Tobias ruk. Ses mense kom orent en baan hul weg na die naaste paadjie, wiegend en dansend. Van daar marsjeer hulle na voor en bestyg die verhoog. Opdragte volg van die man met die keil
Deur JACO FOUCHÉ
Saudade, lees die bord by die ingang met die geskilderde prent van ’n man met ’n pluiskeil wat sy hande soos ’n towenaar orent hou. Saudade. “Die Portugese woord vir ’n onuitspreeklike verlange,” sê iemand. “Hy gebruik dit in sy vertoning.” “Saam met die rooiwyn?” spot iemand anders. Tobias sit vroeg al op die galery, lugtig vir die skare in die voorportaal met hul glasies wyn, hul gemaklike gesprekke en die hartlike gelag. Voor en onder hom strek die saal uit, van die groot deure regs waar lig oor die stroke tapyt tussen die blokke stoele val, na die verhoog links waar die gordyne hang.
Die mense begin vanuit die voorportaal inkom en druk en stamp soos hulle kom sit. Tobias se hart is reeds aan die hamer en nog niks het gebeur nie. Hy tel die sitplekke. Op die galery is daar 200. In die saal onder hom moet dit 500 wees. Die plek is gou vol. Die vrou twee plekke van Tobias af sê: “Almal offer vanaand se televisie op om hier te wees.” Haar metgesel langs hom: “Hy is glo goed. ’n Waardige vertoonvenster vir die sielkunde.” “Hier sit mense wat hom reeds sien optree het en net nie kan wegbly nie. Kyk die man langs jou. Lyk asof hy self iets mis,” gaan die vrou voort. Tobias draai sy gesig weg. Hy is 30, ernstig, op die oog af eerder een vir verleentheid as venyn. Musiek speel dramaties en onheilspellend. Mense skuif op. ’n Man vryf sy hande. Kinders beduie. Vroue skud die kop oor gefluisterde aanmerkings.
Tobias asem diep in. Tromslae klink op, stadig maar hard. Die gehoor is stil, hul aandag by die verhoog. Die gordyne trek oop sodat die geborduurde soom oor die verhoogvloer vee. ’n Toneel ontvou met ’n ry stoele en ’n man in hoë stewels, ’n manelbaadjie, skynbaar fluweel, ’n wit hemp agter sy donker krawat en ’n pluiskeil wat hy in ’n kol lig afswaai terwyl hy buig, een stewel agter die ander. Applous bars los. Die man met die keil is gewild en bekend. Tobias se maag draai. Die handegeklap bedaar en die man glimlag soos ’n gemoedelike oom met sy rooi gesig. Hy praat gedrae: “Liewe mense, ek doen julle vanaand die onbeskryflike verlange aan. Julle sal aan hierdie aand terugdink. Duidelik stel julle almal in die werkinge van die verstand belang. Waarskynlik voel sommige dat min julle vanaand sal verras. Dít is my uitdaging. Ek gaan julle aandag hou en jul besoek die moeite werd maak.”
Hy praat hierdie kant toe, dan daardie kant toe. “Suggestie. Heelwat is daaroor gesê en geskryf wat waar is. Goeie raad, met aanmoediging, het dikwels die gewenste effek. Ouers rig hulle kinders, onderwysers en dosente lig studente in. Ekself het jare lank pasiënte in terapiesessies bygestaan. Hoeveel rokers was daar nie? Hoeveel huwelike het ek nie gered nie? Dit word gesê dat die sukseskoers van ondersteuningsgroepe om negatiewe gedrag teen te werk, tussen vyf persent en dertig persent wissel. Ek het 50% sukses onder eerste pasiënte behaal. En dié wat oorbly, het steeds ’n goeie prognose gehad, want byna almal het tot hul reg gekom, al was dit by iemand anders.”
Dan huiwer die man, vleg sy vingers voor sy bors inmekaar: “Daar was wel eenmaal ’n man vir wie ek nié kon help nie. Onbepaalde vrese het hom geteister. Aan sy wantroue en ongelukkigheid kon ek niks doen nie. Ek het besef hy is verlore vir die samelewing. Ons ken hulle – in godsdienstige kringe, by vergaderings, in die werkplek. Ons sien hulle langs die strate, onder brûe. As hierdie ’n meer gepaste geleentheid was, het ek daardie randfigure as gevallestudies bespreek. Maar hierdie is ’n geleentheid vir vroliker dinge. Laat ek net sê, hier ís dalk mense teenwoordig vir wie ek gehelp het. Kan ek hande sien?”
Tobias werk sy vingers tussen sy bobene en die warm sitplek in. Sowat 30 of 40 hande skiet op. Applous. Die man met die keil wuif oor die mense voor hom en knik, slaan sy hande weer saam. “Só gaan dit. Ons is saam om mekaar te ondersteun. Sommige se bydrae is groot, ander s’n klein. Maar die bevrediging wanneer jy tot iemand deurdring, is spesiaal.” Tobias skuif regop. Die vermaak begin. Vrywilligers word vorentoe geroep en dan agter die gordyne weggelei vir diskrete hipnose. Dan kom hulle terug, neem op die ry stoele plaas. Wanneer die man met die keil sy vingers klap, begin hulle op sy voorstel soos hoenders kekkel, soos sirenes skree, agterdogtig oor mekaar raak, vir gewaande nare reuke frons, en so meer. Iemand word vertel hy is gewigloos en hy lê op sy rug oor ’n paar stoele, sy voete in die lug.
Die gehoor lag. Die man met die keil klap weer sy vingers. Die vrywilligers lyk verleë of onbegrypend. Tobias se kake is geklem. “Liewe vriende, ja,” sê die man met die keil, “aanskou die pret. Die mooi mense by my wat nou die verhoog verlaat, is saam met my bly dat ons al die plesier kan verskaf.” Die vrywilligers keer na hul stoele terug. “Tog wil ek ook die erns van my vak – of moet ek sê kuns? – onder jul aandag bring. Sommige is vatbaarder vir suggestie as ander. Dit hang af van jou bereidwilligheid om saam te werk. Dis nie my werk om jou te laat glo jy kan deur mure loop of in woede uitbars nie; daardie geloof, daardie potensiaal, is binne jouself. Ten goede of ten kwade. Dit is … Vá dormir … in jou eie … Vá dormir … hande.” Tobias knip sy oë aanhoudend.
Die man kyk oor die gehoor uit, sy mond oop. Dan kyk hy af na sy hande, weer op, vra dramaties: “Is hier iemand wat al voorheen deur my gehipnotiseer is – op die verhoog, nie in terapie nie? Iemand vir wie die volgende iets beteken? Ek praat van … Vá dormir … die woorde … Vá dormir. Vá dormir! Vá dormir! Vá dormir!” roep hy. Musiek speel: Entry of the Gladiators. Tobias ruk. Ses mense kom orent en baan hulle weg na die naaste paadjie, wiegend en dansend. Van daar marsjeer hulle na voor, bestyg die verhoog. Opdragte volg van die man met die keil. Hulle voer passies uit, in gelid, staan op hul hande, doen bollemakiesie. Dan bedaar die musiek en die man met die keil glimlag. Stilte daal neer, hoewel die ses mense op die verhoog steeds komiese, ongewone liggaamshoudings inneem.
“Vriende, hierdie mense was by vorige vertonings. Ons bevind ons natuurlik in ’n teater, ’n plek van fiksie, fantasie, woorde. Nou volg die woord wat hierdie aand in die gedagtes van almal wat geraak is, ongedaan maak. Saudade! Saudade! Saudade!” Die ses mense kom tot verhaal, ontspan uit hul posture, stap terug sitplekke toe. Tobias sluk en sluk. Hy het laer af op sy stoel geskuif. Sy bene bewe. “Nou ja, al ken ek kopkunsies, weet ek ons almal is in wese vriendelik en smag na vriendskap. Óns in die bedryf stel dit ten doel om mense weer by die groep te laat aansluit. Julle is ons vriende, sowel as mekaar s’n. Ons lewer ’n produk wat die samesyn bevorder. Ek wil julle nou nooi om vir die persoon langs jou te sê: Aangename kennis.” Oral reik mense na mekaar, glimlag, sê iets hartliks, lyk gemaklik en gelukkig. Dit is inderdaad vir baie ’n aand wat hulle sal bybly. Die vrou langs Tobias trek aan sy mou en hou, toe hy nie reageer nie, ’n hand uit. Tobias reik daarna en skud dit heftig voordat hy sy hande in sy skoot vasdruk en weer na die verhoog kyk.
En dit is die eerste keer dat hy die elektriese prikkeling van oogkontak ervaar. Die man daar voor kyk vir hom. Die man het hom opgemerk. Die man sien hom. Die oomblik gaan verby en die man met die keil draai na gehoorlede die naaste aan hom. Hy lig sy hande asof hy hulle seën. Hy glimlag en knik vertroulik. Tobias knyp sy oë toe. “Is alles reg?” fluister die vrou langs hom. “Pla iets?” Hy glimlag bleek, staan op, skuif met die ry langs na die gangetjie. Hy hoor die man met die keil welsprekend groet: “… sal weer van julle sien en ons sal weer die aand in mekaar se geselskap …” Teen hierdie tyd is Tobias aan die hardloop. Snel beweeg hy tussen die rye stoele deur. Terwyl mense verbaas na hom kyk, pyl hy op die verhoog af, duik-skuif daaroor, kom dan regop, gryp-gryp na die man met die keil, wat oor en oor dieselfde woord uitroep, selfs terwyl die houe op hom val en hy op die verhoog neersyg. “Saudade! Saudade! Saudade!”