Sy gaan kuier net vir haar seun-hulle as sy dit kan bekostig. Dis omtrent elke tweede jaar
Deur THELMA HARMSE
“Ek kan nie op my ouderdom ontwortel word nie.” Jacomien kyk terug na die beeld van haar seun op haar rekenaarskerm. Sy het hom ge-Skype omdat dit haar kleinseun se verjaardag is.
Gerrit frons. Hy wil hê sy moet by hulle in Sydney in Australië kom bly. “Ma het nou self gesien. Liam is vandag twee jaar oud en weet nie wie die vrou is wat nou net vir hom ‘Veels geluk, liewe maatjie’ gesing het nie.”
Jacomien sug. As Gerrit maar weet. Sy sal môre in Australië gaan woon as sy dit kon bekostig. Sy het haar sommetjies noukeurig gemaak. As sy nou haar werk as maatskaplike werker bedank en haar huis verkoop, sal sy nog nie genoeg hê om haar sonder geldsorge daar te vestig nie. Al die jare was sy onafhanklik, al moes sy as enkelouer soms raap en skraap om kop bo water te hou. Al hoe sy die skuif sal maak, is as sy haar eie blyplekkie naby hulle kan aanskaf. Dan sal sy hulle elke dag kan sien sonder om ’n oorlas te wees.
“Aan die einde van volgende jaar kom ek sommer ’n hele maand vir julle kuier,” probeer sy hom tevrede stel. Sy gaan kuier net vir haar seun-hulle as sy dit kan bekostig. Dis omtrent elke tweede jaar. As sy gelukkig is. Haar kleinseun was net ’n paar maande oud toe sy laas daar was en nog te klein om haar te onthou.
Jacomien staan moeisaam op. Gerrit wil nie rede verstaan nie en sy voel elke keer skuldig as sy met hulle gepraat het. Sy werk haar dood, maar die lêers vol sake hoop net op. Te veel armoede, kinderverwaarlosing en dwelmmisbruik. Sy verdien nie ’n groot salaris nie en sukkel om ’n spaargeldjie weg te sit. Maar ’n mens word nie ’n maatskaplike werker vir die salaris nie, het haar oorlede ma gesê. Sy was ’n toegewyde lid van die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging se bestuurspan. En toe ook later jare die voorsitter. Dit het Jacomien geïnspireer om ’n maatskaplike werker te word om só die gemeenskap te help. Haar ma sal in haar graf omdraai as sy moet weet hoe haar passie vir haar werk party dae taan. Sy voel ál hoe meer dis ’n verlore stryd. Sy moet sommer net bedank en by Gerrit-hulle gaan woon. Haar seun en kleinkind is al wat sy het en dis al wat tel.
Dis nog deinserig op die horison waar die son huiwer om uit te kom toe sy die volgende oggend voor die ACVV se kantore stop.
LEES OOK: Kortverhaal: Dit gebeur op kersdag
Terwyl sy die deur oopsluit, vang die verwysingsbordjie wat die Jacoba Bothma-saal aanwys haar oog. Dit is ter nagedagtenis aan haar ma agter die kantore aangebou. Sy het met haar dood ’n bedrag geld aan die ACVV geskenk wat vir die oprigting van die saal gebruik is. Jacomien se hart het gebars van trots toe sy die dag met die inhuldiging die lint moes knip. Jacoba was in haar laaste jare ’n skaduwee van die sterk, trotse vrou wat sy eens was. Sy wou nog so graag iets vir iemand beteken het, maar kon nie meer nie.
“Môre, Mevrou. Lekker naweek gehad?”
Jacomien skrik toe Kate skielik by haar kantoor inloer en groet. Sy was so ingedagte dat sy haar nie eens hoor inkom het nie. Voordat sy kans kry om te antwoord, het Kate weer verdwyn. Die volgende oomblik begin die ketel in die kombuis kook. Die kinders van vandag, dink sy. Hulle is almal op hul eie planeet. Tog so vervaard in alles wat hulle doen.
Kate is ’n maatskaplike student. Haar werk is om Jacomien se dagboek op datum te hou en te help met ’n magdom maatskaplike reëlings waarby sy nie kan uitkom nie. “Mevrou nog nie gedink aan ’n datum vir die jaarlikse Kerspartyjie vir die kinders nie?” Kate sit ’n stomende koppie koffie voor haar en val in een van die stoele neer.
“Moet jy altyd so neerval?” Jacomien kan onmiddellik haar tong afbyt. Dis nie die meisiekind se skuld dat sy met ’n skok besef het dis amper weer sulke tyd nie. Elke jaar is dit ’n groot kopseer om befondsing vir die kinders se Kersgeskenke te kry. Haar ma het destyds ’n instelling daarvan gemaak om ’n Kerspartytjie vir die dorp se minderbevoorregte kinders se reël.
Kate maak ’n verskonende handgebaar. “Ek is jammer, ek het nie bedoel om ongeskik te wees nie. Dis net …”
“Mevrou is maar net oorwerk en mis jou kinders. Ek weet, want dié tyd van die jaar raak die meeste mense so. Kyk nou maar na my ma, sy …”
“Daar is geen verskoning nie,” val Jacomien haar in die rede. Kate is ’n dierbare kind, maar as sy eers aan die praat raak … “Ek sê jou wat, Kate. Dis hoog tyd dat ek jou ’n projek gee. Besluit jy oor die datum en dink aan ’n idee oor hoe ons geld vir die geskenkies kan insamel.
In die maande wat volg, is Kate druk besig. Sy is vreeslik geheimsinnig en fluister selfs partykeer oor die telefoon as sy nie wil hê Jacomien moet haar hoor nie.
Jacomien is self so besig dat sy die babbelbekkie laat begaan. Die enigste leidraad wat haar beskore is, is die datum. In haar dagboek is dit met ’n helderpienk omkring en “Partytjie!” is dwarsoor die blad geskryf.
“Kate, hoe vorder jou reëlings met die Kerspartytjie?” Jacomien begin bekommerd raak.
Kate het nog niks laat glip nie en sy sien ook nie dat daar enige donasies gemaak is nie. In die verlede was die pakkies al weke voor die tyd toegedraai en die verversings aangekoop.
Kate is dadelik op haar perdjie. “Mevrou het nie nodig om agter my te staan nie. Dis my projek en ek het alles onder beheer.”
Jacomien voel soos ’n skooldogter wat deur haar onderwyser berispe word, “Ek vra maar net, Kate. Miskien was daar iets waarmee ek nog kon help.”
Die dag van die partytjie breek aan. Jacomien hoor opgewonde kinderstemmetjies toe sy uit haar motor klim. Sy vee haar grysblonde hare agter haar ore in. Dis ’n warm somersdag. ’n Kleurryke plakkaat is aan die aanwysingsbordjie na die saal gehang. Die woord “Partytjie” pryk in groot silwer letters daarop. Jacomien stap versigtig met die gruispaadjie af na die saal.
Kate staan soos ’n engel aangetrek voor in die saal. Sy is luidkeels besig om die kinders aan te moedig om saam met haar Kersliedjies te sing.
LEES OOK: Kortverhaal: Blou kersfees
Jacomien kry amper lag toe sy skaars vir Lukas, die opsigter, herken. Hy het ’n Kersvaderpak aan en sit eenkant tussen ’n magdom oorgetrekte skoendose. Die sweet tap hom af, maar dit lyk nie of die hitte hom pla nie, want hy sing uit volle bors saam. Skielik maak die prentjie voor haar haar intens emosioneel. Sy veg om die trane te keer wat in haar oë begin brand.
Kate herinner haar aan haarself jare gelede toe haar ma nog gelewe het. Dis met dieselfde passie wat sy haar loopbaankeuse gemaak het.
Kate wuif opgewonde toe sy haar agter in die saal opmerk. Sy wink dat sy vorentoe moet kom, maar Jacomien wys dat sy met haar verrigtinge moet voortgaan. Dis jou dag, Kate, dink sy, jy het my vandag weer geïnspireer en laat onthou waarom ek die beroep gekies het.
“Waar kry jy toe al die skoendose?” vra sy Kate wat langs haar kom sit het terwyl Lukas die skoendoosgeskenke uitdeel. “Ek het in ’n tydskrif daaroor gelees en besluit dis die ideale projek om ook vir ons kinders geskenke bymekaar te maak. Die kinders in die plaaslike hoërskool het elkeen ’n kind aangeneem en moes vir hom of haar ’n skoendoos pak. Ek moes omtrent keer dat hulle dit nie oordoen nie.”
“En die eetgoed?”
Kate kyk na Jacomien asof sy die domste vraag ooit gevra het. “Ook die skoolkinders, natuurlik,” antwoord sy dan neus in die lug. “Hulle het self besluit om hul ouers te nader vir donasies of om self iets te bak. Mense onderskat vandag se kinders. Hul harte sit nog op die regte plek.”
“Mevrou Jacomien!”
Jacomien kyk verward na Lukas. Hy lag breëmond toe hy die verbasing op haar gesig sien. “Hier is vir Jacomien ook ’n skoendoos.” Hy skud dit ongeduldig toe sy aarsel om op te staan. “Toe, maak gou, ek is besig om dood te gaan in hierdie Krismispak!”
“Wat se lawwigheid is dit die?” raas sy met Kate toe sy daarmee terugkom en weer langs haar gaan sit. “Dis nie die personeel se partytjie nie.”
“Gmf, moenie met my raas nie. Ek het net die skoendoos gegee.”
Jacomien haal die deksel onseremonieel af.
Dit is leeg, behalwe vir ’n koevert wat op die bodem lê. Sy skeur dit versigtig oop en snak na haar asem toe sy Gerrit se gekrulde handskrif herken.
Die boodskappie is kort en kragtig: