Voor sy aflui, hou sy die telefoon vir ’n oomblik op haar skoot. Tyd vir koffie. Dis Heila en haar ma se kode vir ernstig gesels. Die afgelope 15 jaar het haar Ma egter nog nooit tyd vir koffie gehad nie
Deur MARIANNE VORSTER
Sy skud haar hande droog, haastig om by die foon te kom. Net drie plekke het haar landlynnommer: Global Armed Response, die munisipaliteit en Huis Sieraad. Sy knyp die foon met haar ken vas, vryf uit gewoonte haar hande weer teen die vadoek oor haar skouer.
“Heila hier,” antwoord sy. “Middag, Heila. Matrone Geldenhuys. Het jy ’n oomblik?” “Is daar fout, Matrone?” “Nee, wat. Jou mammie het net flou geword tydens die aankondigings vanoggend.” Heila vat die foon en gaan sit op die riempiestoel. Leun met haar rug teen die gangmuur. “Is sy oukei?” “Ja, ja, hier lê sy langs my, in haar bed. Haar bloeddruk en bloedsuiker toets perfek. Sy het ons lekker op hol gehad. Nè, tannie Kitty? Ek weet regtig nie wat dit veroorsaak het nie.” “Dankie vir die laat weet, Matrone. Ek kom loer in so gou ek kan.” “Dis dan al, kindjie, ek gee vir haar die lyn. Sy wou al vanoggend in die siekeboeg dringend met jou praat. Mooi dag dan.”
“Hallo Ma, wat gaan aan?” “Heila, Matrone praat van ’n nuwe intrekker.” “Nou hoe kom die floute en die intrekker nou op een bladsy, Ma?” “Blykbaar al volgende week. Sê nou net dis sý.” “Sê nou dis wié, Ma?” “Sý, man. Ding Dong Diddels.” “Ma?” “Ek sê jou, Heila. Matrone se laaste woorde was: ‘Ons verwelkom binnekort ’n nuwe intrekker ver uit die Karoo. Mevrou Diddels Brand,’” boots sy die matrone se stem na. “Hoeveel Diddelse kom ver uit die Karoo, hê?” “Ma, ons kan nie sulke aannames maak nie. Ma kan ook nie flou val elke keer as haar naam genoem word nie. Verstaan Ma nou hoekom ek wou hê Ma moes by Pa se begrafnis wees?” “Maar Heila, dit kon tog …” “Nee, Ma, dit kón!” knip Heila die geykte verskoning kort. “Dis waarom afsluiting een van die belangrikste prosesse van herstel is. Om vir Diddels Ding Dong – hoe Ma haar ook al noem – in die oë te kyk. Alles wat oopruk en skeur, is nodig wanneer dit by herstel kom, Ma. Daar is net een pad tot anderkant seer.
Dwarsdeur bloei tot die laaste druppel stol.” Haar ma se asemhaling versnel tot kort angstige teue. Heila huiwer ’n oomblik voor die golf van hoop die oorhand kry. “Daardie brief in Ma se laai.” Stilte op die lyn. “Ma?” Steeds stilte. “Ma, dit lê al vier jaar daar. Nog altyd geseël, nes die dag toe ek dit vir Ma gegee het.” Heila sit met die gehoorstuk teen haar oor. Luister moedeloos, die soveelste keer, na dié woordeloosheid. Sy ken die ritueel so goed. “Ek moet gaan, Ma. Laat my weet wanneer Ma tyd het vir koffie.” Steeds geen reaksie nie. Voor sy aflui, hou sy die telefoon vir ’n oomblik op haar skoot. Tyd vir koffie. Dis Heila en haar ma se kode vir ernstig gesels. Die afgelope 15 jaar het haar Ma egter nog nooit tyd vir koffie gehad nie.
Ook nie om haar brief te lees nie. Sy onthou hoe sy aan die begin hoopvol, byna opgewonde was. Hoe sy skelm geloer het of die brief oopgemaak is wanneer haar ma die ketel vir tee aansit. Haar entoesiasme het mettertyd getaan. Nou loer sy net dan en wan. Nog minder tyd gehad om te berus oor die vrou met die toeganklike lyf wat Pa destyds nie kon weerstaan nie. Die toevalligheid dat dit Diddels kan wees, voel vir Heila nader aan ’n skaakmatsituasie. Kom ons kyk of Diddels Brand die koningin weer in ’n hoek kan vaskeer, dink sy, en glip die foon sag terug op sy mik.
Het Heila wraggies die foon in haar oor neergesit? Kitty skud haar kop in ongeloof. Sy plak die gehoorbuis met mening terug, druk hard op haar elmboë tot sy penorent sit. Haar mond op ’n suinige knop getrek. “Verdomp, die spul is soos kanker. Kan mens nie eens in vrede oud word nie?” mompel sy. Sy sit lank só, in stilte, haar oë toe. Die onstuimigheid in haar hart sal bedaar, sy moet net nog tyd gee, dink sy. Die etensklok bring haar tot verhaal. Sy swaai albei haar voete tot op die matjie voor die bed. Skuif tot op die rand. Vanaand se spys en drank is haar nie beskore nie. Haar regterhand trek liggies aan die laai. Dit gly gewillig oop. Hier lê die pienk koevert. Presies soos Heila gesê het. Nog net so. Sy kyk na die kalender teen die muur. Elke vierde jaar met rooi in ’n netjiese kolom langsaan ingeskryf. In 1968, hier het alles begin, dink sy. Miskien is dit die enigste plek waar dit kan eindig. Sy skeur die koevert oop. Haal die brief stadig uit. Drie velle dun papier ritsel soos haar hande bewe.
Sy asem diep in en begin lees. 20 Oktober 2014 Liewe Ma Vandag was Pa se begrafnis. Klein, sonder fieterjasies, soos hy dit wou hê. Tydens die diens het ek aanhou omkyk na die deur. Ek het bly glo Ma sal kom. Ter wille van my verlies. Net as ’n Ma, omdat ek mooi gevra het. Ek het gehoop die gewig van ’n dooie sou swaarder weeg as dié van ’n gebroke hart. Ek was verkeerd. Ek wil nie meer geheime tussen ons hê nie. Daarom die brief. Wanneer Ma besluit om dit te lees, sal ek weet die tyd vir afsluiting is uiteindelik hier. Ná die skande oor die huis, soos Ma altyd daarna verwys het, kon ek twee jaar lank sonder Pa. Al het Oupa gesorg dat ons geen tekort het nie, was die soeke na die waarheid, die verlange na Pa, vir my te groot.
Al die CSV-kampe elke vakansie was ’n rookskerm om by Pa te wees. Pa was nie sonder foute nie, Ma ook nie. Ma het bly swyg waarom ons oornag soos vlugtelinge uit die Karoo is. My vrae het Ma soos ’n mossel laat toeklap. Goddank vir Pa, want hy het gepraat. My kwaad teenoor Ma. Ma se bitterheid teenoor Pa. Dit was die gif wat ons albei kreupel gehou het. Tannie Diddels sê Pa is nie dood nie, hy het weggekwyn. Sy was goed vir hom. Dis hy wat nie goed vir homself kon wees nie. Hy het my vertel van Oupa, van Ma, van tannie Diddels en die allesoorheersende vloek van die skrikkeljaar. Ek wil hê Ma moet die wêreld deur Pa se hart hoor. Hy het altyd gesê ons sien gebeure nie soos wat dit werklik is nie, maar soos wat óns is. Hy vertel: “My eerste fout was om jou ma, Oupa se enigste dogter, op die eerste Januarie 1968 te vra om te trou.
’n Skrikkeljaar wat op ’n Maandag begin, was skynbaar die voorloper van die grootste ramp ooit. So het Oupa geglo. Kort voor lank, jou ma ook. “Jou geboorte, noem maar op, elke doodnormale besluit, moes eers in die skaal van die skrikkeljaar geweeg word. My gelukkigste tye was die jare tussenin, en jou geboorte. Ons beplanning het netnet nie uitgewerk nie.” Hy het sy skouers opgetrek en gelag, uit moedeloosheid of verstomming, ek kon nie sê nie. “Dan was daar Diddels van die koöperasie. Beeldskoon (hy knipoog, beduie dat sy goed bedeeld was) spontaan en altyd dieselfde. Dalk was dit haar onvoorwaardelikheid. Ek weet nie. Al die boere was bietjie verlief op haar. Hoe meer Oupa ons lewens probeer beheer het, hoe later het ek die vragte skape by die koöperasie ingeboek. Dis ’n flou verskoning, ek weet.
Ek was ’n lafaard. Mens raak mak en onverskillig, verbeel jou die mense om jou is blind. Keuses, Heila. Mens betaal ’n duur prys vir elke liewe een. Ek het. Ek kon myself nie vergewe nie. Jou ma wou na geen rede luister nie. Oupa het die praatwerk namens haar kom afhandel, die skande met sy ruim woordeskat kom inkleur. Twee jaar moes ek sonder jou. Vir altyd moes ek sonder júlle. Daaroor sal ek altyd jammer wees.” Ma, hiermee my keuse om niks uit die verlede meer saam te sleep nie. Geen geheime oor Pa of tannie Diddels of enigiets wat my kreupel hou nie. Ek is lief vir Ma. Ek was lief vir Pa. Ek is lief vir tannie Diddels omdat sy goed was vir Pa. Jou enigste dogter. Heila Ns: Laat my weet wanneer Ma tyd het vir koffie.
Heila gryp die foon net betyds voor dit ophou lui. “Hallo, Heila hier.” Uitasem. “Heila?” “Ma? Hoe klink Ma so … anders?” “Het jy lus vir koffie?” Heila laat sak die telefoon tot teen haar bors, druk haar kop teen die koel muur. Vandag voel die bekendheid daarvan veilig. Jare se trane brand ’n pad oor haar wange. Sy byt op haar lip, lig die foon weer tot by haar oor. “Ek het tyd vir koffie, Moeks. Ek het al die tyd in die wêreld.”