink jy moet ek dit uitgewas kry?” Haar ma se wange was dieselfde rooipienk as die vlekke op die rok.Jessica het dit gaan uittrek, dit op die wasbak neergesit en weggehardloop. Tuin toe. Haar ma sal haar nie sommer daar kom haal nie. Die droogte het die tuin verniel en haar ma se dit kelder haar gemoed om dit so te sien. Dis Susan se skuld. Dis sy wat eerste sywurms in ’n skoenboks by die skool aangebring het. Susan het vir haar vyf sywurms gegee, in ruil vir ’n nuwe pienk uitveёr wat soos aarbeie ruik. Jessica het die wurms in ’n ou koekblik met gate in die deksel gesit. Susan was suinig met haar moerbeiblare. Sy het net die verleptes uitgedeel en dan die skoenboks toegemaak en onder haar skoolbank ingeskuif. Sy was so bly toe sy hoor van die moerbeiboom. Net drie huise van hulle af. Sy het nooit geweet die groot boom is so waardevol nie.
“Jy vra vir oom en tannie Jackson voor jy van die blare pluk, Jessica. Al staan die boom buite hulle hek. Pluk sonder vra is steel.” Jessica was nie lus om eers te vra nie. Maar die wurms moes kos kry. Die tuinpaadjie wat na die oom en tannie se voordeur loop, is vol moerbeiblertse. So ook die dak van die wit minibus. Sy sien nou eers hoe donker die vensters daarvan is. Die voordeur is oop, met net die traliehek wat gesluit is. Op die leiklipvloer weerkaats die namiddagson. Jessica is skielik bang om die klokkie te druk. Niks gebeur toe sy dit wel doen nie. Sy sal moet klop. Sy haat klop. Na die tweede harde klop wou sy omdraai. Maar toe hoor sy stukkies metaal wat ritmies teen mekaar stamp. Eers verskyn twee voete met gesondheidskoene aan. Toe die verbleikte ligblou voorskoot. En daarna die boskaas sleutels wat om ’n dun, blouwit nekkie hang. Sy sal die volgende dag vir die biologiejuffrou vra of iets swaars om ’n mens se nek dit langer kan laat uitrek. Hulle is juis besig met die hoofstuk oor evolusie. Die tannie se mond is halfoop. Sy hou haar een hand voor haar oё en sukkel om te fokus. Die son is reg agter Jessica.
“Frans! Frans!” roep sy opgewonde in ’n dun stemmetjie. Skielik fokus die tannie op iets wat agter Jessica is. “Middag, meisiekind.” Sy kyk om, want haar nek is al wat sy kan beweeg. Wanneer het die oom agter haar kom staan? Sy lang skaduwee val oor haar. Dis skielik koud in die koelte. “Wat kan ons vir jou doen, meisiekind?” Die oom kom nader. Hy het ’n wit broek en ’n wit hemp aan. Met wit sandale. Een van sy groottone is in ’n verband toegedraai. Toe hy glimlag, sien sy ’n stukkie goud in ’n voortand. “Ek soek moerbeiblare, Oom. Asseblief. Vir my sywurms.” Die oom draai om en kyk die boom op en af. Asof hy kyk of daar genoeg blare is om van te gee. “Maar natuurlik.” Sy kyk om te sien of daar nog goud in sy tande is toe hy weer vir haar glimlag, maar daar is nie. “Kom ons gaan kry vir jou ’n sak, dan help ek jou pluk. Jy kan ook van die ryp moerbeie kry. Miskien kan jou ma daarvan konfyt kook.” Sy dink nie so nie. Haar ma kook nie konfyt nie. Veral nie na die kerkrok gevlek gebly het en haar ma dit in repe geskeur het nie. Dis nou saam met die ander vloerlappe opgefrommel in die besemkas. Jessica draai na die voordeur. Die tannie is weg.
“Ons sal ongelukkig deur die motorhuis moet ingaan. Ons het net vanoggend die leiklipvloer behandel en dit moet nog droog word.” Sy kan nie glo die motorhuisdeure gaan so maklik en saggies oop nie. Hulle s’n haak vas en klink soos ’n blik wat oopgesny word. Haar pa sê dis omdat sy en haar suster soos vinke daaraan hang. Haar pa sê ook dat jy met een kyk na ’n man se garage kan sien watter tipe mens hy is. Die oom en tannie is seker baie arm, want daar is net ’n vrieskas in die een hoek, en ’n graaf in die ander. Teen die een muur hang ’n wolmus. Dis van swart en grys wol. Sy sal die tannie vra om vir haar ook so een te brei, maar met helder kleure. En kleiner, want dié een teen die muur lyk baie groot. Langs die mus hang ’n lang ketting aan ’n spyker teen die muur. Soos die een wat haar broer gebruik om met Neelsie te gaan stap. Maar sy dink nie die oom en tannie het honde nie. Die motorhuisdeure gaan weer saggies toe. ’n Deur aan haar linkerkant gaan oop.
“Ons stap sommer hierdeur.” Die oom se vingers druk haar op haar skouer deur se kant toe. Die tannie staan by die deur en sluit dit weer agter hulle met een van die sleutels wat in die bos om haar nek hang. Hulle loop met ’n kort gangetjie af. Dit loop uit in ’n klein sitkamertjie. Daar is net twee rottangstoele en ’n koffietafel. Geen televisie nie. In die hoek staan ’n vertoonkas, net soos die een in haar ouma se woonstel by die aftree-oord. Jessica loop nader en kyk deur die glaspanele. Sy sien ’n vuurhoutjie so lank soos ’n liniaal met ’n pienk punt. Daar is silwer eierkelkies en messe en vurke met ivoorhewwe. Bo-op die kas is twee lappoppe. Hulle het laphoedjies op en weerskante van die gesiggies hang kort vlegsels. Jessica streel oor die een vlegsel. “Dis regte menshare,” sê die tannie reg agter haar. Jessica ruk haar hand weg en vee dit aan haar broek af.
“Kom ons stap kombuis toe.” Die oom loop hinkepink met die verband om sy toon. Dis warm in die kombuis. Dit ruik na iets wat aangebrand het. In die middel staan ’n tafeltjie met twee stoele. “Sit solank. Ek sal nou-nou vir jou ’n lekker groot plastieksak kry.” Selfs die stoel voel warm onder haar. “Ma, hoe lyk dit met koekies en koeldrank?” vra die oom toe hy oorkant haar by die tafel gaan sit. Hy glimlag vir Jessica. Nog steeds net een stukkie goud. Die tannie haal ’n koekblik uit die kas en neem dit na die wasbak. Sy haal ’n wit koevertjie uit haar voorskootsak en sprinkel die inhoud oor die koekies. Jessica probeer kyk watter nuwe soort versiersuiker dit is wat in sulke klein pakkies kom. Sy moet haar ma vra om daarvoor te soek in die winkel. Al die koekies is aangebrand, sien sy toe die tannie die blik na haar uithou. Sy kies toe maar die kleinste een en probeer om nie te hard te kou nie. Die tannie skink aanmaakkoeldrank uit ’n plastiekbottel in vier glase. “Kom ons gaan sit op die agterstoep; dis koeler daar,” sê die oom. Die tannie pak als op ’n skinkbord en dra dit voor hulle uit. Al met die lang gang af. In die middel van die gang gaan sy staan voor ’n kamerdeur wat ook ’n traliehek het. Die deur is op ’n skrefie oop. Iets in die kamer beweeg. Die tannie sit die skinkbord op die gangtafetjie neer en soek die traliehek se sleutel. Die oom staan agter Jessica. Albei sy hande op haar skouers.
Daar is weer ’n geluid in die kamer. Soos iets wat teen die muur stamp. Die traliehek swaai oop en die oom druk Jessica vorentoe. Sy wil terugdruk, maar haar bene is lam. Soos wanneer sy ver agter die roomyskarretjie aangehardloop het. “Kom nou, meisiekind!” Sy gaan sit op haar hurke en die oom probeer haar regop trek. Sy hoor ’n stem agter hulle. Dit klink ver. “Jessica!” Sy kyk om. Aan die onderpunt van die gang staan haar ma by die voordeur. Die laatmiddagson skyn van agter haar en verlig die donker gang. Jessica wil hardloop, maar die oom rem haar aan haar skouers terug. Sy verloor haar balans en trap met die brug van haar voet op sy verbinde toon. Sy wil haar ma roep, maar haar tong is swaar en dik, soos wanneer sy goedkoop koeljawelsap gedrink het. Sy loop so vinnig as wat sy met jelliebene kan na die lig toe. “Kom, bobbejaan tientoon, dis tyd vir huiswerk doen.” Jessica gryp haar ma se hand en trek haar weg van die huis af, tuinpaadjie se kant toe. “Waar is jou maniere? Groet jy nie?” vra haar ma toe die tannie die voordeurhek sluit. Die volgende oggend het sy die sywurms vir Susan teruggegee. En daardie middag met die verbystap huis toe, sien sy die moerbeiboom is afgekap. En oom en tannie Jackson se huis staan leeg.