Sy het op haar rug op die sitkamermat gelê, ’n koeëlwond in haar bors. Felix Mijnhard was terminaal siek en dit was onduidelik of hy toevallig op daardie aand aan sy siekte dood is en of hy met ’n kussing versmoor is
Deur JB ROUX
Kaptein Sarel Cilliers is net so suksesvol soos wat hy vet is: 183 kg, en die meeste van sy sake word binne twee maande opgelos. Hy sit by sy lessenaar en ervaar die genoegdoening van iemand wat vir homself kan sê: “Dié keer het geregtigheid geskied.” Maar die dossier oor die moord op Elsa Mijnhard en moontlik haar man, Felix, kan nog nie afgesluit word nie. Cilliers wéét wie skuldig is en daar is heelwat omstandigheidsgetuienis, maar dit beteken niks as ’n goeie advokaat die vabond kan loskry nie. Hy het bewyse nodig. Die harde werk om Paul Mijnhard tronk toe te stuur, begín nou eers.
Toe Cilliers die moordtoneel in die Mijnhard- woning ondersoek het, het hy dadelik geweet die moord op die rykmansvrou was nié die gevolg van ’n inbraak nie. Sy het op haar rug op die sitkamermat gelê, ’n koeëlwond in haar bors. Felix Mijnhard was terminaal siek en dit was onduidelik of hy toevallig op daardie aand aan sy siekte dood is en of hy met ’n kussing versmoor is. Meubelstukke was omgekeer, laaie en kasdeure oopgeruk. Dit het gelyk asof skilderye verwyder is. ’n Vrou soos Elsa Mijnhard sou juwele gedra het, maar daar was nie ’n ring aan haar vinger of ’n snoer om haar nek nie. Die koeël het déúr haar bors gedring, soos dikwels wanneer iemand op kort afstand geskiet word. Daar was geen teken van die koeël nie.
“Deursoek die tuin; kry die konstabels om chicken parade te doen,” het Cilliers beveel. “Dalk het die moordenaar die koeël deur die venster gesmyt.” Hy het na speursersant Junior Louw, sy adjudant, gedraai: “Wat dink jý het gebeur?” “Twee of meer inbrekers …” “Of net een?” “Rooftogte soos hierdie word deur bendes gepleeg. Hulle was deeglik. Rowers wat alleen werk, sal ’n selfoon of iets gryp en laat spaander. Iemand wat alleen werk, slaan ook nie sommer toe terwyl die inwoners tuis is nie.” “Hoekom is mevrou Mijnhard, en miskien haar man, vermoor?” “Sodat hulle nie later die inbrekers kan uitken nie. Miskien het hulle gesê hulle maak haar dood as sy nie sê wat haar bankkaart se PIN is nie, of iets, toe voer hulle die dreigement uit.
Hulle het vinnig gewerk. Dis nie hul eerste inbraak hierdie nie.” “Wie sê die vrou is nie om persoonlike redes vermoor en die moordenaar wou dit soos ’n inbraak laat lyk nie?” “Daar is te veel ooreenkomste met ander moordtonele waar die motief suiwer roof was. As dit ’n ervare bende is, word hul vorige rooftogte tans deur ander speurders ondersoek. Ek sal kyk hoe sulke sake met dié een vergelyk.” “Is jy seker jou teorie is reg?” “Ja, Kaptein.” “Bewys dit.” Die japsnoet weet niks, het Cilliers gedink. Wanneer ’n moord gepleeg word, is die moordenaar gewoonlik iemand ná aan die slagoffer, soos ’n familielid. Om ’n moord soos die resultaat van ’n rooftog te laat lyk, is ’n ou truuk. Maar dit kan nie kwaad doen om Junior sy eie ondersoek te laat uitvoer nie. Mens weet nooit. Dit hou hom sommer onder sy voete uit sodat hy kan uitvind wat regtig gebeur het.
Terwyl Junior dossiere oor inbrake gefynkam en met kollegas gepraat het om uit te vind of daar onlangs ’n soortgelyke inbraak en dalk moord was, het kaptein Cilliers met die oorledenes se familie gesels, probeer uitvind of en hoe iemand by die Mijnhards se dood sou baat. Cilliers kon vasstel dat nie een van die Mijnhards se vriende of familielede ’n motief gehad het om hulle te vermoor nie. En hulle het almal alibi’s. Maar Elsa Mijnhard was haar man se enigste erfgenaam en die begunstigde van twee vet polisse. As sy vrou vóór hom sou doodgaan, is Paul Mijnhard, Felix se broer, die begunstigde. Paul het twee jaar gelede Australië toe geëmigreer. Kon hy dalk van daar af gereël het dat iemand sy broer en skoonsuster vermoor sodat hy kan erf? Die harde werk om Paul Mijnhard tronk toe te stuur, dink kaptein Cilliers weer, begin nou eers. Hy wéét die man is skuldig: Niemand anders het ’n motief nie. Maar hy is oorsee – die perfekte alibi.
Hy het al die inligting wat hy oor Paul Mijnhard in die hande kon kry, netjies bymekaar. Hy woon in Perth en werk as rekenmeester. Hy het nie juis kontak met sy familie in Suid-Afrika nie. Hulle kon wel telefoonnommers verskaf waar die man dalk bereik kan word, maar die nommers het niks opgelewer nie. Junior Louw slenter by Cilliers se kantoor in. “Wat is dit, Maergat? Kan jy nie sien ek dink nie?” “Ek dink ek het iets beet, Kaptein!” Junior waai ’n dossier bo sy kop. “Daar was vier maande gelede ’n soortgelyke voorval. Iemand het by ’n huis ingebreek, die inwoner – ’n ouerige oom wat alleen gebly het – geskiet en die huis omgekeer, alles weggedra wat iets werd was. Die oom is oorlede voor hy sy aanvallers kon beskryf.” “En?” “Hulle kon die koeël uit die oom se liggaam verwyder.
As ons dié koeël en die een wat Elsa Mijnhard se lewe gekos het, kan vergelyk en bewys dis uit dieselfde wapen gevuur, wéét ons die moord op haar was die werk van inbrekers.” “Hoe wil jy dit doen, aangesien ons nie laasgenoemde koeël kon opspoor nie?” “As ons die bende opspoor wat die vorige moord gepleeg het en hulle ondervra, erken hulle miskien dat hulle die Mijnhard’s óók …” “Dalk is dit nie hulle nie, ás dit ’n rooftog was. Pla my weer wanneer jy iets konkreets het.” Toe Cilliers die volgende oggend by HK inloop, lig die konstabel by ontvangs hom in dat hy ’n besoeker het. “Hy wag in kaptein se kantoor. Hy sê sy naam is Paul Mijnhard.”
Die kaptein slaan amper agteroor van skrik. Toe Cilliers in sy kantoor kom, sit ’n aantreklike man, netjies aangetrek, en wag. Hy is 45 jaar oud, het Cilliers intussen vasgestel. Die kaptein gaan sit aan sy kant van die lessenaar. “Wat doen jy hier?” “In Suid-Afrika? Ek wou my broer kom groet. Ek was te laat.” “Wat doen jy in my kantoor?” “Sy vrou is vermoor. Ek het geweet julle sal met my daaroor wil gesels. Vir volledigheid.” “Kan ons in die ondervragingskamer praat?” “Ek het geweet as enigste erfgenaam is ek onder verdenking. Ondervra my gerus. Ek het niks om weg te steek nie.” “Jy was by bendebedrywighede betrokke terwyl jy in Suid-Afrika was.” “Ek het vriende gehad wat nie heilsame lewens gelei het nie, maar ek was nooit by misdaad betrokke nie. Ek is juis Australië toe om van my sogenaamde vriende weg te kom.”
“Waar was jy toe die moord gepleeg is?” “In my hotelkamer. Ek het pornografie gekyk.” Die man het ’n antwoord op alles. “Voor jy Australië toe is, het jy ’n vuurwapen gekoop.” Paul knik. “Wéttig gekoop. Vir selfverdediging. Suid-Afrika is ’n misdadige en gewelddadige land. Voor ek geëmigreer het, het ek dit in ’n bankkluis gelos.” “Waar is dit nou?” “In my hotelkamer. Ek wou dit by my hê ingeval ek gekaap word of iets. Ek sal dit aan julle oorhandig. Julle sal sien die koeël wat my skoonsuster doodgemaak het, is nie uit mý rewolwer gevuur nie.” Die man weet die koeël is weg, besef die kaptein. Vir die eerste keer in sy loopbaan verloor Cilliers sy humeur tydens ’n ondervraging. Hy kom half orent. “Jy sal boet, Mijnhard! Ons sal soek tót ons bewyse teen jou kry …”
“Ek is onskuldig,” sê Mijnhard. Cilliers gil harder: “Jy is skuldig en jy weet dit! Ons het net omstandigheidsgetuienis, maar die aanklaers sal alles in hul vermoë doen om jou tronk toe te stuur! Ek hoop die regter vertolk ‘bo redelike twyfel’ anders as ek.” Hy storm by die ondervragingskamer uit. In sy kantoor sukkel hy om asem te kry. Daar is ’n steekpyn in sy bors. Hy voel in sy baadjiesak vir sy pilletjies, sit een onder sy tong. Die man is skuldig, dink hy weer. Hy kon dit in sy oë sien. Hy weet nie of daar genoeg getuienis is om hom te arresteer nie, maar wie anders kon die Mijnhards vermoor het? As hulle net die bleddie koeël gehad het …
Junior is steeds oortuig die Mijnhards is deur inbrekers vermoor. Hy het op nóg ’n onlangse saak afgekom: Die inbrekers se modus operandi was dieselfde as met die Mijnhard-inbraak, maar dié keer was niemand tuis nie en niemand is geskiet nie. Hy ry weer na die Mijnhard-woning. Dalk het hulle iets misgekyk. Die koeël – as hulle net die koeël kan kry! Hy fynkam die vertrek waar Elsa Mijnhard geskiet is, skuif meubels weg, maak seker die koeël het nie in ’n meubelstuk vasgeslaan nie; kyk oral waar hulle al honderde kere tevore gekyk het. Niks. Hy sug en loop by die huis uit. Toe hy oor die grasperk na die voorhekkie toe stap, trap hy die koeël, bruin gevlek met gestolde bloed, dieper in die gras weg.