Haar plaaswerker het vertel dat tannie Mossie graag haar dagtake met die gehoorbuis teen haar oor verrig. Sodra jy die foon optel, was daar dikwels ’n ander klikgeluid en so ’n ent in die gesprek in, volg die eerste snuif
Deur CARINA STANDER
Die plaasgemeenskap van my kinderjare was so diep in die boendoe dat ons van die laastes in die Bosveld was wat telefoondrade gekry het. Nuus uit die “voorwêreld”, soos ons die stad genoem het, het ons deur die Sondagkoerant, die radio en die slingerfoon bereik.’n Plaaslyn-sentrale werk mos so dat die hele kontrei kan hoor wie gebel word. Elkeen had sy eie luitoon – soveel kortes, soveel langes. Jy moes mooi luister om te weet of die oproep vir jou bedoel is.
Boeremanierlikheid het vereis dat jy die foon flink moes optel, sodat niemand na ’n lang gelui hoef te luister nie; jy moes nie op die lyn boer nie, sodat ander ook ’n praatkans kry; en as jy perdalks ’n ander luitoon met joune verwar, moes jy die foon ewe flink neersit. Aan sulke etiket het tannie Mossie van die buurplaas haar min gesteur. Vandat haar man ’n halfeeu tevore tydens hul huweliksnag aan sy hart beswyk het, het sy dit nooit weer gewaag om te trou nie. Die res van haar lewe was die ene toeknooptruitjies en hangskouertjies. Haar enigste lewensvreugdes was haar snuifblik en die slingerfoon – en albei was ook haar ondergang. Haar plaaswerker het vertel dat tannie Mossie graag haar dagtake met die gehoorbuis teen haar oor verrig het.
Sodra jy die foon optel, was daar dikwels ’n ander klikgeluid en so ’n ent in die gesprek in, volg die eerste snuif. “Ek hoor ou Snuifie is vandag weer op die foon!” sê tant Grieta, ons ander buurvrou, vir Ma. Tjirp tannie Mossie in: “My naam is nie Snuifie nie. My naam is Mossie.” Dan lag Ma en tant Grieta dat die trane rol. Tant Grieta was ook ’n weduwee, maar van ’n heel ander stoffasie as tannie Mossie. Grieta was ’n seningrige vasvatterbeesboer wat vroualleen ’n Brahmaanstoet op die been gebring het. Sy was altyd geklee in ’n kakiebroek en -hemp wat sy by die mansafdeling van die NTK moes koop, want kakie vir vroue was daar nie. ’n Bruuske entjie mens was sy.
Maar omdat tannie Mossie nie kind of kraai gehad het aan wie sy stories kon uitblaker nie, het selfs die kwaai tant Grieta haar inluistery verdra. Veral nadat ons agtergekom het as die foon aan die ander kant eers “kliek”, gebeur daar wonderbaarlike dinge … So sal jy sê: “Dis darem lekker pannekoekweer! As daar tog net nie miere in die meel was nie …” En teen die tyd dat jy die foon neersit, wag daar ’n sakkie meel by jou voordeur! Of: “Die arme kind swoeg ook maar deur die Engels op skool …” En as jy weer sien, woeps! ’n Engelse woordeboek in jou posbus! Nooit het ons gevra hoe tannie Mossie iets van woordeboeke af weet nie. Ons het haar gawes net in stille gelatenheid aanvaar, dankbaar vir ’n weduwee wie se linkerhand nie weet wat haar regterhand doen nie.
Een oggend kom tannie Mossie se plaaswerker aangehardloop. Hy het haar in haar huis aangetref. Morsdood. “Daar’s dinge waaroor mens nie oor ’n foon kan praat nie,” het Ma geprewel, my aangesê om in die Isuzu te klim en in ’n stofstreep na die buurplaas gejaag. “Grieta,” het Ma by die voordeur gehyg, “daar’t ’n vreeslike ding gebeur, jy moet saam met my kom kyk. Mossie is dood.” “Dood? Hoe bedoel jy dood?” wou tant Grieta ongelowig weet. “Ek bedoel: dood! Mossie is so dood soos ’n mossie.” Vir ’n oomblik het Ma skuldig haar onderlip gebyt omdat sy die kans vir ’n woordspeling nie kon oorsien nie. Tant Grieta het vir Dokter gebel om saam te gaan en sowaar, daar lê tannie Mossie op die vloer – haar strykgoed op die strykplank en die gehoorbuis van die foon met ’n kopdoek teen haar oor vasgebind. “Beroerte,” het Dokter gesug. “Mossie het haarself in die hiernamaals in gesnuif.”
Ons het mekaar net onderlangs beloer en gedink: Of dalk het sy iets oor die foon gehoor wat haar einde beteken het?
By die teraardebestelling het jong dominee Groenewald my ma se trane met sy eie, persoonlike sakdoek afgevee terwyl hy sagkens troos: “Ek hoor jou. Ek hoor jou.” Dominee het nie in die pastorie gewoon nie. Hy het gesê dis te groot vir ’n enkeling en moet eerder deur ’n behoeftige gesin in die gemeente bewoon word. Dominee het ’n eenslaapkamerhuisie op ons plaaspad gehuur. Ja, ons kon sien hy dra die vrugte van die gees soos ’n boord in die hoogsomer, die ene goedhartigheid en nederigheid, maar niemand het hom ooit oorgenooi vir ’n braai nie. Hy was immers ’n dominee, bloedjonk, ongetroud én van die voorwêreld.
Ná tannie Mossie se dood het dinge vir ’n ruk aangegaan soos altyd. Die reën het op die regte tyd geval, my Engelse spelling het verbeter en by die skou het tant Grieta se Brahmaan-bul die prys vir die dier met die aanskoulikste organe gewen. Maar toe het daar ’n reeks onverklaarbare dinge gebeur. Ons het onraad begin vermoed nadat tant Grieta eendag erg ontstoke oor die foon teenoor Ma gekla het oor die “verdomde koöperasie” wat weier om vir haar kakieklere te bestel. Hulle sê daar’s nie ’n ding soos ’n boer wat small dra nie.
’n Week later, en wat is daar voor haar deur? ’n Splinternuwe kakiebroek en -hemp! Size small. Maar dit was nie al nie … Tant Grieta het hoog en laag gesweer ’n mossie het bo-op die geskenkpak gesit! Nie ’n duif of ’n aasvoël nie. ’n Mossie! Het dit beteken dat tannie Mossie steeds op ons inluister, selfs vanuit die Anderkant? Dié storie het soos ’n veldbrand versprei en skrikkerig-opgewonde het ander ook hul hartsgoed oor die foon bekend gemaak. ’n Werksgeleentheid vir Frikkie met die haaslip. Die behoefte aan ekstra oeswerkers vir Stoffel. Versoening met ’n familielid van wie Kobus vervreem geraak het. So het die wense ingestroom. Soms is dit bewaarheid. Soms nie. Maar iets het verskuif. Of eerder: oopgeskuif. Ons, die selfdoener-boergesinne, die stille deurdrukkers, het met mekaar oor die foon beginne praat oor wat ons werklik nodig het. Toegegee, party versoeke was eksentriek.
’n Matriekmeisie, Elmarie, het hardop gewens om met ’n boer te trou wat ’n vegetariër is. “Soos in … ’n herbivoor?! Daar bestaan nie sulke boere nie! Dis mos om die Voorsienigheid te tart. Dié raak gevaarlik,” het tant Grieta gewaarsku. Ma het saamgestem. So is ons drie toe na die plaashuisie wat dominee Groenewald huur. Ons het geklop en geroep, maar daar was geen antwoord nie. Die voordeur het oopgestaan, toe stap ons in. Verras het hy van sy lessenaar af opgekyk en die gehoorbuis versigtig neergesit. “Eerste huisbesoek wat ek in drie jaar kry.” Al was sy stem sonder verwyt, het ons skuldig weggekyk. Ma het weggetrek: “Dominee, daar’s dinge wat mens nie oor ’n foon kan praat nie. Die ding van die inbelwonderwerke … dit raak te volksvreemd vir …” Skielik het sy gesnak. Ons het haar oë gevolg. Daar op die lessenaar was ’n papier met twee kolomme. Links was die name van elke inwoner op die plaaspad met ’n foon. Regs was die opskrif, Hartsbegeertes. Langs die volgende name was regmerkies: Catrina – begeerte: Engelse woordeboek. Mossie – begeerte: doktersbesoek. Grieta – begeerte: werksdrag. Kobus – begeerte: versoening met neef Faan.
Daar was ook ’n lang lys name sonder regmerkies, soos Elmarie wat ’n vegetariese boer begeer. My oë het by die onderste naam vasgesteek: Renier – begeerte: vriende in Christus. “Wie’s Renier?” wou ek, die nuuskierige klein snip, weet. Die trane het oor sy gladde wange gestroom toe hy antwoord: “Dogtertjie, dis ek. Ek het tussen julle kom woon, maar julle wou my nie inlaat nie. Ek het julle behoeftes geken, maar julle wou my nie vertrou nie. Ek het julle hartseer gesien, maar julle wou my nie toelaat om te troos nie. Vergewe my. Vergewe my dat ek jul privaatheid oortree het. Vergewe my …” Ons monde het oopgehang. Ons het nie geweet wat die vreemdste is nie: ’n Dominee wat jou afluister, of een wat om vergifnis pleit. Dit was tant Grieta, wat nooit die gawe van sagmoedigheid ontvang het nie, wat hand in die sy voor hom gaan staan het: “Staan dit ooit in die Heilige Woord dat mens nie mag inluister nie? Ek weet steel is sonde. Skinder is sonde. Slegpraat is sonde. Maar staan daar, swart op wit, dat inluister sonde is?”
Tranerig het hy sy kop geskud. “Nee, nee, maar …” Voordat Dominee dit kon weerspreek, het Ma soos blits sy sin vir hom voltooi: “Maar in dié geval sou mens selfs kon reken dat dit Bybels is. Dominee se linkeroor het immers nie geweet wat sy regteroor hoor nie. Is dit nie hoeka die taak van ’n sieleversorger om met een oor in die hemel en ’n ander oor tussen die mense te leef nie?” “Ek hoor jou,” het hy met ’n amperse glimlag gefluister, sy oë traanblink. Dominee het daarop aangedring om die “struikelblok” uit die weg te ruim, maar voordat hy sy slingerfoon vir die skool kon skenk, is die telefoonpale langs ons plaaspad geplant. Die plaaslyne was iets van die verlede.
Dis nou amper vier dekades later. Tant Grieta is intussen saliger, my ouers het die plaas verkoop en die alomgeliefde dominee Groenewald is al lankal in die pastorie op die dorp ingeburger, saam met Elmarie. Al was hy nie ’n boer nie, kon hy haar oortuig dat hy ’n herder én ’n saaier is. Hy het selfs vleis prysgegee om haar hart te wen. Ek het hulle jare laas in lewende lywe gesien, maar ek sien hy is ’n groot aanhanger van Facebook. Getrou volg hy sy kudde – oud en jonk, man en muis, naby en ver – se inskrywings. Gereeld loer hy in op ons lief en leed, vreugdes en smarte. En ek verbeel my hoe hy elke keer wanneer hy die like-knoppie druk, fluister: “Ek hoor jou.”