Toe dit op die mat langs die klere staan, is die ou huiwering terug. Ek wil niks sien wat my aan ons gelukkige dae saam kan herinner nie
Deur MORYN HANZEN
“Frans?”
“Nee, Mevrou, Franz Padmaker. Met ’n z.” “Jy’s nie dalk van die Padmakers wat draadwerkers in die Kalahari is nie?”
Franz rol sy oë verontwaardig en antwoord ietwat ongeduldig oor my stadige begrip:
“Nee, Mevrou, ek was nog al die jare meer van ’n akademikus.” Die “s” lê ’n paar tellings langer as wat nodig is op sy tong.
“Nou, Franz, hoekom sit jy dan nie in die parlement nie?”
“Ai, Mevrou … Die lewe het vir ou Franz ’n slegte streep getrek. Ek het mos getrou …” Kopskuddend stap Franz met die graaf oor sy skouer om te gaan kyk hoe ver die water in die groentebedding gevorder het.
Die gesprek met Franz spook die hele dag by my. Moedeloosheid het my gedwing om die advertensie onder “Vakante betrekkings” in die plaaslike koerant te plaas. Die tuin is in ’n verwaarloosde toestand. Die eens pragtig versorgde akkers is met vuilgoed oortrek.
Tydens middagete sien ek deur my huiskantoor se venster hoe Franz op die bankie tussen die twee silwereikebome stelling inneem. Hy buk af en soek na iets in sy rugsak. Eers word die kospakkie versigtig langs hom neergesit. Dan volg ’n hele ritueel. Die papier waarin die roosterkoek verpak is, word baie versigtig afgehaal, die broodjie weer langs hom neergesit en dan volg ’n tydsame proses waartydens elke plooitjie en voutjie van die papier op sy bene uitgestryk word. Noudat dit oop is, sien ek die rooi embleem van ons plaaslike koerant daarop toe die windjie die bopunt daarvan effens oplig.
Terwyl die kitssop voor my op die lessenaar koud word, sien ek hoe Franz in ’n berig verdiep raak. Die broodjie langs hom is skoon vergete. Ná ’n aantal minute word die blad omgedraai en die ander kant skynbaar van bo tot onder gelees.
’n Groot advertensie van ons dorp se duurste mansklerewinkel beslaan die kant wat hy klaar gelees het. Skielik weet ek wat om met Rian se klere te doen!
Haastig stap ek na die hoofslaapkamer. Wanneer ek die deur oopstoot, begroet bekende reuke van ’n leeftyd saam met Rian my. My eerste reaksie is om die deur weer toe te trek, maar die beeld van Franz met ’n verslete broek dwing my om die deur wyer oop te stoot en na Rian se kas te stap.
Ek gooi al die klere by my voete op die duur mat neer wat Rian laas jaar laat lê het. Toe die rakke leeg is, strek ek my uit om die kartondoos bo uit die kas te haal. Ek onthou dat Rian altyd al wat ’n snuistery en papiertjie is, daarin gegooi het. Dis heelwat swaarder as wat ek verwag het.
Toe dit op die mat langs die klere staan, is die ou huiwering terug. Ek wil niks sien wat my aan ons gelukkige dae saam kan herinner nie. Versigtig trek ek een flap weg asof ’n kobra daarin nesgemaak het.
My oog vang ’n kuikentjiegeel iets bo in die kartondoos. Nuuskierig rem ek aan die flappe totdat dit heeltemal oop is. Natuurlik! Die geel trui wat ek aangehad het toe Rian die eerste keer moed bymekaargeskraap het om my uit te vra.
Skielik spring ’n ander herinnering na vore. Daardie noodlottige aand het die trui op die bed gelê. Met ’n verbaasde optrek van die skouers, het ek dit bo in die kartonhouer gedruk toe my selfoon skril begin lui het …
Terwyl ek die trui optel, steek iets my aan die duim. Ek ruk my hand vies weg, maar loer tog wat dit kan wees. Aan die onderkant van die opgevoude trui is ’n koevert vasgespeld. Geen naam daarop of aanduiding hoekom dit daar is nie.
LEES OOK: Kortverhaal: ’n Veilige herberg
Ek sit die trui terug soos ek dit gekry het. Los die kartonhouer net daar op die mat. Hande in die sye wonder ek waarin ek die hopie klere kan pak. ’n Ou sportsak onder in die hangkas trek my aandag. Onderin lê Rian se drafskoene, maar ek prop die een broek en hemp na die ander daarin voordat ek weer van plan kan verander.
Die sportsak staan in die hoek van my kantoor en grynslag. Hoekom! Vir my is “hoekom” al maande lank nie meer ’n vraag nie. Die raaiselagtige ongeluk van my beste vriendin en my man is slegs ’n hardnekkige feit met ’n uitroepteken agterna. Rian is vir ewig weg. Lize is net ’n dop in ’n hospitaalbed.
Franz kom roep my vyfuur om te gaan kyk wat hy op sy eerste werksdag verrig het. Huiwerig loer ek na die sportsak, besluit dan dat Franz die klere nodig het.
Franz glimlag dankbaar wanneer ek die sportsak oorhandig. Vir my lyk dit alte veel asof hy meer in die sak self belangstel, as om uit te vind wat binne-in is. Dus gee ek maar ’n bondige rede hoekom hy dit kry. “My man is oorlede. Hy was baie lief vir tuinmaak. Dit lê net hier, so ek hoop jy kan dit gebruik, Franz.” Ek konsentreer om sy naam duidelik te artikuleer.
’n Opgewekte Franz loop net ná vyf fluit-fluit in die straat af met sy rugsak oor die linkerskouer en die sportsak in sy regterhand. Ek wil-wil die deuntjie herken, maar draai dan om en stap na die groot, stil huis terug.
Die volgende oggend herken ek amper nie vir Franz nie. Het ook half vergeet dat hy weer moet kom werk.
“Môre, meneer Padmaker.”
’n Glimlag so trots en opreg soos die wye duineveld gaan lê op Franz se gerimpelde gesig. “Goeiemôre, Mevrou.”
Ek bied vir hom ’n beker koffie aan. Met die wegstap wonder ek hoe die broek pas as die trui dan tot net-net bokant sy knieë hang.
“Franz?” roep ek huiwerig.
“Mevrou?” In afwagting staan hy daar in die tuinpaadjie. Hoe ek ooit gedink het die klere vir hom moet pas, weet ek sowaar nie! “Hoe sit die broek?” Die vraag klink half uit plek, maar die nuuskierigheid het my behoorlik gaande. Trots lig hy die trui so hoog as moontlik op.
“Nee Mevrou, hy sit ’n bietjie nou om die blaaie, maar dis so ’n lekka broek die.” Verstom staar ek na die broek wat tot onder sy armholtes opgetrek is en met ’n gordel daar in plek gehou word.
My oë sak in stadige aksie na sy voete. Net een van twee dinge is moontlik: hy sal hom disnis val met Rian se nommer tiens, of g’n mens sal hom kan omstamp nie.
LEES OOK: Kortverhaal: Marlena se Kersfees
“Franz, watter nommer skoen dra jy?”
“Mevrou, eintlik ’n ses, maar enigiets tussen ’n vyf en ’n tien is ook reg.” ’n Glimlag helder sy oë op, sodat ek nie kan help om saam te glimlag nie. Dit voel sowaar goed.
Die oggend lyk heelwat draagliker terwyl ek terugstap huis toe. In die gang onthou ek van die liggeel trui en die koevert. Moes ek nou daaraan dink? Noudat my hart vir die eerste keer in maande vir ’n paar oomblikke ophou pyn het?
My voete vind self die pad hoofslaapkamer toe. My hart en verstand gaan onwillig agterna. Toe ek myself weer kom kry, sit ek met die koevert op die bed. Ek skeur dit redelik hardhandig oop. My verstand weier minute lank om dit wat in die paar reëltjies van Rian se netjiese handskrif geskryf is, te verstaan.
My liefding
Jy praat nou al weke lank van hoe baie jy Lize mis. Aangesien dit oormôre jou verjaardag is, gaan ek haar haal om by jou te kom kuier. Ek wou dit as ’n verrassing vir jou hou, maar ek weet hoe bekommerd jy kan raak as ek laat is.
Jy is en bly die beste geskenk wat die lewe my ooit kon gee, my kuikentjiegeel liefding.
Joune
Rian
Ek druk die brief teen my bors vas, hardloop kombuis toe en raap my motorsleutels en handsak op. By die motorhek wuif ek uitgelate vir Franz en roep dat ek hom later sal sien. Eers by die ingang van die kliniek wonder ek hoe ek daar gekom het.
My voete vind die pad wat ek nou al maande lank elke Sondagmiddag stap. Maar dié keer is dit anders. In Lize se privaat kamer is dit grafstil. Ek raak koud by die gedagte dat sy ook … Maar dan gaan haar oë oop en ’n effense glimlag sprei om haar mond.
Ek groet nie, gaan sit net opgewonde in die stoel langs haar bed en trek Rian se briefie uit die koevert. Terwyl ek dit vir haar lees, loop die trane van selfverwyt en spyt in strome oor my wange.
Ek weet nie hoe lank ek al so sit nie, maar toe ek opkyk, sit Lize vir die eerste keer self regop. “Ek is so bly, Karli. Ek is so bly …”
Op pad huis toe koop ek ’n koek by die tuisnywerheid. Dié plak ek op die tuintafeltjie neer en haas my na die kombuis. Minute later is ek met koffie en kleinbordjies terug.
“Kom, Franz Padmaker, laat ons feesvier.”
“Net so, Mevrou. Ek’t klaar my feeskleed aan.”