Dit, sover ek kan onthou, was die laaste normale oomblik van die Kersoggend. ’n Rukkie later krummel hierdie normaliteit tot die skerfies wat oorbly nadat jy per ongeluk op ’n glasballetjie wat van die Kersboom afgeval het, trap
Deur FANIE VILJOEN
Daar is sekere woorde wat ’n mens nie wil hoor nie. Woorde soos ’n dokter se “ek het goeie en slegte nuus”, ’n haarkapper se “oeps”, en ’n motortegnikus wat jou met ’n beteuterde gesig meedeel: “Ons het ’n klein probleempie.” Dan is daar die woorde wat ek kort voor ’n Kersete kwytgeraak het: “Daar was ’n misverstand.”
Maar laat ek ’n bietjie vroeër die oggend begin. Die deure van die winkelsentrums en supermarkte is toe, die blink liggies wat al van laat Oktober af daarin hang, is afgeskakel, en Boney M en ander huppelende Kerssangers se musiek het vir nog ’n jaar kasregisters laat klingel.
Dis Kersoggend.
Die tyd van vrede en salige rus … totdat die kinders opstaan.
“Seuns, stilte!” skree ek. “Gee elkeen ’n beurt om te speel. Moenie mekaar byt nie.” Ja, ongelukkig is daardie laaste opdrag ’n realiteit met seuns. Maar jy kan nie drie kinders in jou Kersoggendwaas vanuit die bed tot orde roep nie. Jy moet opstaan en hulle met Kersvader dreig wat sy geskenke kom terugvat as hulle nie nou tot bedaring kom nie.
“Los die kinders dat hulle speel, Kev,” sê my vrou toe sy my terugtrek bed toe. “Ontspan. Jy werk hard deur die jaar. Ons kan nog ’n bietjie lê en later rustig vir die Kersete by jou ma-hulle regmaak.” Wyse woorde van ’n wyse vrou. Ek trek haar in my arms in. “Hoe laat moet ons daar wees?” vra sy.
“Seker so twaalfuur,” sê ek. “Ek sal later bel en seker maak.” Ons wissel Kersdagkuiers elke jaar af, óf ons kuier saam met my ouers óf saam met Claire s’n. Vanjaar is dit myne. Ek sien nogal daarna uit om weer om die groot geelhouttafel by hul huis aan te sit. Kersfees bring mos ’n tikkie nostalgie, selfs al is jy ’n man en wys jy dit nie.
Maar voor dan …
“Seuns, ek praat nie weer nie!” gil ek die gang af toe ’n tranedal oor ’n Batmanrekenaarspeletjie uitbreek. Ek spring uit die bed, maar kom nie verder as die deur nie. Ek maak dit net toe om die lawaai uit te doof voordat ek weer langs Claire inklim.
Vrede.
Die oggendlig kom die kamer binne waar Claire besig is om reg te maak. Sy het iewers die idee gekry dat my ma nie veel van haar skoondogter se styl dink nie, daarom doen sy ekstra moeite met haar grimering en klere. Ek kan maar net lag en dit as ’n vrouestreek afmaak.
Vir my is sy mooi waar sy daar voor die spieëltafel sit. Die son glim in haar hare en skyn oor die ronding van haar nek. Ek kom nader, sit my hande op haar skouers en soen haar sag op die wang.
“En dit?” vra sy laggend.
“Dis maar net vir sommer. Omdat jy pragtig is.”
Sy glimlag en trek die borsel weer deur haar hare. “Jy moet nog jou ma bel en hoor hoe laat ons moet oorkom. En kyk wat maak die seuns. Hulle is gans te stil.”
Dit, sover ek kan onthou, was die laaste normale oomblik van die Kersoggend. ’n Rukkie later krummel hierdie normaliteit tot die skerfies wat oorbly nadat jy per ongeluk op ’n glasballetjie wat van die Kersboom afgeval het, trap.
“Kev, is iets fout?” vra Claire toe ek met die selfoon terug in die kamer kom. “Jy lyk bleek.”
Ek haal diep asem en staal myself.
“Claire … daar was ’n misverstand.” Sy spring regop. Dis so goed ek bring ’n doodstyding.
“Wat? Sê my!” hou sy vol.
“Die Kersete is glo nie by my ma-hulle nie,” stotter ek. Ek sien hoe Claire eerder wens dit was ’n doodstyding. “Dis hier … by ons. Almal is op pad. My pa-hulle, my broer en sy vrou en kinders. My suster-hulle. O ja, en my tannie wat, volgens my ma, op ’n dag soos hierdie nie alleen kan wees nie.”
Claire se gesig verander van skok na ’n kalm glimlag. “Amper vang jy my. Kry jou baadjie, Kev. Ons moet seker ry. Ek sal kyk dat die seuns …”
“Claire, hartjie,” sê ek benoud, “dis nie ’n grap nie. Ek is doodernstig. Die mense is op pad. Hulle kom hier eet. Hulle verwag ’n hele Kersete met kalkoen en skaapboud en hoenderpastei en wat ’n mens ook al op Kersdag maak om ’n hele familie te voer terwyl jy hoop niemand sê iets wat ’n ander se humeur laat opvlam of ’n ego krenk nie.”
Claire se gesig verander weer. Yskoud gluur sy my aan. “Moenie my ‘hartjie’ noem nie. Jý en jóú familie!”
Hier kom dit. Tra-la-la-la-la, la-la-lalaaa!
Kersfees in sy kanon in.
“Hoe kon dit gebeur het?” vra Claire. Sy staan met haar hande in haar hare. “Dis jou familie, Kev. Jy moes alles reël. Jy kan nie nou … NOU … vir my kom sê daar moet ’n ete wees nie. Wat maak ’n mens in tien, vyftien minute?”
Sy is in die kombuis. Sy staar na die koskasrakke soos die verlore seun seker na sy leë beursie moes gekyk het. “Tuna … boeliebief … spaghetti en frikkadelle in ’n blik.”
“Is daar nie iets in die vrieskas nie?” vra ek.
“Dink jy nou mens gaan ’n skaapboud in 15 minute ontvries en gaar kry?” Ek haal my skouers op. “Ek gaan my ma bel,” sê sy. “Gaan jy Spar toe en kyk of hulle oop is. Koop vir jou familie kos. Vat die seuns saam. Ek het ’n oomblik nodig.”
Claire het nog net een keer vantevore in die huwelik ’n oomblik nodig gehad. Dit was die dag toe sy die nuwe kar op pad terug van die motorhandelaar af gestamp het.
Ek het daardie dag ook gevoel ek kan doen met ’n oomblik. Maar in tye van krisis moet iemand sterk staan.
“Seuns, kar toe met julle! Kom!” roep ek die gang af.
“As jy lank genoeg in die afgrond staar, staar die afgrond naderhand in jou in terug,” sug ek by ’n verkeerslig.
“Wat sê Pa?” vra my oudste. “Niks nie,” antwoord ek. “Pa sê maar net wat ’n ander slim oom eenkeer gesê het.” “Kom hy ook by ons eet?”
“Wie? Nietzsche? Nee, hy is lankal dood.”
“Dis ook maar goed so. Ma sal nie daarvan hou as daar nóg iemand kom nie.”
Ons hou voor die Spar stil. Die plek is oop. Enkele kante dwaal binne rond. Hulle is seker ook op soek na ’n krummel wat van die koning se tafel afgeval het, maar die yskaste is leeg. Ek en die seuns loop weer met leë hande en groet die kassiere met ’n vriendelike “Geseënde Kersfees”. Dit moet sleg wees om vandag te werk. Hulle het ook gesinne wat kos moet kry, wat liefde moet kry. Nou sit hulle op Kersdag agter ’n kasregister om die pot aan die kook te hou.
“Terug huis toe, manne,” sê ek toe ons in die kar sit. “Dit gaan ’n rowwe dag wees. Julle moet jul ma maar vandag ’n spesiale drukkie gee. En gedra julle dat sy nie nog oor julle ook bekommerd is nie, hoor?”
“Ja, Pa,” sing hulle in die agtersitplekkoor.
By die huis aangekom, is die jongste een al aan die slaap. Die opwinding het te groot geword. Ek tel hom op, sy warm lyfie teen myne, sy kop op my skouer. So dra ek hom die huis in.
My ma-hulle, broer, suster en die tannie wat nie vandag alleen kan wees nie, is almal al daar.
“Geseënde Kersfees!” kom die een roep na die ander. Ek kry links en regs soene. Die oorlog, as daar toe ooit een was, het gekom en gegaan en is vergewe. Claire is in die kombuis, omring deur al die ander vroue.
Die skaapboud is aan die ontvries. Almal help groente skil, sous maak, poeding bak.
“Ek is jammer dit het nou só uitgewerk,” sê ek vir my ma. “Dis alles my fout.”
“Ag, dis orraait,” sê my ma joviaal. “’n Mens hoef nie so baie te eet nie. Dit mors net.”
“Ja,” sê my tannie wat nie vandag alleen kan wees nie, “vir wat wil ’n mens nog dae ná die tyd oorskietkos eet.” Sy kry ’n hartseer kyk in haar oë asof sy skielik die mense van haar vorige Kersfeeste onthou.
“Skies, die Spar is ook op genadebrood vandag,” sê ek vir Claire toe ek haar nader trek. “Is alles oukei hier?”
Sy knik. “Ná ek met my ma gepraat het, het ek besluit dis nie so erg nie. Ons kan mos maar vanaand eet. ’n Bietjie honger sal niemand doodmaak nie. Die misverstand,” sê sy sagter, “het toe by jou ma gelê. Jou suster het ook verstaan ons eet by haar, maar sy het seker ’n bietjie vergeet.”
Ek skud my kop en lag. “Nou toe, laat ek die klein mannetjie in sy bed kry. Hy het weer in die kar aan die slaap geraak.”
Claire leun nader en soen klein Christiaan sag op die wang soos ek haar vroeër vanoggend gesoen het. En weer lyk sy vir my mooier as wat ’n man met my mindere geluk kan glo.